settings icon
share icon
Vraag

Wat is menslike natuur? Wat sê die Bybel daaroor?

Antwoord


Menslike natuur is dit wat ons onderskei as menslik. Ons natuur is anders as dié van die diere en die res van die skepping in dit wat ons kan dink en voel. Een van die hoofonderskeidings tussen menslike wesens en die res van die skepping, is ons vermoë om te redeneer. Geen ander skepsel het hierdie vermoë nie en daar is geen twyfel dat hierdie 'n unieke gawe deur God aan ons gegee is nie. Ons verstand stel ons in staat om oor ons eie natuur en die natuur van God te besin en om baat te vind uit kennis van God se wil vir Sy skepping. Geen ander deel van God se skepping het verstandsvermoë nie.

Die Bybel leer dat God menslike wesens na Sy beeld geskep het. Dit beteken dat Hy ons in staat stel om 'n mate van begrip oor Hom en Sy eindelose en komplekse ontwerp te hê. Ons menslike natuur reflekteer sommige van God se karaktereienskappe, alhoewel in 'n beperkte mate. Ons het lief, omdat ons volgens God se beeld geskape is, Hy wat liefde is (1 Joh 4:16). Omdat ons na Sy beeld geskape is, kan ons deernisvol, betroubaar, waarheidliewend, goed, geduldig en regverdig wees. In ons is hierdie eienskappe deur sonde verdraai, wat ook in ons natuur inwoon.

Oorspronklik was die menslike natuur volmaak , omdat dit so deur God geskep is. Die Bybel leer dat menslike wesens "baie goed" deur 'n liefdevolle God geskep is (Gen 1:31), maar dit wat goed was, is deur die sonde van Adam en Eva verdraai. Vervolgens het die hele menslike ras slagoffer geword van die sondige natuur. Die goeie nuus is dat die oomblik as 'n persoon in Christus begin glo, ontvang hy 'n nuwe natuur. 2 Kor 5:17 sê, "Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom." Heiligmaking is die proses waardeur God ons nuwe natuur ontwikkel en ons sodoende die vermoë gee om meer en meer te groei op pad na heiligheid. Dit is 'n proses wat aanhou en baie oorwinings en neerlae beleef, want die nuwe natuur is in geveg met die "tent" (2 Kor 5:4) waarin dit vertoef – die ou mens, die ou natuur, die vlees. Eers wanneer ons in die hemel verheerlik word, sal ons nuwe natuur vrygemaak wees om vir ewig in die teenwoordigheid van God te leef – God na Wie se beeld ons geskape is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is menslike natuur? Wat sê die Bybel daaroor?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries