settings icon
share icon
Vraag

Sal meer mense hemel toe gaan of hel toe?

Antwoord


Die vraag of daar meer mense in die hemel of die hel is, word deur Jesus Self in een bondige gedeelte beantwoord: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal en dié wat dit kry, is min” (Matt 7:13-14).

Slegs hulle wat Jesus Christus aangeneem het en wat in Hom glo, het die reg om kinders van God te word (Joh 1:12). Die geskenk van die ewige lewe kom dus net deur Jesus Christus en is vir almal wat glo. Hy het gesê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Dit is nie deur Mohammed, Boedha of ander valse gode wat deur mense gemaak is nie. Dit is nie vir hulle wat ‘n maklike weg hemel toe soek nie, terwyl hulle aanhou om volgens die wêreldse standaarde op aarde te lewe nie. Jesus red net hulle wat volkome in Hom glo as Verlosser (Hand 4:12).

Dus, wat beteken daardie twee hekke in Matt 7:13-14? Hulle is die ingang na twee verskillende “paaie.” Die wye hek lei na die breë pad. Die smal hek lei na die nou pad. Die nou pad is die pad van die regverdiges en die breë pad is vir die onregverdiges. Die breë pad is die maklike een. Dit is aantreklik en ondersteun selfbevrediging. Dit is bandeloos. Dit is inklusief - die wyse van die wêreld, met min reëls, min beperkinge en minder vereistes. Verdraagsaamheid teenoor sonde word verkondig en God se Woord word nie bestudeer en Sy standaarde word nie gevolg. Hierdie weg vereis geen geestelike volwassenheid nie, geen morele karakter, geen ooreenkoms en geen opoffering nie. Dit is die maklike pad deur net die “gang van die wêreld” te volg, “die vors van die onsigbare bose magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is” (Ef 2:2). Dit is die wye pad “wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood” (Spreuke 14:12).

Hulle wat ‘n evangelie van veelomvattendheid verkondig, waar “alle paaie na die hemel lei,” bring ‘n totaal ander boodskap as wat Jesus gepreek het. Die hek van selfgesentreerdheid, selfopname en ‘n trotse heiliger-as-jy- ingesteldheid is die wydste hek van die wêreld wat na die hel toe lei, nie die nou hek wat tot die ewige lewe lei nie. Die meeste mense spandeer hul lewens deur die massas te volg, wat op die breë pad is, en doen wat al die ander doen en glo wat al die ander glo.

Die smal pad is die moeilike pad, die veeleisende weg. Dit is die weg van erkenning dat jy nie jouself kan red nie en van Jesus Christus alleen afhanklik is om jou te red. Dit is die pad van selfverloëning en die kruis. Die feit dat min God se pad vind, impliseer dat dit naarstiglik gesoek moet word. “Julle sal vra na My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra” (Jer 29:13). Die punt is dat niemand in die koninkryk in sal struikel nie of deur die smal hek per ongeluk sal deurgaan nie. Iemand het vir Jesus gevra, “Here, is dié wat gered word, maar min? Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie” (Luk 13:23-24).

Baie sal soek om daardie smal deur binne te gaan, die deur van verlossing, maar “sal dit nie regkry nie.” Hulle is onwillig om Jesus alleen te vertrou. Hulle is onwillig om die prys te betaal. Dit kos te veel vir hulle om die wêreld op te gee. Die weg van Christus is die weg van die kruis en die weg van die kruis is die weg van selfverloëning. Jesus het gesê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit behou” (Luk 9:23-24).

Jesus weet dat baie die wye hek en die breë pad volg, wat na vernietiging en die hel, lei. Na aanleiding daarvan het Hy ook gesê dat net ‘n paar die nou hek sal kies. Volgens Matt 7:13-14 is daar geen twyfel dat meer hel toe sal gaan, as hemel toe nie. Die vraag vir jou is dan, op watter pad is jy?

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Sal meer mense hemel toe gaan of hel toe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries