settings icon
share icon
Vraag

Wat is die sleutel om God werklik te ken?

Antwoord


Binne almal van ons bestaan daar 'n sterk begeerte om geken te word en om andere te ken. Wat nog belangriker is, is dat alle mense begeer om hul Skepper te ken, selfs al is hulle nie belydende gelowiges in God nie. Ons word daagliks gebombardeer met advertensies met baie beloftes hoe om meer te weet om ons begeertes te bevredig, om meer te besit en meer te wees. Die leë beloftes vanuit die wêreld sal nooit op dieselfde wyse bevredig soos om God te ken nie. Jesus het gesê, "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is" (Joh 17:3).

Dus, wat is die sleutel om God werklik te ken? "Eerstens, is dit baie belangrik om te verstaan dat die mens op sy eie nie die vermoë het om God waarlik te ken nie, as gevolg van ons sondigheid. Die Skrif openbaar aan ons dat ons almal sondig is (Rom 3) en dat ons almal ver van God af lewe volgens die standard van heiligheid, wat nodig is om in gemeenskap met God te leef. Daar word ook gesê dat die gevolg van sonde die dood is (Rom 6:23) en dat ons die ewige dood sonder God sal sterf, tensy ons die belofte van Jesus se soenoffer aan die kruis aanvaar en ontvang. Om God dus werklik te ken, moet ons Hom eers in ons lewens ontvang. "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" Joh 1:12). Niks is van groter belang as om hierdie waarheid te verstaan, wanneer dit kom by die ken van God nie. Jesus maak dit duidelik dat Hy die enigste weg is hemel toe en ook tot 'n persoonlike kennis van God: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie" (Joh 14:6).

Daar is geen vereistes om hierdie reis te begin, behalwe om die beloftes wat hierbo genoem is, te aanvaar en te ontvang nie. Jesus het gekom om lewe in ons te blaas deur Homself as versoening vir ons sondes te gee, daarom sal ons sondes nie in die pad staan om vir God persoonlik te leer ken nie. Een van die sleutelbestanddele tydens hierdie reis, is om die Bybel te verstaan, God se Woord en te begryp dat dit 'n openbaring van Homself, Sy beloftes en Sy wil is. Die Bybel is hoofsaaklik 'n liefdesbrief van ons liefdevolle God aan ons, wat ons geskep het om Hom intiem te ken. Watter beter manier is daar om oor ons Skepper te leer as om onsself in Sy Woord in te dompel, aan ons geopenbaar vir hierdie spesifieke rede? Dit is belangrik om hierdie proses voort te sit regdeur die hele reis. Paulus skrywe aan Tmoteus, "Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk" (2 Tim 3:14-17).

Laastens, om God werklik te ken, sluit ons verbondenheid met Hom in, om aan Hom gehoorsaam te wees, volgens wat ons in die Skrif lees. Na alles, het Hy ons gemaak om goeie werke te doen (Ef 2:10), om sodoende deel te wees van God se voortgaande plan om Homself aan die wêreld te openbaar. Ons dra die verantwoordelikheid om dieselfde geloof uit te leef wat vereis word om God te ken. Ons is sout en lig op hierdie aarde (Matt 5:13-14), geskep om God se geur aan die wêreld te bring en om as 'n skynende lig midde in die donkerte te dien. Ons moet nie net God se Woord lees en verstaan nie, ons moet dit in gehoorsaamheid toepas en getrou bly (Heb 12). Jesus het self die belangrikste klem daarop geplaas om God lief te hê met alles wat ons het en ons naaste soos onsself (Matt 22). Hierdie gebod is onmoontlik om na te kom, sonder die lees en toepassing van Sy waarheid, geopenbaar in Sy Woord.

Hierdie is die sleutels om God waarlik te ken. Natuurlik sal ons lewens veel meer inhou, soos gebed, toewyding, verhouding en aanbidding. Daardie kan egter net volg nadat 'n besluit geneem is om Jesus en Sy beloftes in ons lewens te ontvang en deur te aanvaar dat ons, op ons eie, nie werklik God kan ken nie. Dan kan ons lewens met God gevul wees en kan ons Hom ken en op 'n intieme en persoonlike vlak beleef.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die sleutel om God werklik te ken?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries