settings icon
share icon
Vraag

Is dit verkeerd om vir God kwaad te wees?

Antwoord


Om vir God kwaad te wees, is iets waarmee beide gelowiges en ongelowiges oor tye heen mee worstel. Wanneer iets tragies in ons lewens gebeur, vra ons vir God die vraag, "Waarom?" aangesien dit ons natuurlike reaksie is. Wat ons eintlik vra, is nie sodanig "Waarom God?" nie, maar eerder "Waarom ek, God?" Hierdie reaksie toon aan dat daar twee foute in ons denkpatroon is. Eerstens is ons as gelowiges onder die indruk dat die lewe maklik behoort te wees en dat God moet verhoed dat tragedie op ons pad kom. Sou Hy dit nie doen nie, dan raak ons vir Hom kwaad. Tweedens, wanneer ons nie die grootheid van God se soewereiniteit verstaan nie, verloor ons vertroue in Sy vermoë om omstandighede, ander mense en die wyse waarop hulle ons affekteer, te beheer. Dan raak ons vir God kwaad, aangesien dit lyk of Hy beheer oor die heelal en spesifiek oor ons lewens verloor het. Wanneer ons geloof in God se soewereiniteit verloor, is dit omdat ons brose menslike vlees met ons eie frustrasie stoei, asook ons tekort aan beheer oor gebeure. Wanneer goeie goed gebeur, skryf ons dit togte dikwels toe aan ons eie pogings en sukses. Wanneer slegte goed gebeur, is ons weer vinnig om God te blameer en word ons vir Hom kwaad, omdat Hy dit nie voorkom het nie. Laasgenoemde dui op die eerste fout in ons denke – dat ons verdien om immuun teen onaangename omstandighede behoort te wees.

Tragedies bring die aaklige waarheid na vore dat ons nie in beheer is nie. Almal van ons dink op een of ander stadium dat ons die uitkoms van situasies kan beheer, maar in werklikheid is dit God wat in beheer van alles in Sy skepping is. Alles wat gebeur is óf deur God veroorsaak óf deur God toegelaat. "Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie" (Matt 19:29-30). Ons kan kla, kwaad word en God blameer vir wat gebeur het. Tog, as ons Hom vertrou en ons bitterheid en pyn aan Hom oorgee, die trotsheid van ons sondige optrede erken om ons eie wil bokant Sy wil te forseer, sal en wil Hy ons Sy vrede en krag gee in enige moeilike situasie (1 Kor 10:13). Baie gelowiges in Christus Jesus kan hiervan getuig. Ons kan vir God kwaad wees as gevolg van baie redes, maar op een of ander tyd sal ons moet besef dat daar dinge is wat ons nie kan beheer nie of met ons beperkte verstand kan verstaan nie.

Ons verstaan van die soewereiniteit van God in alle omstandighede moet gepaard gaan met die verstaan van Sy karaktertrekke: liefde, genade, barmhartigheid, goedheid, regverdigheid, geregtigheid en heiligheid. Wanneer ons ons probleme deur die waarheid van God se Woord sien, wat ons vertel dat ons liefdevolle en heilige God alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28) en dat Hy 'n volmaakte plan en doel vir ons het, wat nie gedwarsboom kan word nie (Jes 14:24, 469-10), dan begin ons ons probleme in 'n ander lig sien. Ons weet ook vanuit die Skrif dat hierdie lewe nooit gevul sal wees met voortdurende vreugde en blydskap nie. Job herinner ons dat "Die mens is vir swaarkry gebore en sy lewe is kortstondig soos 'n vonk wat opskiet" (Job 5:7) en dat die lewe "kort en vol onrus" is (Job 14:1). Net omdat ons na Christus kom vir redding, beteken nie dat ons 'n lewe gewaarborg is wat vry van probleme is nie. Jesus het gesê "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: 'Ek het die wêreld klaar oorwin'" (Joh 16:33) en dit maak dit vir ons moontlik om vrede in ons te hê, ten spyte van die storms wat buite rondom ons woed (Joh 14:27).

Een ding is seker: onvanpaste woede is sonde (Gal 5:20; Ef 4:26-27,31; Kol 3:8). Goddelose woede is selfvernietigend, dit gee die duiwel toegang tot ons lewens en dit kan ons vreugde en vrede vernietig, as ons daarmee volhou. Deur voort te gaan met ons woede, laat ons bitterheid en wrok toe om in ons harte te ontstaan. Ons moet dit vir die Here in gebed bely en dan deur Sy vergifnis kan ons daardie gevoelens aan Hom oorgee. Ons moet dikwels in ons woede gegriefdheid en pyn in gebed na die Here bring. In 2 Sam 12:15-23 lees ons dat Dawid voor die genadetroon gegaan het namens sy siek baba en gevas gehuil en gebid dat hy moet oorleef. Toe die baba dood is, het Dawid opgestaan en die Here geloof en sy dienaars vertel dat hy geweet het waar sy baba was en dat hy eendag saam met hom in God se teenwoordigheid sal wees. Dawid het na God uitgeroep tydens die kindjie se siekte en daarna voor Hom in aanbidding gebuig. Dit is 'n wonderlike getuienis. God ken ons harte en dit is sinneloos om weg te steek hoe ons voel. Dus is die beste uitweg om met Hom te praat en sodoende ons hartseer te hanteer. Indien ons op 'n nederige wyse ons harte voor Hom uitstort, sal Hy deur ons werk en in die proses ons meer soos Hy verander.

Kan ons God dan in alles vertrou, met ons lewens en die lewens van ons geliefdes? Verseker kan ons! Ons God is vol medelye, genade en liefde en as dissipels van Christus kan ons Hom met alles vertrou. Wanneer tragedies plaasvind, weet ons dat God dit kan gebruik om ons nader aan Hom te bring en om ons geloof te versterk en sodoende volwassenheid en volkomenheid meebring (Ps 34:18; Jak 1:2-4). So kan ons dan 'n vertroostende getuie wees vir andere (2 Kor 1:3-5). Tog is dit makliker gesê as gedoen. Dit vra van ons 'n daaglikse oorgawe van ons wil aan Syne, 'n getroue studie van Sy eienskappe soos ons dit in God se Woord sien, baie gebed en dan, wat ons leer moet op ons eie lewens van toepassing wees. Deur dit so te doen, sal ons geloof voortdurend groei en volwasse raak en sodoende sal dit makliker word om Hom te vertrou om ons deur die volgende tragedie te dra, wat heel waarskynlik sal plaasvind.

Om hierdie vraag dus direk te beantwoord, ja, dit is verkeerd om vir God kwaad te wees. Woede teenoor God is 'n onvermoë of onwilligheid om God te vertrou, selfs al verstaan ons nie wat Hy doen nie. Woede teenoor God is eintlik om vir God te sê dat Hy iets verkeerds gedoen het, wat Hy nooit doen nie. Verstaan God as ons kwaad, gefrustreerd of teleurgesteld is met Hom? Ja, Hy ken ons harte en Hy weet hoe moeilik en pynlik die lewe in hierdie wêreld kan wees. Gee dit my die reg om vir God kwaad te wees? Absoluut nie. In plaas daarvan om vir God kwaad te wees, moet ons eerder ons harte uitstort teenoor Hom in gebed en dan vertrou dat Hy in beheer is en dat Sy plan volmaak is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is dit verkeerd om vir God kwaad te wees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries