settings icon
share icon
Vraag

Wie ‘speel’ regtig God – die dokter wat ‘n sterwende persoon doodmaak of die dokter wat die lewe van ‘n terminale siek persoon verleng?

Antwoord


Hierdie vraag bring sommige van die verborge oorwegings na die oppervlak, insluitende die einde-van-lewe besluitneming. Die primêre oorweging vir baie mense is of lewe “betekenis” kan hê, bo en behalwe sekere drumpels van lyding of die verlies van lewensfunksies. Een probleem in die evaluering van hierdie “betekenis,” is die dikwels subjektiewe aard van die besluitnemingsproses.

‘n Dieper oorweging is die wil van God, die Gewer van lewe en die Gewer van wysheid – wysheid wat ten seerste benodig word ten tye van lyding (Ps 27:11; 90:12). Dit is God wat doel en betekenis aan die lewe gee, tot by die punt van sterwe. Lewe is ‘n geskenk van God en moet bewaar word. God Self is soewerein oor die tyd en wyse van ons sterwe. ‘n Dokter wat ‘n lewensreddende behandeling toepas, “speel” nie God nie; hy eer die gawe van God.

Die botsende waardes in die einde-van-lewe besluitneming rus op twee uiterstes. Aan die een end van die spektrum staan hulle wat genadedood promoveer: om te ly, is boos en moet daarom geёlimineer word – die persoon wat ly, dood te maak, indien nodig. Aan die ander kant staan hulle wat lewe sien as heilig en ten alle koste verleng moet word, deur enige tegnologie beskikbaar, te gebruik.

Die probleem met die eerste siening, ten spyte van die feit dat genadedood moord is, is dat die Skrif nêrens ons aanspoor om lyding ten alle koste te vermy nie. Daarteenoor word gelowiges geroep om soos Christus te ly, om sodoende Sy regverdige en verlossende doel in ons te vervul (1 Pet 2:20-25; 3:8-18; 4:12-19). Dikwels is dit slegs nadat iemand ontnugter is deur beduidende lyding en verlies, dat hy opname maak van wat werklik betekenisvol is en dan kan vordering maak deur God se doelwitte na te jaag.

Die inherente komplikasie in die ander siening is die definisie van “lewe.” Wanneer eindig lewe werklik? Die klassieke illustrasie is die sogenaamde volhardende vegetatiewe toestand waarin ‘n persoon vir baie jare kan lewe deur eenvoudig gevoer en gehidrateer te word. Baie veronderstel dat sulke pasiёnte geen kognitiewe waarneming het nie en daarom hoegenaamd geen “lewe” nie. Neuroloё meet pasiёnte se response aan sekere neurologiese stimuli om sodoende die besluitnemers op hoogte te hou. Daar is egter ander wat glo dat, indien ‘n persoon in hierdie toestand ‘n hartklop het, dan is daar hoop en lewe moet behou word, selfs al is dit deur middel van masjiene.

Die beste antwoord lê waarskynlik tussen hierdie twee sienings. Die Christen sal probeer om lewe te behou, maar daar is ‘n verskil tussen lewe behou en dood uitstel. Om kunsmatig ‘n skyn van lewensfunksies aan die gang te hou, omdat iemand dit emosioneel te moeilik vind om toe te laat dat ‘n geliefde sterwe, sou inderdaad wees om “God te speel.” Die dood kom op die “bepaalde” tyd (Hebr 9:27). Wanneer ‘n pasiёnt se liggaam begin ingee, wanneer mediese ingryping nie sal genees, maar slegs die natuurlike proses van sterf verleng, om dan die masjiene af te skakel en toe te laat dat die persoon sterf, is nie immoreel nie. Dit vra vir wysheid. Alternatiewelik, om die dood aktief te bespoedig, is verkeerd. Dit sou wees om “God te speel.” Passiewe terughouding van lewensreddende behandeling mag ook verkeerd wees.Maar om toe te laat dat lewe sy gang gaan, deur palliatiewe sorg toe te pas en ‘n persoon toe te laat om in God se tyd te sterf, is nie verkeerd nie.

Gegewe hierdie oorwegings, bestaan ‘n duidelike en teenswoordige gevaar om “God te speel” in beide uiterstes: om lyding ten alle koste te elimineer en elke moontlike terapie ten alle koste aan te wend. Liewer as om God te speel, laat God God wees. Die Skrif leer ons om op God te vertrou vir wysheid (Jak 1:5) en om te oorweeg wat sin maak, terwyl daar nog lewe is (Prediker 12).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie ‘speel’ regtig God – die dokter wat ‘n sterwende persoon doodmaak of die dokter wat die lewe van ‘n terminale siek persoon verleng?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries