Vraag
Op watter maniere kan ek in die kerk dien?
Antwoord
Volgens die Bybel het elke Christen ten minste een geestelike gawe om mee te dien in die liggaam van Christus. “As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen” (1 Pet 4:10-11; vgl Ef 4:11-16). Dus is dit ‘n belangrike stap om te bepaal hoe ons in die kerk kan dien en so ontdek wat ons geestelike gawes is. Natuurlik hoef ons nie te weet wat ons gawe is, voordat ons begin betrokke raak in die kerk nie. Soms ontdek ons in die proses van diens wat ons gawes is. Die geestelike gawes is in Rom 12:6-8 en in 1 Kor 12:4-11,28 gelys.
Daar is ‘n verskil tussen die Liggaam van Christus universeel (1 Kor 12:12-13) en die plaaslike kerk wat Christene bywoon vir korporatiewe aanbidding (Hebr 10:25). Maar daar is geen verskil in hoe Christene hul geestelike gawes behoort te gebruik nie, omdat om God te dien, ‘n vier en twintig uur-lange proses is, nie slegs ‘n Sondag-uitstappie nie. Alle Christene oral moet God dien in hul plaaslike kerke en ook uitkyk vir geleenthede om te dien buitekant die mure van die kerkgebou (2 Kor 9:12-13). Dit kan moeilik wees om te ontdek watter geestelike gawe(s) God uitgestort het, maar dit is beter om iewers te dien, as nêrens nie (Rom 12:11). Dikwels kom die ontdekking van gawes duideliker deur te dien in verskeie take, dan leer ons waarin ons goed is en waarvoor ons ‘n hart het (1 Kronieke 28:9).
Daar is altyd meer behoeftes as gewillige werkers; in Christus se tyd was dit ook waar en vandag nog (Matt 9:37). Dit is nooit ‘n probleem om ‘n behoefte in die plaaslike kerk te vind nie. Van evangelisering in die gemeenskap (wat alle Christene voor geroepe is om te doen, Hand 1:8) tot om die badkamers skoon te maak, daar is altyd klompe take om te verrig. Dit is goed om navraag te doen by die kerkleiers betreffende die behoeftes. Gesels met die pastoor en ouderlinge en of daar take is wat jou sal pas of nie.
Hier is ‘n paar voorbeelde van diens in die plaaslike gemeentes:
Sondagskool- en Bybelstudie-onderwysers (gekontroleer vooraf)
Kinder- en Jeugleiers
Administrasiepersoneel
Sekretarisse
Opsigters en onderhoudswerkers om die gebou en gronde te versorg Transporteerders vir kinders of ander wat nie self kan bestuur nie Uitreikwerkers Plekaanwysers en verwelkomers
Koorlede en soliste
Musikante
Musiekdirigente en sangleiers, ens.
Klankhanteerders en video-tegnici
Webblad-hanteerders en sosiale media-koördineerders
Tesouriere en rekenmeesters Kombuiswerkers
Kinderversorging
Elke lidmaat van die kerk moet op een of ander wyse diensbaar wees en elke dienaar van die Here moet onthou dat dit oor meer gaan as om slegs ander te dien; dit is om liefde te betoon: “dien mekaar in liefde” (Gal 5:13). Diens in die kerk kan baie vorme aanneem: die oppas van ‘n baba, sodat die jong paartjie kan uitgaan, maaltye vir families wat siekte ondervind, besoeke aan ouer persone of huisgebonde weduwees of deur te bel en net te sê, “Ek dink vandag aan jou.” Christene kan hulself betrokke maak in bogenoemde take, maar eindelose taakverrigting sonder liefde, is betekenisloos (1 Kor 13:1-3). Wanneer ons gaan om God en ander te dien, laat ons dit doen met ‘n gees van nederigheid en broederlike liefde (Fil 2:1-4).
English
Op watter maniere kan ek in die kerk dien?