Vraag
Wat is natuurlike teologie?
Antwoord
Natuurlike teologie is die studie van God gebaseer op die waarneming van die natuur, in teenstelling met “bonatuurlike” of geopenbaarde teologie, wat gebaseer is op spesiale openbaring. Aangesien die waarneming van die natuur ‘n intellektuele strewe is, sluit natuurlike teologie menslike filosofie en beredenering in as wyses om God te ken.
Deur die ondersoek van die struktuur en funksie van ‘n “leeubekkie”- blom, kan ek redelikerwys aflei dat die God wat die leeubekkie geskep het, magtig en wys is – dit is natuurlike teologie. Deur die konteks en betekenis van Joh 3:16 te ondersoek, kan ek redelikerwys die gevolgtrekking maak dat God liefdevol en vrygewig is – dit is geopenbaarde teologie.
Die verdeling van teologie in “natuurlike” en “geopenbaarde” het sy wortels in die geskrifte van die Katolieke teoloog, Thomas Aquinas (1224-1274 AD). In ‘n poging om Aristoteliaanse logika toe te pas op die Christelike geloof, het Aquinas die mens se vermoё beklemtoon om sekere waarhede oor God te begryp, van slegs uit die natuur. Aquinas het egter volgehou dat menslike rede steeds sekondêr aan God se openbaring was, soos deur die kerk geleer. Aquinas was versigtig om te onderskei wat deur “natuurlike rede” geleer kon word vanuit doktrinale beginsels, deur die waarhede van die natuur te noem, “preambles to the articles (of faith)” (Summa Theologica, First Part, Question 2, Article 2). Dit beteken dat rede kan tot geloof lei, maar dit kan nie geloof vervang nie.
Later het teoloё Aquinas se opvatting geneem en dit uitgebrei. Ander skrywers wat natuurlike teologie beklemtoon het, was Samuel Clarke, William Paley en Immanuel Kant. Oor die jare was die bonatuurlike afgemaak soos die Christendom meer en meer gedegradeer is na ‘n “rasionele” filosofie.
Die deïste het suiwer op natuurlike teologie staatgemaak vir hul kennis aangaande God, tot die totale uitsluiting van spesiale openbaring. Vir die deïs, is God ondeurgrondelik, behalwe deur die natuur en die Bybel is onnodig. Dit is waarom Thomas Jefferson, ‘n deïs, letterlik al die weergawes van wonderwerke uit sy Bybel gesny het – Jefferson wou slegs ‘n natuurlike teologie hê.
Die Romantiese digters, as ‘n geheel, was voorstanders van natuurlike teologie. Alhoewel hulle die mens se emosie bo sy intellek gestel het, was hulle voortdurend besig om die reinheid en voortreflikheid van die natuur te verheerlik. Een baie duidelike aanbieding van natuurlike teologie is William Wordsworth se beroemde gedig “The Rainbow,” wat met die volgende eindig: “And I could wish my days to be / Bound each to each by natural piety.” Wordsworth wens uitdruklik vir ‘n “natuurlike” (versus ‘n “bonatuurlike”) vroomheid. Sy geestelikheid is gewortel in die natuurlike wêreld; die vreugde wat hy voel in die skouspel van ‘n reёnboog, is vir hom die juiste aanbidding van God. Hulle wat vandag sê, “Ek voel nader aan God tydens ‘n wandeling deur die woud, as wat ek voel in die kerk” gee uitdrukking aan Wordsworh se stempel van natuurlike teologie.
‘n Oordrewe klemplasing op natuurlike teologie het selfs panteïsme geakkommodeer. Sommige het verder gegaan as die opvatting dat die natuur ‘n uitdrukking van God is, na die opvatting dat die natuur ‘n verlengstuk van God is. Aangesien die logika lui dat ons deel van die natuur is, dan is ons almal ‘n klein deeltjie van God en kan ons Hom dus ken.
In moderne tye kan “natuurlike teologie” ook verwys na die poging om menslike kennis van elke area van die wetenskap te sintetiseer, godsdiens, geskiedenis en die kunste. Die nuwe natuurlike teologie volg ‘n voortreflike “omvattende realiteit” waarin die mensdom bestaan, maar die fokus is menslikheid, nie God nie; gevolglik is dit werklik ‘n ander vorm van humanisme.
Hier is 4 bybelse punte rakende natuurlike teologie:
Die Bybel leer dat ‘n basiese begrip van God verkry kan word vanuit die natuurlike wêreld; spesifiek kan ons in Rom 1:20 lees “uit die werke van God duidelik aflei dat Sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is.” Ons noem dit “algemene openbaring” (sien ook Ps 19:1-3).
Die konteks van Rom 1 dui aan dat so ‘n basiese begrip van God se bestaan en mag nie genoeg is om iemand na verlossing te lei nie. Trouens, die heiden se inherente kennis van God (deur die natuur) is verdraai en sodoende lei dit tot oordeel, eerder as verlossing.
Natuurlike teologie kan veroorsaak dat iemand teoretiseer dat God onsigbaar, almagtig en wys is, maar al hierdie is abstrakte kenmerke van ‘n naamlose “Opperste Wese.” Natuurlike teologie kan nie die liefde, genade of oordeel van God leer nie en dit is waardeloos om enigeen tot reddende geloof in Jesus Christus te bring. Rom 10:14, “En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?”
Die val van die mens het die hele persoon aangetas, insluitende die intellek. Om staat te maak op natuurlike teologie veronderstel dat menslike rede nie deur oorspronklike sonde besmet is nie, tog praat die Skrif van die “verdraaide opvattings” (Rom 1:28), die “sondige natuur” (Rom 8:7), “verstandelik verward” (1 Tim 6:5), “hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak (2 Kor 3:14), “die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is” (2 Kor 4:4) en die belangrikheid om die denke te vernuwe (Rom 12:2).
Natuurlike teologie is bruikbaar in so verre God die wêreld geskep het en die wêreld verwys steeds na Hom as Skepper. Gegewe die gevalle toestand van ons intellek egter, kan ons nie behoorlik daardie interpreteer nie, selfs nie sonder God se spesiale openbaring nie. Ons benodig God se genadige ingryping om ons weg terug te vind na Hom toe. Wat ons meer nodig het as enigiets anders is geloof in die Bybel en in Jesus Christus (2 Pet 1:19).
English
Wat is natuurlike teologie?