settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor hoe om doel in die lewe te vind?

Antwoord


Die Bybel is baie duidelik oor wat ons doel in die lewe behoort te wees. Manne in die Ou en Nuwe Testamente het na die doel van die lewe gesoek en gevind. Salomo, die wyste man wat ooit geleef het, het die nutteloosheid van die lewe raakgesien wanneer dit slegs vir hierdie wêreld geleef word. In die boek Prediker sluit hy af met die volgende opmerking: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou Sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:13-14). Salomo sê dat die lewe alleen gaan oor die verering van God met ons gedagtes en lewenswyse en om op dié manier Sy gebooie te onderhou, omdat ons eendag voor Hom gaan verskyn om geoordeel te word. Deel van ons doel in die lewe is om God te vrees en Hom te gehoorsaam.

‘n Ander deel van ons doel is om die lewe hier op aarde in perspektief te sien. Anders as die wat op hierdie lewe konsentreer, het Koning Dawid vir sy voldoening na die toekoms gekyk. Hy het gesê: “Maar ek sal U aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met U beeld as ek wakker word” (Psalm 17:15). Vir Dawid sou volmaakte voldoening kom op die dag wat hy ontwaak (in die volgende lewe) beide in die aangesig van God (gemeenskap met Hom) en gelyk aan Hom (1 Johannes 3:2).

In Psalm 73 vertel Asaf hoe hy byna afgunstig op die goddeloses was wat skynbaar geen kwellinge gehad het nie en hulle welvaart ten koste van ander vergader het, maar toe neem hy hulle uiteindelike einde in ag. In teenstelling met hulle begeertes, verklaar Asaf in vers 25 wat vir hom saak gemaak het: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” Vir Asaf het ‘n verhouding met God meer saak gemaak as enigiets anders in die lewe. Sonder daardie verhouding, het die lewe geen ware doel nie.

Die apostel Paulus vertel van al sy godsdienstige prestasies voordat hy deur die opgestane Christus gekonfronteer was, en het tot die slotsom gekom dat dit alles drek was wanneer dit met die uitnemendheid om Christus Jesus te ken vergelyk word. In Filippense 3:9-10 sê Paulus dat hy niks meer begeer as om Christus te ken nie “en in Hom gevind te word,” met die geregtigheid wat uit God is deur die geloof, selfs al word hy ook gelykvormig aan Sy lyde en dood. Paulus se doel was om Christus te ken, om geregtigheid deur geloof in Hom te verkry, om in gemeenskap met Hom te leef, selfs al bring dit vervolging mee (2 Timotheus 3:12). Uiteindelik het hy uitgesien na die tyd wanneer hy ook deel kan hê aan die “opstanding uit die dode.”

Ons doel in die lewe is, soos God die mens oorspronklik geskape het, om 1) God te eer en in gemeenskap met Hom te wees, 2) goeie verhoudings met ander te handhaaf, 3) te werk, en 4) oor die aarde te heers. Maar met die mens se sondeval is gemeenskap met God verbreek, verhoudings met ander geforseerd, werk blyk frustrerend te wees, en die mens sukkel om enige skyn van beheer oor die natuur te handhaaf. Slegs deur gemeenskap met God te herstel, deur geloof in Jesus Christus, kan die doel van die lewe herontdek word.

Die doel van die mens is om God vir ewig te eer en te verheerlik. Ons eer God deur Hom te vrees en te gehoorsaam, ons oë te rig op ons toekomstige hemelwoning, en Hom intiem te ken. Ons verheerlik God deur Sy doel vir ons lewens na te streef, wat ons in staat stel om ware en ewige vreugde te ervaar—die oorvloedige lewe wat Hy vir ons bewillig.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor hoe om doel in die lewe te vind?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries