settings icon
share icon
Vraag

Hoe en aan wie het Jesus ons losprys betaal?

Antwoord


Losprys is iets wat betaal word vir die vrylating van iemand, wat gevange gehou word. Jesus het vir ons die losprys betaal om ons vry te maak van sonde, dood en hel. Regdeur Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium word God se vereistes vir offerandes gevind. In die Ou Testamentiese tye het God die Israeliete opdrag gegee om diere-offers te gebruik as plaasvervangende versoening: dit beteken dat 'n dier se dood die plek inneem van 'n mens se dood, dood is gebruik as straf vir sonde (Rom 6:23). Eksodus 29:36a sê, "Elke dag moet jy 'n bul as sondeoffer offer."

God vereis heiligheid (1 Pet 1:15-16). God se Wet vereis heiligheid. Ons kan nie aan God volkome heiligheid gee as gevolg van die sondes wat ons pleeg nie (Rom 3:23); dus vereis God bevrediging van Sy Wet. Offerandes aan Hom het die vereistes bevredig. Dit is waar Jesus inkom. Heb 9:12-15 sê, "Met Sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en en 'n ewige verlossing tot stand gebring. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang."

Romeine 8:3-4 sê ook, "Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur Sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as 'n offer vir die sonde. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees."

Dit is duidelik dat Jesus die losprys vir ons lewens aan God betaal het. Daardie losprys was Sy eie lewe, die storting van Sy eie bloed as 'n offerande. Te danke aan Sy offerdood, het elke persoon op aarde die geleentheid om daardie geskenk van versoening te aanvaar en deur God vergewe te word. Sonder Sy dood, sou dit nog steeds nodig wees om God se wet te bevredig – deur ons eie dood.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe en aan wie het Jesus ons losprys betaal?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries