Hoekom het Judas vir Jesus verraai?



Vraag: "Hoekom het Judas vir Jesus verraai?"

Antwoord:
Aangesien ons nie absolute sekerheid het waarom Judas vir Jesus verraai het nie, is daar ‘n paar dinge wat seker is. Eerstens, alhoewel Judas as een van die Twaalf gekies was (Joh 6:64), dui alle Skriftelike getuienis daarop dat hy nooit geglo het dat Jesus God was nie. Hy mag dalk nie eens oortuig gewees het dat Jesus die Messias was nie (soos Judas dit verstaan het). Anders as die ander dissipels wat vir Jesus “Here” genoem het, het Judas nooit hierdie titel vir Jesus gebruik nie, maar wel “Rabbi”, wat beteken het dat Jesus niks meer as ‘n Leermeester was nie. Die ander dissipels het by tye groot belydenis van geloof en getrouheid afgelê (Joh 6:68; 11:16), terwyl Judas dit nooit gedoen het nie, maar net voorgekom het asof hy stilbly. Hierdie tekort aan geloof in Jesus is die grondslag vir alle ander onderstaande oorwegings. Dieselfde waarheid is daar vir ons: indien ons nalaat om vir Jesus as God te erken en daardeur die enigste Een wat sondevergifnis kan voorsien en die ewige verlossing wat daarmee saamgaan, onderwerp ons onsself aan baie ander probleme wat aanleiding gee tot ‘n verkeerde siening van God.

Tweedens het Judas nie net ‘n tekort aan geloof in Christus gehad nie, maar hy het baie min of geen persoonlike verhouding met Jesus gehad nie. Waar die sinoptiese Evangelies die Twaalf noem, word hulle altyd in dieselfde volgorde gelys, met min variasies (Matt 10:2-4; Mark 3:16-19; Luk 6:14-16). Die algemene volgorde, so word geglo, is om die relatiewe hegtheid van die persoonlike verhouding met Jesus aan te dui. Ongeag die variasies, word Petrus en die broers Jakobus en Johannes altyd eerste genoem, wat dui op bestendigheid in hul verhouding met Christus. Judas word altyd laaste genoem, wat ‘n aanduiding kan wees van sy swak verhouding met Jesus. Die enigste gedokumenteerde dialoog tussen Jesus en Judas, is waar Judas aangespreek word deur Jesus, toe hy weens geldgierigheid ‘n aanmerking op Maria gemaak het (Joh 12:1-8), Judas se ontkenning van sy verraad (Matt 26:25) en die verraad self (Luk 22:48).

Derdens was Judas tot so ‘n mate geldgierig, dat hy nie net Jesus se vertroue geskaad het nie, maar ook dié van die ander dissipels (Joh 12:5-6). Moontlik het Judas begeer om Jesus te volg, net omdat hy die groot aanhang gesien het en geglo het dat hy voordeel kon trek uit die insamelings uit die groep. Die feit dat Judas in beheer was van die groepsbeursie, dui op sy belangstelling in geld (Joh 13:29).

Soos baie mense in daardie tyd het Judas ook geglo dat die Messias die Romeinse oorheersing gaan oorwin en as heerser oor die volk van Israel gaan optree. Judas mag dalk vir Jesus gevolg het met die hoop om te deel in die nuwe politieke mag wat sou regeer. Daar bestaan geen twyfel dat hy verwag het om tussen die vooraanstaandes te beweeg, na die revolusie nie. Teen die tyd van Judas se verraad het Jesus dit duidelik gemaak dat Hy beplan om te sterf en nie ‘n rebellie teen Rome gaan aanblaas nie. Dus kon Judas, (netsoos die Fariseërs) – aangesien Jesus nie die Romeine sou onttroon nie -Jesus ook nie sien as die Messias was wat hulle verwag het nie.

Daar is ‘n paar Ou Testamentiese verse wat na die verraad verwys, sommige meer spesifiek as ander:

“Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek” (Ps 41:10). Sien die vervulling daarvan in Matt 26:14, 48-49). “Ek het vir hulle gesê: ‘As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.’ Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer. Die Here het vir my gesê: ‘Gooi dit vir die pottebakker!’ En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi” (Sag 11: 12-13: sien Matt 27:3-5 vir die vervulling van die profeet Sagaria se profesie). Hierdie Ou Testamentiese profesieë dui daarop dat God geweet het van Judas se verraad en dat dit in soewereiniteit vooraf beplan is op watter manier Jesus sou sterwe.

Nou, indien Judas se verraad aan God bekend was, het Judas ‘n keuse gehad en is hy verantwoordelik vir sy aandeel in die verraad? Vir baie is dit moeilik om die konsep “vrye wil” te begryp (soos die meeste mense dit verstaan) met God se voorkennis van toekomsgebeure. Dit is grootliks toe te skryf aan ons beperkte ondervinding van die feit dat ons tyd lineêr beleef – ons sien tyd in ‘n reguitlyn. Indien ons vir God sien as tydloos, aangesien Hy alles voordat “tyd” bestaan het, geskep het, dan kan ons verstaan dat God elke oomblik “tyd” as teenwoordig sien. Ons beweeg egter van een punt geleidelik na ‘n volgende en onthou die verlede waardeur ons reeds gereis het, maar is nie by magte om die toekoms waarheen ons op pad is, te sien nie. Tog is God, die ewige Skepper van die konstruksie van tyd, nie “in tyd” of “op tyd” nie, maar buite tyd. Dit mag dalk help om aan tyd te dink (met betrekking tot God) as ‘n sirkel met God in die senter en daarom op gelyke afstand, na-aan alle punte.

In elk geval, Judas het volle kapasiteit gehad om sy keuse te maak – ten minste tot op die punt waar “die Satan in hom ingevaar” het (Joh 13:27) – en God se voorkennis (Joh 13:10, 18, 21) het op geen manier Judas se vermoë om enige gegewe keuse te maak, vervang nie. Dit wat Judas uiteindelik sou kies, het God gesien asof dit ‘n teenswoordige waarneming was en Jesus het dit duidelik gemaak dat Judas vir sy keuse verantwoordelik was en daarvoor verantwoordelik gehou sou word. “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet” (Mark 14:18). Let op dat Jesus Judas se deelname as ‘n verraad gekenmerk het. Aangaande die verantwoordelikheidsin vir hierdie verraad, het Jesus gesê, “maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie” (Mark 14:21). Satan het ook ‘n aandeel hierin gehad (Joh 13:26-27) en hy sal ook verantwoordelik gehou word vir sy dade. God in Sy groot Wysheid was by magte soos altyd, om selfs Satan se rebellie te manupileer tot voordeel van die mensdom. Satan het gehelp om Jesus na die kruis toe te stuur, waar sonde en dood oorwin is en nou is God se voorsiening vir verlossing vryelik beskikbaar vir almal, wat Jesus Christus as Verlosser aanvaar.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom het Judas vir Jesus verraai?