settings icon
share icon
Vraag

Is ons almal God se kinders of net Christene?

Antwoord


Die Bybel is duidelik daaroor dat alle mense God se skepsels is (Kol 1:16) en dat God die hele wêreld liefhet (Joh 3:16), maar net diegene wat wedergebore is, is kinders van God (Joh 1:12; 11:52; Rom 8:16; 1 Joh 3:1-10).

Die Skrif verwys nooit na die verlorenes as kinders van God nie. Ef 2:3 vertel ons dat voordat ons gered is, “Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word” (Ef 2:1-3). Rom 9:8 sê dat “Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word.” In plaas van om as God se kinders gebore te word, is ons in sonde gebore, wat ons van God skei en ons met Satan verbind, wat ons dan sodoende vyande van God maak (Jak 4:4; 1 Joh 3:8). Jesus het gesê, “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want ek het van God af gekom en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur” (Joh 8:42). Dan ‘n paar verse later in Joh 8:44 het Jesus aan die Fariseërs gesê, “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” Die feit dat diegene wat nie gered is nie, nie kinders van God is nie, word ook in 1 Joh 3:10 gesien: “Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.”

Wanneer ons gered is, raak ons kinders van God, aangesien ons in God se familie aangeneem is deur ons verhouding met Jesus Christus (Gal 4:5-6; Ef 1:5). Dit word duidelik in verse soos Rom 8:14-17 gesien: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’. Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy leiding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid.” Hulle wat gered is, is kinders van God deur die geloof in Jesus Christus (Gal 3:26), omdat “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (Ef 1:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is ons almal God se kinders of net Christene?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries