settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek ‘n kind van God word?

Antwoord


“Maar almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo” (Johannes 1:12).

“Jy moet weer gebore word”
Toe Jesus deur die godsdienstige leier, Nikodemus, besoek was, het Jesus hom nie onmiddelik van die hemel verseker nie. Pleks daarvan, het Christus gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3).

Met ‘n mens se eerste geboorte ontvang jy van nature die sonde wat voortspruit uit Adam se ongehoorsaamheid in die Tuin van Eden. Niemand hoef ‘n kind te leer sondig nie. Van nature volg hy sy eie verkeerde wil, wat lei na sonde soos leuens, diefstal, en haat. Eerder as om ‘n kind van God te wees, is hy ‘n kind van ongehoorsaamheid en toorn.

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug [Satan], van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Efesiërs 2:1-3).

As kinders van die toorn, verdien ons om in die hel te wees geskei van God. Met dankbaarheid lees ons egter verder, “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur Sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered —” (Efesiërs 2:4-5).

Hoe word ons lewend gemaak saam met Christus / weer gebore / ‘n kind van God gemaak? Ons moet Jesus aanneem!

Neem Jesus aan
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo” (Johannes 1:12).

Hierdie gedeelte sê vir ons hoe om ‘n kind van God te word. Ons moet Jesus aanneem deur in Hom te glo. Wat moet ons glo omtrent Jesus?

Eerstens moet ons erken dat Jesus die ewige Seun van God is wat mens geword het. Gebore deur die krag van die Heilige Gees uit die maagd Maria, het Jesus nie Adam se sondige natuur geërf nie. Daarom word Hy die tweede Adam genoem (1 Korinthiërs 15:22, 45). Terwyl Adam se ongehoorsaamheid die vloek van die sonde op die wêreld gebring het, kan Christus se volmaakte lewe ons sondigheid bedek. Ons reaksie moet wees om berou te toon (weg te draai van sonde), om te vertrou dat Sy volmaakte lewe ons sal reinig.

Tweedens moet ons geloof in Jesus hê as ons Verlosser. God se plan was om Sy volmaakte Seun aan die kruis te offer as betaling vir die straf wat ons vir ons sonde verdien: die dood. Christus se dood bevry diegene wat Hom aanneem van die straf en mag van sonde.

Laastens moet ons Jesus navolg as onse Here. Nadat God vir Christus opgewek het as die Oorwinnaar oor sonde en dood, het God aan Hom alle mag gegee (Efesiërs 1:20-23). Jesus lei almal wat Hom aanneem, en Hy sal almal oordeel wat Hom verwerp (Handelinge 10:42).

Deur God se genade is aan ons berou gegee en geloof in ons Verlosser en Here, ons is weer gebore tot ‘n nuwe lewe as ‘n kind van God. Slegs dié wat Jesus aanneem—nie net van Hom weet nie, maar op Hom vertrou vir hulle verlossing, hulle totaal aan Hom onderwerp as Meester, en Hom lief het bo alles—word ‘n kind van God.

Word ‘n kind van God
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is” (Johannes 1:12-13).

Net soos wat ons geen aandeel aan ons natuurlike geboorte gehad het nie, kan onsself nie veroorsaak dat ons in God wedergebore word deur goeie dade te doen nie, of geloof op ons eie te verkry nie. Soos die verse hierbo sê, is God die Een wat “mag gegee” het volgens Sy eie genadige wil. “KYK wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Johannes 3:1). Dus, ‘n kind van God het niks om oor te roem nie, want slegs uit genade as ‘n gawe van God is ons gered (Efesiërs 2:8-9).

Soos ‘n kind opgroei toon hy gelaatstrekke van sy ouers. Net so wil God ook hê dat Sy kinders al meer soos Jesus Christus moet word. Alhoewel ons eers in die hemel volmaak sal wees, sal ‘n kind van God nie uit gewoonte en sonder berou sondig nie. “My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie” (1 Johannes 3:7-10).

Wees gewaarsku; ‘n kind van God kan nie “verwerp” word deur te sondig nie. Maar iemand wat sonde “beoefen” (wat aanhoudend sonde geniet sonder om ag te slaan op die navolging van Christus en Sy Woord) wys net dat hy nog nooit wedergebore was nie. Jesus het vir sulke mense gesê, “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:44). Kinders van God, daarenteen, verlang nie meer na die genot van sonde nie, maar streef daarna om God die Vader beter te ken, lief te hê en te vereer.

Die beloning om ‘n kind van God te wees is onmeetbaar. As kinders van God is ons deel van Sy familie (die kerk), is ons ‘n tuiste in die hemel belowe, en het ons die reg om God in gebed as ons Vader te nader (Efesiërs 2:19; 1 Petrus 1:3-6; Romeine 8:15).

Reageer op God se oproep tot berou van sonde en geloof in Christus. Word vandag ‘n kind van God!

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek ‘n kind van God word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries