Vraag
Wat is die kwalifikasies van ouderlinge en diakens?
Antwoord
Die Bybel het ’n duidelike stel kwalifikasies vir ‘n diaken en ‘n ouderling en hul posisies in die liggaam van gelowiges. Die amp van diaken het ontstaan om te help met die praktiese kwessie in die kerk: “Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: ‘Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die Woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie’” (Hand 6:2). Die Engelse vertaling praat van “in order to wait on tables.” Die woorde “wait on” is die Griekse woord “diakonein,” wat afkomstig is van ‘n woord met die betekenis “attendant, waiter, or one who ministers to another.” Om te “diaken” is om te dien. Die eerste diakens was ‘n groep van sewe manne in die kerk van Jerusalem wat aangewys is om te werk in die daaglikse voedselverspreiding. ‘n Diaken is dus een wat ander dien in ‘n amptelike kapasiteit in die kerk.
Die Griekse woord vir “biskop” is “episkopos.” Die biskop is die superintendent, die opsiener of die amptenaar in algemene beheer van die gemeente. In die Bybel word biskoppe ook “ouderlinge” genoem (1 Tim 5:19) en “pastore” (Ef 4:11).
Die kwalifikasies van die biskop/ouderling/pastoor word gevind in 1 Tim 3:1-7: “Dit is ‘n waar woord: as iemand graag ouderling wil wees, begeer hy ‘n voortreflike werk. ‘n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; hy moenie aan drank verslaaf of ‘n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente op hom neem? Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word en dan tref dieselfde oordeel hom as vir die duiwel. Ook by die mense buite die gemeente moet hy as ‘n goeie man bekend staan, sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan en hy in ‘n strik van die duiwel val nie.” Paulus het ook vir Timoteus leiding gegee oor die onderrig van ‘n goeie prediker en dit met voorbeelde toegelig. Paulus het begin in 1 Tim 4:11 en voortgegaan tot by 6:2 en so vir Timoteus 12 dinge gegee wat hy moet “beveel en onderrig.”
Die apostel Paulus herhaal die kwalifikasies van ‘n biskop/ouderling/pastoor in sy brief aan Titus. “’n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie.‘n Ouderling is immers ‘n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie ‘n dronkaard of ‘n rusiemaker of ‘n soeker na oneerlike wins nie. Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers. Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argument van teenstanders te weerlê” (Titus 1:6-9).
Die kwalifikasies van ‘n diaken is baie eenders as dié van ‘n biskop/ouderling/pastoor. “Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie. Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou. Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diaken dien. Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar. ‘n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself ‘n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus” (1 Tim 3:8-13). As die woord “diaken” vertaal word in hierdie gedeelte is dit ‘n vorm van dieselfde Griekse woord wat in Hand 6:2 gebruik word, dus weet ons dat ons oor dieselfde amp praat.
Hierdie kwalifikasies is eenvoudig en nie ingewikkeld nie. Beide die diaken en die biskop/oudeling/pastoor moet manlik wees, die man van een vrou of skoon karakter en een wat sy eie huis op ‘n bybelse wyse bestuur. Hierdie kwalifikasies voorveronderstel ook dat iemand wat so’n amp soek, ‘n wedergebore gelowige is en in gehoorsaamheid aan God se Woord lewe. Die enigste wesenlike verskil tussen die twee stelle kwalifikasies is dat die biskop/ouderling/pastoor die vermoë moet hê om te kan onderrig, terwyl lering nie ‘n nodige kwalifikasie vir diakens is nie.
Die Here Jesus Self word genoem “julle Herder en die Bewaker van julle lewe” (1 Pet 2:25). Die benamings is interessant. Die woord “Herder” is ‘n vertaling van die Griekse woord “poimen.” Hierdie “poimen” is iemand wat kuddes of troppe oppas en word metafories gebruik vir Christelike pastore/predikers, omdat hulle die “kudde”van God moet lei en hulle voed met die Woord van God. Die woord “ouderling” is dieselfde woord, “episkopos” en word deur Paulus gebruik in 1 Tim en Titus.
Dit is duidelik dat die ampte van ouderling en diaken belangrik in die kerk is. Deur aan God se mense in woord en daad te bedien, is ‘n ernstige verantwoordelikheid en dit moet nooit ligtelik opgeneem word nie. ‘n Bybelse ongekwalifiseerde individu moet nie die amp van ouderling of diaken opneem nie; die kerk verdien beter.
English
Wat is die kwalifikasies van ouderlinge en diakens?