settings icon
share icon
Vraag

Hoe besluit ons watter boeke in die Bybel hoort, aangesien die Bybel dit nie sê nie?

Antwoord


Indien die Skrif ons enigste outoriteit is, waarop ons bou om te weet watter boeke in die Bybel hoort – aangesien die Bybel nie verklaar watter boeke wel daarin hoort nie? Dit is 'n baie belangrike vraag, aangesien 'n ketting slegs so sterk is, as die swakste skakel. In die kommunikasieketting vanaf God tot by die mensdom, bestaan daar 'n swak skakel? Indien wel, dan faal die hele ketting en kan die kommunikasie nie vertrou word nie.

Om die verskeie "skakels" te oorweeg waaruit God se kommunikasie met ons bestaan: eerstens, het God se begeerte gekom om te kommunikeer. Dit was in Sy liefde geanker, aangesien die mees liefdevolle ding wat 'n goeie God kan doen, is om Homself aan Sy skepping te openbaar. Volgende het die wesenlike oordrag van God se Woord deur menslike skrywers plaasgevind. Dit het 'n proses ingesluit wat die Bybel "inspirasie" noem, waar God die woorde "geïnspireer" het, wat die menslike skrywers neergeskryf het (2 Tim 3:16). Daarna het verspreiding gekom, toe die Woord deur middel van prediking of op ander maniere na die gehoor deurgegee is. Toe het erkenning gekom, waar God se mense die Heilige Skrif van ander godsdienstige geskrifte onderskei het. Daarna bewaring, waardeur God se Woord tot vandag oorleef het, ten spyte van menige pogings om dit te vernietig. Uiteindelik het illuminasie (beligting) gekom, toe die Heilige Gees die gelowige se begrip geopen het, om die Woord te aanvaar.

En dit is die "ketting" – die demonstrasie van God se liefde in die inspirasie, verspreiding, erkenning, bewaring en openbaring van Sy Woord. Ons glo dat God in elke stap van die proses betrokke was, want waarom sou God sóver gaan om Sy Woord te inspireer en dit nie bewaar nie? Waarom sou Hy met ons praat en dan nalaat om ons te lei om Sy woorde te erken?

Hierdie erkenning van God se Woord word gewoonlik "kanonisasie" genoem. Ons is versigtig om te sê dat God die kanon daargestel het en die kerk dit ontdek het. Die kanon in die Skrif is nie deur die Kerk geskep nie; die Kerk het dit eerder ontdek of erken. Met ander woorde, God se Woord was geïnspireerd en gesaghebbend van begin af – "staan vir altyd vas in die hemel" (Ps 119:89) – en die Kerk het dit eenvoudig erken en aanvaar.

Die kriteria wat die Kerk gebruik om God se Woord te erken en saam te stel, is as volg:
Was die boek deur 'n profeet van God geskryf?
Was die skrywer bekragtig deur wonderwerke om sy boodskap te bevestig?
Vertel die boek die waarheid aangaande God, sonder valsiteit of teenstrydigheid?
Openbaar die boek 'n goddelike kapasiteit om lewens te verander?
Was die boek as God se Woord deur die mense wat dit aanvanklik gehoor het, aanvaar?

Die belangrikste een van hierdie kriteria was die eerste een – was die boek deur 'n profeet geskrywe? Die uitvloeisel daarvan, " Het die boek apostoliese goedkeuring?", was die hooftoets vir kanonisiteit in die vroeë Kerk. Hierdie kriterium is 'n logiese gevolgtrekking van wat 'n "apostel" was. Die apostels was deur God toegerus om die skeppers en leiers van die Kerk te wees, dus is dit billik om te aanvaar dat die Woord wat die Kerk gerig het, deur hulle gekom het.

Aan die apostels is belowe dat die Gees van die Waarheid sou kom, om hulle te herinner aan wat Christus gesê het (Joh 14:26) en hulle "in die hele waarheid" te lei (Joh 16:13). Na die hemelvaart van Christus het die apostels bonatuurlike gawes ontvang, om hulle toe te rus vir hul werk en om hul boodskap te bevestig (Hand 2:4). God se huisgesin is "'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete"(Ef 2:20). Deur aan die apostels spesiale opdrag te gee, maak dit net sin dat die Kerk van apostolisiteit as die primêre toets vir kanonisiteit gebruik maak. Dus was die Evangelie van Matteus beskou as kanonities (deur 'n apostel geskryf); en die Evangelie van Markus, met sy noue assosiasie met die apostel Petrus, was ook aanvaar.

Toe die Nuwe Testament geskryf is, was die individuele boeke en briewe onmiddellik aanvaar as God se Woord en was gesirkuleer tot voordeel van andere. Die Kerk van Tessalonika het Paulus se woord ontvang as die Woord van God (1 Tess 2:13). Paulus se sendbriewe is gesirkuleer tussen die Kerke, selfs gedurende die apostoliese tye (Kol 4:16). Petrus het Paulus se geskrifte erken as deur God geïnspireer en het hulle vergelyk met "die res van die Skrif" (2 Pet 3:15-16). Paulus het die Evangelie van Lukas aangehaal en het dit "Skrif" genoem (1 Tim 5:18). Hierdie wydverspreide aanvaarding staan in sterke kontras met die paar gedebatteerde boeke, uiteindelik verwerp as nie-kanonities, maar tog vir 'n tydlank beperkte aanhang geniet.

Later het dwaalleer vermeerder en sommige binne die Kerk het begin lawaai maak vir die aanvaarding van valse godsdienstige geskrifte en toe het die Kerk wys opgetree en 'n raadsitting gehou om hul aanvaarding van die 27 Nuwe Testamentiese boeke offisieel te bevestig. Die kriteria wat hulle gebruik het, het hulle toegelaat om objektief te onderskei van wat God gegee het en dit wat van menslike oorsprong was. Hulle het besluit dat hulle sal hou by die boeke wat universeel aanvaar was. Deur so te doen, het hulle vasberade voortgegaan met die "leer van die apostels" (Hand 2:42).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe besluit ons watter boeke in die Bybel hoort, aangesien die Bybel dit nie sê nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries