settings icon
share icon
Vraag

Wat is die verskillende name en titels van die Bybel?

Antwoord


Daar is meer as 'n dosyn name en titels van die Bybel gevind in beide die Ou en Nuwe Testamente. Die volgende is 'n lys van die meesbekende:

Wetboek (Deut 31:26) — "Vat hierdie wetboek en sit dit langs die Verbondsark van die Here julle God. Dit moet daar bly om teen julle te getuig." Die Bybel is beskryf as die wetboek, wette wat nie bedoel is om van ons slawe te maak of ons verhouding met God te onderdruk nie, maar wette wat bedoel is om ons kennis oor God se regverdigheid te vermeerder en ons na Christus te lei.

Evangelie (Rom 1:16) — "Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo…" Die Bybel openbaar die evangelie aan ons, die goeie nuus aangaande die Here Jesus Christus. Deur God se Seun is ons sondes vergewe en is verlossing vir ons gebring.

Heilige Skrif (Rom 1:2) — "Hierdie evangelie het Hy vooruit deur Sy profete in die Heilige Skrif aangekondig." Die Bybel is 'n samevatting van gewyde geskrifte wat heilig en gesaghebbend is, omdat hulle deur God geïnspireer is.

Wet van die Here (Ps 19:8) — "Die woord van die Here is volmaak; dit gee lewe; die onderwysing van die Here is betroubaar; dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is." Die wette van die Bybel moenie verwar word met enige ander nie; hulle is die Here se gebooie en die Here s'n alleen, nie die onsamehangendheid van die mens nie.

Lewende Woorde (Hand 7:38) — "Dit is Hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het, hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel." Die Bybel is 'n lewende boek; elke boek, hoofstuk en vers is lewendig met die kennis en wysheid van God Self.

Boodskap van Christus (Kol 3:16) — "Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing." Die boodskap van Christus is die boodskap van verlossing uit sonde, deur die enigste Een wat dit kon verkry.

Skrif (2 Tim 3:16) — "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek." Geïnspireer deur God, is die Bybel 'n versameling van geskrifte soos geen ander nie. Dit is die enigste boek, geskryf deur mense wat deur die Gees van God beweeg of meegevoer is (2 Pet 1:21).

Die Boekrol (Ps 40:8) — "Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is." Waar hier van Jesus geprofeteer word, word na die Bybel verwys as 'n boekrol, 'n perkamentrol wat gedokumenteer is met onskatbare kennis wat van geslag tot geslag oorvertel moet word.

Swaard van die Gees (Ef 6:17) — "….vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God." Soos 'n swaard, kan die Bybel enige aanval afweer en deurboor met die waarheid van God. Die skrywer aan die Hebreërs sê die Bybel is skerper as enige "swaard met twee snykante", aangesien dit by magte is om deur te dring "selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart" (Heb 4:12).

Waarheid (Joh 17:17) — "Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid." Aangesien die Bybel die Woord van God is, is dit die waarheid. Elke woord is van die verstand van God afkomstig. Omdat Hy Waarheid is, is Sy Woord ook waar.

Woord van God (Luk 11:28) — "Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou." Die Bybel is soos die mondstuk van God, want deur elke boek praat Hy direk met ons.

Lewenswoord (Fil 2:15-16) — "Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra." Die Bybel openbaar aan ons die verskil tussen lewe en dood — die ewige lewe wat voor hulle lê, wat Jesus Christus as hul Verlosser aangeneem het en die ewige dood vir hulle wat Hom nie aangeneem het nie.

Woorde van die Here (Ps 12:7) — "Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is." Die woorde van die Bybel is volmaak en sonder onsuiwerhede, omdat hulle die woorde van die Here is, gespreek deur profete en apostels om God se liefde en heerlikheid te openbaar.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die verskillende name en titels van die Bybel?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries