settings icon
share icon
Vraag

Is ons veronderstel om musiekinstrumente in die kerk te gebruik?

Antwoord


In al die voorbeelde van gelowige byeenkomste vir aanbidding in die Nuwe Testament, het ons geen duidelike bewys van musiekinstrumente wat gebruik is nie. Die meeste kerke van vandag maak gebruik van alle soorte instrumente, terwyl sommige glad niks gebruik nie. Die tekort aan 'n Bybelse voorbeeld wat dit aanbetref, het daartoe gelei dat geglo word dat musiekinstrumente nie in die kerk hoort nie , maar dat sang wel daarsónder plaasvind.

Aangesien die kerk 'n Nuwe Testamentiese konsep is, moet ons kyk na die gebruik van musiekinstrumente deur God se mense in die Ou Testament. Dit was definitief gebruik tydens aanbidding in die Ou Testament. Hierdie gebruik was selfs 'n opdrag in sommige gedeeltes: "Sing, en slaan die tamboeryn, laat hoor die lieflike klanke van die lier en die harp" (Ps 81:3; 98:5; 150:4). Verskeie Psalms was veronderstel om met snaarinstrumente gespeel te word (bv. Ps 4:1; 55:1; 67:1; 76:1), sowel as die lied van Habakuk (Hab 3:19). Instrumentale musikale deelname was 'n algemene deel van aanbidding. Dawid het die Levitiese leiers bevel om "hulle ampsgenote, die sangers, te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale" (1 Kron 15:16); daar was vierduisend Leviete opsy gesit om musiek te speel (1 Kron 23:5).

Christene wat glo dat musiekinstrumente nie in die kerk gebruik moet word nie, erken die Ou Testamentiese gebruik, maar hulle voer aan dat die Ou Testamentiese voorbeelde nie te make het met Nuwe Testamentiese kerkpraktyke nie. Hulle beweer dat onder die Nuwe Verbond die gelowiges se "instrument" die menslike stem is. Netsoos die Ou Testamentiese tempel plek gemaak het vir die "lewende tempel" van die menslike liggaam (1 Kor 6:19), so het die ou 'meganiese" instrumente van tempelmusiek plek gemaak vir die "lewende" geesvervulde instrument van die menslike stem.

Dus, is dit so dat kerke wat musiekinstrumente gebruik, buite die wil van God optree? Om dit te beantwoord, moet ons 'n paar belangrike dinge onthou: eerstens moet ons gids vir kerkpraktyk gebaseer wees op die Skrif, nie kerktradisie nie, nie kerkvaders se geskrifte nie en nie moderne kultuur nie.

Tweedens moet ons volgens 'n direkte lering uit die Skrif genade en verdraagsaamheid beoefen. Daar mag wel geen voorbeeld wees van 'n Nuwe Testamentiese kerk wat musiekinstrumente gebruik nie, maar terselfdertyd, nêrens veroordeel die Nuwe Testament musiekinstrumente in die kerk nie. Dit is natuurlik om na vore te kom met reëls wat nie in die Bybel voorkom nie, maar ons moet baie stadig wees om te vereis wat die Skrif nie vereis nie of verbied wat die Skrif nie verbied nie.

Derdens, die feit dat daar geen voorbeeld in die Skrif is van 'n kerk wat musiekinstrumente gebruik nie, impliseer nie 'n opdrag om nie musiekinstrumente te mag hê nie. Argumente van stilte is alombekend gebrekkig. Deur te sê dat die Nuwe Testament nie goedkeur dat die kerk meganiese instrumente vir musiek mag gebruik nie, is nie dieselfde as om te sê dat dit verkeerd is nie. Die Nuwe Testament gee ook nie die kerk die reg om offers op te neem of gekleurde glasvensters te installeer nie, tog is daar min wat sê dat dit "verkeerd" is. 'n Tekort aan direkte skriftuurlike "goedkeuring" van 'n sekere praktyk is nie outomaties 'n verbod nie.

In kort verbied of beveel die Bybel nie die gebruik van musiekinstrumente in die kerk nie. 'n Kerk het vryheid om dit te gebruik by aanbidding of nie. Wat ookal 'n kerk besluit in verband daarmee, moet ander kerke dit aanvaar, dat dit daardie kerk se manier van lofprysing is. Met of sonder musiekinstrumente, ons moet alles doen "tot eer van God" (1 Kor 10:31).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is ons veronderstel om musiekinstrumente in die kerk te gebruik?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries