Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen in militêre diens?



Vraag: "Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen in militêre diens?"

Antwoord:
Die Bybel bevat baie inligting omtrent militêre diens. Terwyl baie van die Bybel se verwysings na die militêre slegs analogies is, verwys verskeie verse direk na hierdie vraag. Die Bybel sê nie spesifiek of iemand militêre diens moet doen of nie. Terselfdertyd kan Christene gerus wees dat soldate dwarsdeur die Skrif hoog aangeslaan word, en dat militêre diens in ooreenstemming is met ‘n Bybelse wêreldsiening.

Die eerste voorbeeld van militêre diens word in die Ou Testament (Genesis 14) gevind, wanneer Abram se broerskind Lot ontvoer word deur Kedor-Laómer, koning van Elam, en sy bondgenote. Abram kom tot Lot se redding deur 318 geoefende manne uit sy huishouding te laat uittrek en die Elamiete te verslaan. Hier sien ons gewapende magte besig met ‘n edel taak – die redding en beskerming van die onskuldiges.

Laat in sy geskiedenis, het die volk van Israel ‘n staande leër op die been gebring. Die besef dat God die Goddelike Krygsman is en Sy volk sou beskerm ongeag hulle militêre vermoëns, kon ‘n rede gewees het waarom Israel so lank geneem het om ‘n leër te ontwikkel. Die tot standkoming van ‘n vaste staande leër in Israel het slegs gekom nadat ‘n sterk, gesentraliseerde politieke stelsel deur Saul, Dawid, en Salomo ontwikkel was. Saul was die eerste om ‘n permanente leër te vorm (1 Samuel 13:2; 24:3; 26:2).

Wat Saul begin het, het Dawid voortgesit. Hy het die leër vergroot, huursoldate van ander streke in gebring wat lojaal slegs teenoor hom was (2 Samuel 15:19-22) en die direkte bevel van sy leërmagte oorhandig aan ‘n opperbevelhebber, Joab. Onder Dawid het Israel ook meer aggressief in sy offensiewe militêre beleid geword, deur naburige lande soos Ammon op te neem onder sy beheer (2 Samuel 11:1; 1 Kronieke 20:1-3). Dawid het ook ‘n rotasie stelsel ingestel waar twaalf groepe van 24,000 man een maand per jaar diens gedoen het (1 Kronieke 27). Alhoewel Salomo se bewind vreedsaam was, het hy die leër vergroot deur strydwaens en perderuiters by te voeg (1 Konings 10:26). Die staande leër het voortbestaan (alhoewel dit saam met die koninkryk verdeel was na die dood van Salomo) tot 586 vC, toe Israel (Juda) ophou bestaan het as ‘n politieke eenheid.

In die Nuwe Testament was Jesus verbaas toe ‘n Romeinse hoofman oor honderd Hom genader het. Die hoofman se antwoord aan Jesus het duidelik sy begrip van gesag bewys, sowel as sy geloof in Jesus (Mattheus 8:5-13). Jesus het nie sy loopbaan veroordeel nie. Baie hoofmanne oor honderd genoem in die Nuwe Testament word geloof as Christene, Godvresendes, en manne van goeie inbors (Mattheus 8:5; 27:54; Markus 15:39-45; Lukas 7:2; 23:47; Handelinge 10:1; 21:32; 28:16).

Die plekke en die range mag verander het, maar ons gewapende magte behoort net so waardeer te word soos die hoofmanne oor honderd van die Bybel. Die status van ‘n soldaat was hoogs gerespekteerd. Paulus beskryf byvoorbeeld vir Epafroditus, ‘n mede Christen, as ‘n “medestryder” (Filippense 2:25). Die Bybel gebruik ook militêre terme om te beskryf hoe ons kragtig in die Here kan wees deur ons te klee met die volle wapenrusting van God (Efesiërs 6:10-20), ingeslote die uitrusting van ‘n soldaat – helm, skild en swaard.

Ja, die Bybel spreek militêre diens regstreeks en onregstreeks aan. Die Christen manne en vroue wat hulle land met karakter, waardigheid, en eerbaarheid dien, kan verseker wees dat die burgerlike plig wat hulle nakom, deur ons soewereine God erken en geëer word. Diegene wat eerbaar in die gewapende magte dien, verdien ons respek en erkentlikheid.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen in militêre diens?