settings icon
share icon
Vraag

Kan monoteïsme bewys word?

Antwoord


Die woord “monoteïsme” is ‘n samestelling van twee woorde, “mono” wat “een” beteken en “teïsme” wat “geloof in God” beteken. Meer spesifiek, monoteïsme is die geloof in een ware God wat die enigste Skepper, Onderhouer, en Regter is oor die hele skepping. Monoteïsme verskil van “henoteïsme,” wat die geloof in baie gode is met een hoofgod oor almal. Dit is ook teenstrydig met politeïsme, wat glo in die bestaan van meer as een god.

Daar is baie argumente vir monoteïsme, insluitende die spesiale openbaringmakinge (uit die Skrif), vanselfsprekende openbaarmaking (filosofie), sowel as historiese antropologie. Hierdie paar word slegs kortliks hieronder beskryf, en moet geensins gesien word as ‘n volledige lys nie.

Bybelse argumente vir monoteïsme - Deuteronomium 4:35: “Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.” Deuteronomium 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” Maleagi 2:10a, “Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie?” 1 Korinthiërs 8:6: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” Efesiërs 4:6: “Een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” 1 Timotheus 2:5: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.” Jakobus 2:19: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”

Vanselfsprekend sal dit vir baie mense nie voldoende wees om eenvoudig te sê daar is net een God omdat die Bybel so sê nie. Dit is so omdat sonder God daar geen manier is om te bewys dat die Bybel ten eerste Sy Woord is nie. Maar, mens kan argumenteer dat aangesien die Bybel die mees betroubare bonatuurlike bewyse bevat wat bevestig wat dit ons leer, kan monoteïsme op grond hiervan aanvaar word. ‘n Soortgelyke argument is die geloof en leringe van Jesus Christus, wat bewys het dat Hy God is (of ten minste deur God bekragtig is) deur Sy wonderbaarlike geboorte, lewe, en die wonderwerk van Sy opstanding. God kan nie lieg of mislei word nie; derhalwe, wat Jesus geglo en geleer het is die waarheid. Daarom is monoteïsme waaraan Jesus geglo het en wat Hy geleer het, die waarheid. Hierdie argument mag miskien nie baie indrukwekkend wees vir diegene wat nie bekend is met die omstandighede van die bonatuurlike dade in die Skrif en deur Christus nie, maar dit is ‘n goeie beginpunt vir iemand wat bekend is met die krag daarvan.

Historiese argumente ten gunste van monoteïsme - argumente gebaseer op gewildheid is dikwels verdag, maar dit is interessant in welke mate monoteïsme wêreldgodsdienste beïnvloed het. Die gewilde evolusionêre teorie oor godsdienstige ontwikkeling spruit voort uit ‘n evolusionêre siening van die realiteit in die algemeen, en die veronderstelling van evolusionêre antropologie wat “primitiewe” kulture sien as verteenwoordigend van die vroeë stadiums van godsdienstige ontwikkeling. Maar daar is verskeie probleme met hierdie evolusionêre teorie. 1) Die tipe ontwikkeling wat beskryf word was nog nie waargeneem nie; in werklikheid blyk daar geen opwaartse ontwikkeling na monoteïsme in enige kultuur te wees nie—die teendeel blyk eerder waar te wees. 2) Die antropologiese metode se definisie van “primitief” ewenaar die tegnologiese ontwikkeling, maar dit is skaars ‘n bevredigende kriterium aangesien daar soveel verskillende fasette is aan ‘n gegewe kultuur. 3) Die beweerde stadiums ontbreek dikwels of word oorgeslaan. 4) Laastens, die meeste politeïstiese kulture vertoon oorblyfsels van monoteïsme in hulle vroeë ontwikkeling.

Wat ons vind is ‘n monoteïstiese God wat persoonlik is, manlik, in die hemel bly, oor groot wysheid en krag beskik, die wêreld geskep het, die skepper is van ‘n sedeleer waaraan ons almal aanspreeklik is, en aan wie ons ongehoorsaam was en dus vervreemd is, maar wie ook vir ons ‘n weg na versoening voorsien het. Feitlik elke godsdiens het ‘n variasie van hierdie God êrens in hulle verlede voordat hulle in die chaos van politeïsme verval het. Dus wil dit voorkom asof die meeste godsdienste in monoteïsme begin het en “gedevolueer” het na politeïsme, animisme, en towerkuns—nie andersom nie. (Islam is ‘n baie seldsame verskynsel, deurdat hulle die volle sirkel voltooi het tot terug by ‘n monoteïstiese geloof.) Selfs in hierdie beweging is politeïsme dikwels funksioneel monoteïsties of henoteïsties. Dit is ‘n rare politeïstiese godsdiens wat nie een van sy gode as soewerein oor die ander beskou nie, waar die mindere gode slegs as tussengangers funksioneer.

Filosofiese/Teologiese argumente vir monoteïsme – daar is baie filosofiese argumente vir die onmoontlikheid dat daar meer as een God bestaan. Baie hiervan steun in ‘n groot mate op ‘n persoon se metafisiese siening omtrent die wese van realiteit. Weens ‘n gebrek aan ruimte is dit ongelukkig nie moontlik om vir hierdie basiese metafisiese sienings te argumenteer, en dan te wys waarheen dit dui met betrekking tot monoteïsme nie, maar wees verseker dat daar sterk filosofiese en teologiese gronde is vir hierdie waarhede wat millennia teruggaan (en die meeste is redelik vanselfsprekend). Hier volg dan kortliks drie argumente wat gekies kan word om verder te ondersoek:

1. As daar meer as een God was, dan so die heelal in wanorde wees vanweë die vele skeppers en owerhede, maar dit is nie in wanorde nie; dus, daar is net een God.

2. Aangesien God ‘n totale volmaakte Wese is, kan daar nie ‘n tweede God wees nie, want hulle sou op ‘n manier van mekaar verskil, en om te verskil van totale volmaaktheid is om minder as volmaak te wees en dus nie God te wees nie.

3. Aangesien God oneindig is in Sy wesenlike bestaan, kan Hy nie ondergeskiktes hê nie (want ondergeskiktes kan nie ‘n staat van oneindigheid bereik nie). As God se bestaan nie deel van Hom is nie (en dit is van alle dinge wat bestaan of nie), dan moet Hy oneindig bestaan. Dus, daar kan nie twee oneindige wesens wees nie, omdat een van die ander sal moet verskil.

Iemand mag dalk wil argumenteer dat baie hiervan nie ‘n laer klas van “gode” uitskakel nie, en dit is goed so. Alhoewel ons weet dat dit nie Bybels waar is nie, is daar teoreties niks mee verkeerd nie. Met ander woorde, God kon ‘n laer klas van “gode” geskep het, maar in hierdie geval het Hy nie. As Hy dit wel gedoen het, sou hierdie “gode” slegs beperkte, geskape wesens gewees het—heel waarskynlik baie soos engele (Psalm 82). Dit benadeel nie die saak vir monoteïsme nie, wat nie sê dat daar nie ander geestelike wesens kan wees nie—slegs dat daar nie meer as een God kan wees nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Kan monoteïsme bewys word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries