settings icon
share icon
Vraag

Wat is die kruiswegstasies en wat leer ons daaruit?

Antwoord


Die kruiswegstasies, ook bekend as die Via Dolorosa, is 'n beskrywing van die finale ure in die lewe van Jesus Christus op aarde, wat aanhou voorsien in geestelike redding vir elke Christen en 'n lewenstoepassing. Die standplase van die kruis dien as 'n sterk herinnering van die nederige wyse waarop Jesus gewillig was om enige voorreg of godheid opsy te skuif, met die doel om 'n weg na verlossing te voorsien deur Sy offerande.

Daar is verskeie wyd aanvaarde weergawes wat daardie finale ure beskryf, een is Bybels en die ander is meer tradisionele weergawes van die gebeure rakende Jesus se laaste ure. Die tradisionele vorm van die kruiswegstasies is soos volg:
Jesus is ter dood veroordeel,
Jesus kry Sy kruis.
Jesus val neer vir die eerste keer.
Jesus ontmoet Sy moeder Maria.
Simon van Sirene word gedwing om die kruis te dra.
Veronica vee die bloed van Jesus se gesig.
Jesus val vir die tweede keer.
Jesus ontmoet die vroue van Jerusalem.
Jesus val vir die derde keer.
Jesus se klere word van Hom afgeskeur.
Jesus word aan die kruis vasgespyker – die Kruisiging.
Jesus sterf aan die kruis.
Jesus se liggaam word van die kruis verwyder – die Afsetting of Klaaglied (Deposition or Lamentation)
Jesus se liggaam is in die graf geplaas.
Standplase 3,4,6,7 en 9 is nie eksplisiet Bybels nie. Gevolglik is 'n "Lydensweg na die Kruis" ontwikkel. Die onderstaande is die Bybelse beskrywings van die 14 standplase van die kruis en die lewenstoepassing van elk.

Eerste kruiswegstasie: Jesus op die Olyfberg (Luk 22:39-46).
Jesus het op die Olyfberg vir Sy Vader gebid om die beker by Hom te laat verbygaan: dit beteken Sy dood aan die kruis; dit het die menslikheid van Jesus gedemonstreer (Luk 22:39-46). Dis nie moeilik om te besef hoe groot Sy angs aangaande die gebeure wat Hom in die gesig gestaar het, moes wees nie. Daar kom 'n tyd in die lewe van alle Christene wanneer hulle moet kies tussen God se wil en hul eie en daardie keuse, soos Jesus s'n, wys die vlak van toegewydheid en gehoorsaamheid aan God, asook die ware toestand van die hart. Alhoewel Jesus bewus was van die lotsbestemming wat op Hom gewag het, toe Hy op die Olyfberg vir God gebid het om die gebeure om te keer, was Sy gebed dat die Vader se wil moes geskied, ongeag wat die toekoms vir Hom ingehou het. Selfs toe Hy aan die kruis vasgespyker was en Sy lewensasem besig was om uit te gaan, was Jesus steeds besig om ons te leer van die belangrikheid ten opsigte van gehoorsaamheid aan God se Woord en die belangrikheid om Hom in elke situasie te vertrou.

Tweede Kruiswegstasie: Jesus is verraai deur Judas en gearresteer (Luk 22:47-48).
Judas het nie alleenlik die mees veragtelike karakter in die geskiedenis geword, toe hy Jesus verraai het nie, maar hy het ook 'n blywende herinnering vir elke Christen geword: dat daar tye kom wat sonde ons verlei, sodat ons kan val. Wanneer 'n Christen in sonde struikel, is dit soos om die Een wat lewe aan ons gee, te verraai. Hoeveel groter is die verraad as die sonde 'n optrede is wat ons gekies het en dus opsetlik wegdraai van geestelike oortuiging (Luk 22:47-48)? Judas het saam met Jesus gelewe en by Sy voete gesit en leer vir jare, maar omdat sy hart nie waarlik deur die Heilige Gees gertransformeer was nie, het hy weggedwaal toe Satan hom verlei het. As gelowiges word ons vermaan om onsself te ondersoek om seker te maak of ons waarlik in die geloof lewe (2 Kor 13:5).

Derde Kruiswegstasie: Jesus word deur die Sanhedrin veroordeel (Luk 22:66-71).
Die Raad van die Sanhedrin het bestaan uit 70 priesters en skrifgeleerdes en een hoëpriester en het opdrag gegee dat Pilatus Jesus moes teregstel. Hierdie insident is 'n waarskuwing aan alle Christene om versigtigheid aan die dag te lê en nie onsself hoër te ag en deur selfregverdiging ander te oordeel nie. Bybelse kennis en hoë posisies in hierdie wêreld skiet jammerlik te kort aan heilige volmaaktheid en trotse denke kan maklik die val wees van die vroomste onder die mens. Die Bybel leer ons om owerhede te respekteer, maar dit is uiteraard God se wil en God se Woord wat hoogste prioriteit in ons lewens moet kry. Christene het die gawe van die doping met die Heilige Gees om hulle te troos, leer en te lei in elke situasie en hulle toe te laat om elke besluit te neem volgens die volmaakte wil van God. Die Joodse mense het die hoogste godsdienstige outoriteit aan die Sanhedrin toevertrou en dit het gelei tot korrupsie onder baie van die priesters en skrifgeleerdes van die Sanhedrin. Toe Jesus begin het met 'n lering wat hul outoriteit ondermyn het, het hulle teen Hom opgestaan en uiteindelik Hom laat kruisig deur die Romeinse owerheid (Luk 22:66-71).

Vierde Kruiswegstasie: Petrus verloën Jesus (Luk 22:54-62).
Toe Jesus gearresteer is, het 'n klomp van die mense daar teenwoordig vir Petrus beskuldig dat hy ook een van Jesus se volgelinge was (Luk 22:54-62). Soos voorheen deur Jesus voorspel is, het Petrus driemaal ontken dat hy vir Jesus ken. Petrus was Jesus se geliefde en betroubare dissipel, wat van baie wonderwerke eerstehands getuig het, selfs saam met Jesus op die water geloop (Matt 14:29-31). Petrus het die swakheid as mens geopenbaar deur Jesus te verloën, uit vrees dat hy dalk ook gearresteer sou word. Christene oor die hele wêreld word steeds vervolg en daar word op hulle neergesien deur die ongelowiges in die gemeenskap – van verbale mishandeling tot drag slae en die dood. Mense mag ook uit selfregverdiging vir Petrus oordeel vir sy verloëning van Jesus en sy vrees vir wat die Romeine aan hom sou doen, indien hulle sy verhouding met Jesus sou ontdek. Hoe baie Bybelse gelowige Christene kan sê dat hulle nooit stilgebly het oor hul geloof, wanneer diskriminasie hul in die gesig gestaar het nie – in die publiek of privaat? So 'n stilte demonstreer die broosheid van die mens. Petrus se geloof was 'n onvolmaakte geloof, hoofsaaklik omdat hy op daardie stadium nie deur die Heilige Gees vervul was nie. Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag om in die harte van gelowiges te kom woon (Hand 2), was Petrus 'n onverskrokke leeu in sy geloof en het nooit weer bang gewees om Sy Here te verkondig nie.

Vyfde Kruiswegstasie: Jesus is deur Pontius Pilatus veroordeel (Luk 23:13-25).
Volgens hedendaagse standaarde is dit onwaarskynlik dat Jesus in enige hof skuldig bevind is, veral aangesien geen weklike getuienis teen Hom gekry kon word nie. Pontius Pilatus kon geen skuld vind in enigiets wat Jesus gedoen het nie en wou Hom loslaat (Luk 23:13-24), maar die Sanhedrin het opdrag gegee dat Pilatus Sy teregstelling aankondig. Die Sanhedrin wat streng volgens Mosaïese Wet en tradisie gehandel het, het Jesus as 'n groot bedreiging vir hul regerende outoriteit oor die Jode beskou. Jesus het die mense geleer dat verlossing deur die genade van God kom en nie deur vas te hou aan die baie voorskrifte van die Sanhedrin nie. Sulke lering ondermyn nie slegs die outoriteit van die godsdienstige leiers nie, maar dit plaas ook 'n ernstige bedreiging op hul lewensonderhoud. Selfs vandag is die verlossingsboodskap deur die krag en keuse van God, en wel nie deur ons eie pogings nie, onpopulêr. Menslike wesens in hul gevalle natuur wil altyd hul eie redding bewerk of ten minste wil deel wees daarvan, sodat ons ten minste 'n deel van die eer kan kry. Verlossing is van die Here en Hy deel Sy eer met niemand anders nie (Jes 42:8).

Sesde Kruiswegstasie: Jesus is gegésel en met dorings gekroon (Luk 23:63-65).
Die genesing waarna in hierdie gedeelte verwys word, is geestelike genesing of genesing van sonde. Sondevergifnis en herstel tot God se guns word dikwels gesien as 'n genesingsaksie. Meer as vyfhonderd jaar voordat Maria aan Jesus geboorte gegee het, het Jesaja geprofeteer dat Jesus vir ons oortredinge deurboor sou word (Jes 53:3-6) en vir ons ongeregtighede souHy verbrysel word en deur Sy wonde sou daar vir ons genesing kom.

Sewende Kruiswegstasie: Jesus neem Sy kruis op (Markus 15:20).
Toe Jesus Sy kruis opgeneem het, het Hy meer as net 'n stuk hout gedra. Onbekend aan baie van die toeskouers daardie dag, het Jesus die sondes van die mensdom gedra en die straf wat daardie sondes verdien het, wat Hy voor bestem was om te ly, ter wille van die mens. Jesus vermaan ons in Matt 16:24 "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg." Hy openbaar ook dat dit nie 'n opsie is nie: "Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie" (Matt 10:38). Om ons kruis op te neem, 'n instrument om te sterf, beteken om aan onsself te sterf, met die doel om heeltemal as nuwe skepsels te lewe (2 Kor 5:17), in diens en gehoorsaamheid aan Christus. Dit beteken om ons wil aan God oor te gee: ons emosies, ons ambisies en ons begeertes. Ons moenie ons eie geluk soek as die hoogste prioriteit nie, maar gewillig wees om alles, ook ons lewens neer te lê en oor te gee, indien dit van ons gevra word.

Agste Kruiswegstasie: Simon van Sirene help dra Jesus se kruis (Lukas 23:26).
Simon van Sirene kan miskien gesien word as 'n slagoffer van sy omstandigheid. Hy het heel waarskynlik vir die Paasfees na Jerusalem gekom en waarskynlik baie min van die gebeure wat besig was om af te speel, geweet. Ons weet baie min van hom, aangesien hy nie in die Bybel genoem word, nadat hy die kruis, waaraan Jesus vasgespyker moes word, gedra het nie (Luk 23:26). Die Romeinse soldate het Simon beveel en hy het nie weerstand gebied nie. Moontlik het hy vir sy lewe gevrees in die lig van die heersende omstandighede. Anders as Jesus wat sy kruis gewilliglik gedra het, was Simon van Sirene verplig of geforseer om dit te dra. As Christene moet ons gewilliglik saam met Jesus ly. Paulus vermaan ons, "Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om Sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberinge vir die evangelie met die krag wat God jou gee" (2 Tim 1:8).

Negende Kruiswegstasie: Jesus ontmoet die vroue van Jerusalem (Luk 23:27-31).
Toe Jesus die huilende vroue en sommige van Sy dissipels op pad na die kruisiging tegemoet geloop het, het Hy hulle gewaarsku dat hulle nie oor Hom moet huil nie, maar oor hulself en die lewens van hul kinders, in ag genome die opkomende booshede regdeur Jerusalem (Luk 23:27-31). Selfs toe Jesus baie pyn en persoonlike beledigings verduur het, was Sy medelye nie vir Homself nie, maar vir die lewens en siele van diegene wat die gevaar van ewige verdoemenis in die gesig gestaar het, as gevolg van die sonde in hul lewens. Dieselfde waarskuwing is relevant vir hedendaagse Christene dat ons versigtig moet wees en nie moet toelaat dat ons knelpunte in hierdie wêreld voorkeur bo ons toewyding en gehoorsaamheid aan God moet kry nie. Jesus het gesê, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie" (Joh 18:36) en as hemelse burgers moet ons fokus en aandag dáárop gerig wees.

Tiende Kruiswegstasie: Jesus word gekruisig (Luk 23:33-47).
Dit is moeilik om tweeduisend jaar later die wreedheid van die oomblik vir ons voor te stel, toe hulle wat die naaste aan Jesus was, geforseer was om hulpeloos toe te kyk hoe die spykers deur Sy hande en voete in die houtwerk geslaan word, waarop Hy Sy laaste asem as mens sou uitblaas (Luk 23:44-46). Sy geliefdes en dissipels het nie volledig verstaan wat die betekenis was van wat plaasgevind het nie. Hulle was toe nog nie by magte om te verstaan dat hierdie bose daad van mense die resulaat van 'n goddelike doel en beplanning was, vir die verlossing van almal wat in Christus sou glo nie. Vir ons vandag, "hoe sal ons dan ontkom as ons so 'n groot saligheid verontagsaam het?" (Heb 2:3). "Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie" (Hand 4:12).

Elfde Kruiswegstasie: Jesus belowe Sy Koninkryk aan die gelowige krimineel (Luk 23:43).
Is dit moontlik dat die krimineel aan die kruis langs Jesus by magte was om die konsep te begryp dat die lewe nie vir Jesus geëindig het nie, maar dat Hy oorgegaan het van die fisiese wêreld na die ewige belofte vanwaar Hy gekom het, om vir die mensdom te kom voorsien? Die krimineel sou een van die eerstes wees om in te gaan in die paradys uit genade en deur geloof in Jesus Christus (Ef 2:8-9). Jesus het aan hom gesê dat hy nog dieselfde dag saam met Hom in die paradys sou wees, omdat hy geglo het in die Seun van God en Hom aangeneem het. Dit is duidelik 'n voorbeeld dat 'n persoon uit genade gered word, deur geloof eerder as deur werke, soos hulle wat Jesus vervolg en veroordeel het, die mense laat glo het.

Twaalfde Kruiswegstasie: Jesus aan die kruis praat met Sy moeder en dissipels (Luk 23:48-49).
Toe Jesus in Sy sterwensoomblik was, het Hy steeds andere se behoeftes voor Sy eie geplaas, toe Hy onbaatsugtig die versorging van Sy moeder oorgegee het aan Sy geliefde dissipel, Johannes (Joh 19:27). Sy ganse lewe, insluitend Sy sterwe was 'n voorbeeld vir ons om die behoeftes van andere voor ons eie te plaas, alles aan die volmaakte wil van God te onderwerp. Die gewilligheid om in Sy Woord te bly en deur in geloof offerandes vir ander wat swaarkry te bring, is karaktereienskappe van die opregte en ware Christelike lewe.

Dertiende Kruiswegstasie: Jesus sterf aan die kruis (Luk 23:44-46).
Op die oomblik toe Jesus gesterf het, het die tempelgordyn van bo na onder geskeur. Dit het die mense van die Allerheiligste geskei. Dit was vreesaanjaend vir alle Jode wat die gebeurtenis waargeneem het, want hulle het nie besef dat dit beteken het dat dit die einde van die Ou Verbond en begin van die Nuwe Verbond was nie. Die mens hoef nie meer as gevolg van sonde van God geskei te wees nie, maar ons kan nou vir sondevergifnis die genadetroon met dapperheid, in gebed nader. Die lewe en offerdood van Jesus het die versperring van sonde verwyder en dit vir die mens moontlik gemaak om verlossing uit genade te verkry.

Veertiende Kruiswegstasie: Jesus word begrawe (Luk 23:50-54).
Nadat Jesus gesterf het en van die kruis afgehaal is, is Hy te ruste gelê in 'n graf, wat deur 'n man met die naam Josef voorsien is. Hy was 'n Jood van die dorp Arimathea (Luk 23:50-54). Josef was ook 'n lid van die Sanhedrin, maar was gekant teen die verhoor en kruisiging van Jesus. Josef het in die geheim geglo dat Jesus die Messias was, na aanleiding van die Skrif, maar het uit vrees vir die gevolge dit nie in die publiek erken nie (Joh 19:38). Na Jesus gesterf het, het Josef in die geheim na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gaan vra, sodat hy 'n behoorlike begrafnis kon voorsien. Jesus se groot offerande was nie slegs die versoening vir die mens se sondes nie, maar dit het ook die dood oorwin, wat andersins die onvermydelike noodlot vir alle mense sou wees, wat onder die sondevloek gebore word. Sonde dra sy eie onontkombare straf en dit is die dood. Ons Skepper is regverdig en het so bepaal dat die straf vir sonde betaal is, want God is liefdevol en genadig, sowel as regverdig. Hy het Sy eniggebore Seun gestuur om die straf vir ons sondes te betaal, omdat Hy geweet het dat almal verdoem is tot in alle ewigheid (Joh 3:16). God se liefde en genade is by uitstek gedemonstreer deur Jesus se woorde, toe Hy sterwende aan die kruis gehang het en God gevra het om hulle te vergew, wat Hom in hul onkunde doodgemaak het (Luke 23:34). Dit is maklik om te vermoed dat die mens se onwilligheid om ten volle God se Woord en Wet te gehoorsaam 'n tekort aan kennis en wysheid was. Die ironie is egter dat die verganklikheid wat dit vir Jesus aan die kruis meegebring het, geestelike verganklikheid vir diegene geword het, wat nie bevoeg was om dieselfde onkunde te oorkom wat die hedendaagse mensdom nog steeds pla nie. Die sondige mens wat weier om die geskenk van verlossing te aanvaar, wat Jesus moontlik gemaak het deur Sy offerande, is sekerlik die produk van rebellerende onkunde en sonde wat 'n mens van God se wysheid skei.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die kruiswegstasies en wat leer ons daaruit?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries