settings icon
share icon
Vraag

Wat is die menslike gees?

Antwoord


Die menslike gees is die geestelike deel van die mens. Die Bybel sê dat die menslike gees die ware asem van die Almagtige God is en dat dit in die mens ingeblaas is aan die begin van God se skepping: "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het" (Gen 2:7). Dit is die menslike gees wat ons bewus maak van die self en ander belangrike, maar beperkte, "Godgelyke" kwaliteite. Die menslike gees sluit ons intellek, emosies, vrese, passies en kreatiwiteit in. Dit is hierdie gees wat ons voorsien van die unieke vermoë om te redeneer en te verstaan (Job 32:8,18).

Die woorde "gees" en "asem" is vertalings vanuit die Hebreeuse woord "neshamah" en die Griekse woord "pneuma." Die woorde beteken "sterk wind, rukwind (blast) of inspirasie." "Neshamah" is die bron van lewe wat menslikheid lewe gee (Job 33:4). Dit is die ontasbare, onsienlike menslike gees wat die mens se verstandelike en emosionele bestaan beheer. Die apostel Paulus het gesê, "Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens, behalwe die gees van die mens wat in hom is?" (1 Kor 2:11). Met die dood keer die gees terug na God toe, wat dit gegee het (Prediker 12:7; Job 34:14-15; Ps 104:29-30).

Elke menslike wese het 'n gees en dit verskil van die die "gees" of lewe van diere. God het die mens anders gemaak as diere, aangesien Hy ons "as beeld van God" geskep het (Gen 1:26-27). Dus kan die mens dink, voel, liefhê, ontwerp, skep en musiek, humor en kuns geniet. Dit is ook as gevolg van die menslike gees dat ons 'n "vrye wil" het, wat geen ander skepsel op aarde het nie.

Die menslike gees is vernietig met die val. Toe Adam gesondig het, is sy vermoë om met God 'n verhouding te hê, gebreek; hy het nie fisies gesterf daardie dag nie, maar wel geestelik. Sedertdien het die menslike gees die gevolge van die val gedra. Voor die verlossing, word 'n persoon as geestelik "dood" gekenmerk (Ef 2:1-5; Kol 2:13). 'n Verhouding met Christus vernuwe ons gees en vernuwe ons ook dag vir dag (2 Kor 4:16).

Interessant is, dat soos die menslike gees goddelikerwyse in die eerste mens ingeblaas is, so was die Heilige Gees ook in die eerste dissipels ingeblaas in Joh 20:22: "Nadat hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees!" (Joh 20:22; Hand 2:38). Adam was lewendig gemaak deur die asem van God en ons, "nuwe skepsels" in Christus, is geestelik lewendig gemaak deur die "asem van God," die Heilige Gees (2 Kor 5:17; Joh 3:3; Rom 6:4). Saam met ons aanvaarding van Jesus Christus, verbind die Heilige Gees met ons gees op 'n manier wat ons nie kan begryp nie. Die apostel Johannes het gesê, "Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons Sy Gees gegee" (1 Joh 4:13).

As ons die Gees van God toelaat om in ons lewens leiding te neem, getuig hierdie Gees saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom 8:16). As kinders van God word ons nie langer deur ons eie gees gelei nie, maar deur God se Gees wat ons na die ewige lewe lei.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die menslike gees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries