settings icon
share icon
Vraag

Wat is die name en titels van die Heilige Gees?

Antwoord


Die Heilige Gees word geken deur baie name en titels, waarvan die meeste 'n sekere funksie of aspek van Sy bediening aanwys. Hier volg sommige van die name en beskrywings van die Bybel ten opsigte van die Heilige Gees:

Outeur van die Skrif: (2 Pet 1:21; 2 Tim 3:16) Die Bybel is geïnspireer, letterlik "God-breathed," deur die Heilige Gees, die derde Persoon van die Drie-eenheid. Die Gees het die skrywers van al 66 boeke beweeg om presies wat Hy in hul harte en verstand "uitgeasem" het, te skrywe. Soos 'n skip op die water deur die wind in sy seile beweeg word, so is die Bybelse skrywers gevoer deur die Gees se impulse.

Trooster/Raadgewer/Voorspraak: (Jes 11:2; Joh 14:16; 15:26: 16:7) Al drie woorde is vertalingsvorme van die Griekse "parakletos", vanwaar ons "Paraclete" kry, 'n ander naam vir die Gees. Toe Jesus weggegaan het, was Sy dissipels baie ontsteld, omdat hulle Sy vertroostende teenwoordigheid verloor het. Hy het egter beloof om Sy Gees te stuur om diegene wat aan Christus behoort, te vertroos, te bemoedig en te lei. Die Gees getuig ook saam met ons gees dat ons aan Hom behoort en sodoende word ons van redding verseker.

Oortuig ons van Sonde: (Joh 16:7-11) Die Gees herinner die mens aan God se waarhede, om hulle sodoende te oortuig deur middel van 'n regverdige en genoegsame argument, dat hul sondaars is. Hy doen dit deur die oortuiging van ons harte dat ons nie waardig is om voor 'n heilige God te staan nie, dat ons Sy regverdigheid nodig het en dat oordeel 'n sekerheid is en eendag vir almal sal kom. Diegene wat hierdie waarhede ontken, rebelleer teen die oortuiging van die Gees.

Deposito/Seël/Erns: (2 Kor1:22; 5:5; Ef 1:13-14). Die Heilige Gees is God se seël op Sy mense, Sy aanspraak op ons as Sy ware eiendom. Die gawe van die Gees aan gelowiges is 'n afbetaling op ons hemelse erfenis, wat Christus vir ons belowe het en aan die kruis gewaarborg het. Dit is omdat die Gees Sy seël op ons geplaas het, dat ons verseker kan wees van ons verlossing. Niemand kan die seël van God breek nie.

Leidsman: (Joh 16:13). Netsoos die Gees die skrywers van die Bybel gelei het om die waarheid op skrif te stel, so beloof Hy om die gelowiges te lei om die waarheid te ken en te verstaan. God se waarheid is "onsin" vir die wêreld, omdat dit "geestelik beoordeel" moet word (1 Kor 2:14). Hulle wat aan Christus behoort, het die inwonende Gees wat ons lei in alles wat ons moet weet ten opsigte van geestelike dinge. Hulle wat nie aan Christus behoort nie, het geen "tolk" om hulle te lei om God se Woord te ken en te verstaan nie.

Inwoner van Gelowiges: (Rom 8:9-11; Ef 2:21-22; 1 Kor 6:19). Die Heilige Gees woon in die harte van God se mense en daardie inwoning is die onderskeidende karaktereienskap van die nuutgemaakte persoon. Vanuit gelowiges wys Hy die rigting aan, vertroos, lei en beïnvloed Hy, sowel as om in ons die vrug van die Gees te produseer (Gal 5:22-23). Hy voorsien die intieme band tussen God en Sy kinders. Alle ware gelowiges in Christus het die inwonende Gees in hulle harte.

Intersessor: (Rom 8:26). Een van die mees bemoedigende en vertroostende aspekte van die Heilige Gees is Sy bediening van intersessie namens diegene in wie Hy woon. Aangesien ons soms nie weet wat of hoe om te bid wanneer ons tot God nader nie, tree die Gees vir ons in en bid vir ons. Hy interpreteer ons "versugtinge," sodat wanneer ons oorweldig en onderdruk is deur beproewinge en die sorge van die lewe, kom Hy langs ons staan om tot hulp te wees, waar Hy ons ondersteun voor die genadetroon.

Openbaarder/Gees van Waarheid: (Joh 14:17; 16:13; 1 Kor 2:12-16). Jesus het belowe dat, na die opstanding, die Heilige Gees sou kom en "sal Hy julle in die hele waarheid lei." As gevolg van die Gees in ons harte, is ons by magte om die waarheid te verstaan, veral in die geval van geestelike dinge, op 'n manier soos ongelowiges nie kan nie. Die feit is dat die waarheid wat die Gees aan ons openbaar, "onsin" is vir hulle en hulle kan dit nie verstaan nie. Ons het egter die Gees van Christus in die Persoon van Sy Gees in ons.

Gees van God/die Here/Christus: (Matt 3:16; 2 Kor 3:17; 1 Pet 1:11). Hierdie name herinner ons dat die Gees van God inderdaad deel vorm van die Drie-eenheid en dat Hy net soveel God as die Vader en die Seun is. Hy is vir die eerste keer aan ons geopenbaar met die Skepping, toe Hy "oor die waters gesweef" het en Sy aandeel in die Skepping te kenne gegee het, saam met Jesus deur Wie "alles tot stand gekom" het (Joh 1:1-3). Ons sien dieselfde Drie-eenheid van God weer toe Jesus gedoop is, toe die Gees op Jesus gekom het en die stem van die Vader gehoor is.

Gees van Lewe: (Rom 8:2). Die frase "Gees wat lewe gee" beteken dat die Heilige Gees die Een is wat voortbring of lewe gee, nie dat Hy verlossing opwek nie, maar eerder dat Hy nuwe lewe meebring. Wanneer ons die ewige lewe deur Christus ontvang, voorsien die Gees die geestelike voedsel, wat die lewensonderhoud van die geestelike lewe is. Hier sien ons weer die Drie-eenheid van God wat werk: Ons is gered deur die Vader, deur die werk van die Seun en dat verlossing deur die Heilige Gees onderhou word.

Leermeester: (Joh 14:26; 1 Kor 2:13). Jesus het belowe dat die Gees Sy dissipels alles sal leer en hulle sal herinner aan die dinge wat Hy gesê het, terwyl Hy by hulle was. Die skrywers van die Nuwe Testament is deur die Gees beweeg om die opdragte te onthou en te verstaan, wat Jesus gegee het vir die bou en organisering van die Kerk, die leringe aangaande Homself, die aanwysings om heilig te lewe en die openbaring van die dinge wat kom.

Getuie: (Rom 8:16; Heb 2:4; 10:15). Die Gees word "Getuie" genoem, omdat Hy bevestig en getuig dat ons kinders van God is, dat Jesus en die dissipels wat wonderwerke gedoen het, deur God gestuur is en dat die Bybelboeke goddelik geïnspireer is. Verderaan, deur die gawes van die Gees aan gelowiges te gee, getuig Hy teenoor ons en die wêreld dat ons aan God behoort.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die name en titels van die Heilige Gees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries