settings icon
share icon
Vraag

Is daar enigiets wat ek kan doen om myself ‘n lang lewe te waarborg?

Antwoord


“Eer jou vader en jou moeder” – dit is die eerste gebod met ‘n belofte – “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Ef 6:3-4). In hierdie gedeelte kwoteer die apostel Paulus vanuit die Tien Gebooie, Eks 20:12 spesifiek: “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Dit verteenwoordig die enigste keer dat God lang lewe verbind met ‘n beloning vir iets wat ons doen. Is hierdie belofte van ‘n lang lewe waar, deur jou ouers te eer? En, indien so, hoekom is die verering van jou ouers so hoog van waarde vir God, dat Hy dit met ‘n lang lewe beloon?

Eerstens, ja, die belofte is waar, maar nie in ‘n universele sin nie. Daar is mense wat hul ouers eer, maar jonk sterwe. En daar is mense wat nie hul ouers eer nie, maar lank lewe. Dus is dit ‘n beginsel wat in die algemeen waar is. As jy jou ouers eer, sal God, in die algemeen gestel, jou beloon met ‘n lang lewe. Hierdie belofte hef nie ander besluite op wat ons maak, wat ‘n impak het op hoe lank ons lewe nie. Byvoorbeeld, indien iemand sy ouers eer, maar dan besluit om selfmoord te pleeg, “negeer” die handeling van selfmoord die beloning van ‘n lang lewe. Dieselfde kan gesê word van hulle wat betrokke is in roekelose en gevaarlike aktiwiteite. God se beloning vir ‘n lang lewe deur jou ouers te eer, maak jou nie wonderbaarlik immuun teen ernstige besering of dood nie.

Die beloning vir ‘n lang lewe deurdat jy jou ouers eer, is weereens ‘n algemene beginsel, nie ‘n universele waarheid nie. God beskou die manier hoe ‘n kind sy/haar ouers behandel só belangrik, dat Hy gewoonlik hulle wat hul ouers eer, beloon met ‘n lang lewe. Salomo het kinders aangespoor om hul ouers te respekteer (Spreuke 1:8; 12:1; 30:17). Jeremia 35:18-19 beskryf hoe God die Rekabiete geseёn het, deurdat hulle hul vader gehoorsaam het. Ongehoorsaamheid aan ouers is ‘n karaktertrek van hulle wat teen God rebelleer (Rom 1:30; 2 Tim 3:2). Dit bring ons by die tweede punt. Hoekom is eer aan jou ouers vir God van so ‘n hoё waarde, dat Hy dit met ‘n lang lewe vergoed?

Daar is ten minste twee redes vir die waarde wat God daarop plaas. Eerstens, God vertrou aan ouers die verantwoordelikheid toe om hul kinders op ‘n goddelike manier groot te maak. Die ouers se taak is nie maklik nie. Dit is pynlik, stresvol, duur en dikwels ongewaardeerd. Vir ‘n kind om nie erkentlik en dankbaar te wees vir opofferings wat ouers maak tot voordeel van hom/haar nie, is ‘n belediging ten opsigte van outoriteit en waarde wat God aan ouers gegee het. Dit is soortgelyk aan hoe ons teenoor die regering moet optree (Rom 13:1-7). As God ons onder outoriteit geplaas het, beteken dit, om teen daardie outoriteit te rebelleer, is rebellie teen God Self.

Die tweede rede waarom God graag wil hê dat ons aan ons ouers eerbetoon moet bewys, is omdat ons verhouding met ons aardse ouers ‘n illustrasie is van ons verhouding met ons Hemelse Vader. Byvoorbeeld, Hebr 12:5-11 vergelyk die dissipline wat ‘n kind van sy ouers ontvang met die dissipline wat gelowiges in Christus van God ontvang. Net soos ons ouers ons biologiese voorvaders is, is God ons Skepper. Ons is kinders van God en kinders van ons ouers. Om ons ouers nie te respekteer, is om die beeld van wat ons verhouding met ons Hemelse Vader moet wees, te verdraai.

Wil jy graag ‘n lang lewe geniet? Eer jou ouers. Hoekom? Omdat God jou onder hul outoriteit en leiding geplaas het en omdat jou gesindheid teenoor jou ouers ‘n illustrasie is van jou gesindheid teenoor God. Al is hierdie beloning nie universeel nie – en al hef dit nie elke ander besluit wat jy maak, op nie – is dit steeds in die algemeen waar. Indien jy ‘n lang lewe wil leef, eer hulle wat jou in die eerste plek lewe gegee het.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar enigiets wat ek kan doen om myself ‘n lang lewe te waarborg?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries