settings icon
share icon
Vraag

Wat is die bybelse perspektief oor huishoudelike geweld?

Antwoord


Huishoudelike geweld word gedefinieer as ‘n handeling of dreigende optrede van geweld teenoor iemand met wie die oortreder ‘n vorige intieme verhouding gehad het of het. Die term “huishoudelike geweld” bring dikwels die konsep van die “mishandelde vrou” na vore of miskien ‘n getroude paartjie se verbale argument wat eskaleer in fisiese aanranding. Huishoudelike geweld word ook maklik gekoppel aan kindermishandeling. Selfs al is die kind nie fisies beseer nie, kan deur te sien of te hoor dat ‘n ouer mishandel word, erge sielkundige implikasies veroorsaak.

Huishoudelike geweld gaan oor mag en beheer. Alhoewel die term “geweld” fisiese konnotasies het, kan huishoudelike geweld op nie-fisiese wyses plaasvind. Byvoorbeeld, misbruikers kan hul slagoffer manipuleer deur emosionele of ekonomiese maniere te gebruik. Verbale mishandeling en seksuele misbruik is ander vorms daarvan. ‘n Persoon van enige ouderdom, geslag, sosio-ekonomiese klas, vlak van opvoeding of godsdiens kan daardeur geraak word.

Dit kan gesien word in terme van ‘n “kringloop van mishandeling.” Spanning bou op; die slagoffer probeer om die misbruiker rustig te hou; maar uiteindelik gebeur ’n insident. Die misbruiker vra om verskoning en probeer om op te maak met die slagoffer, miskien deur te belowe dat dit nooit weer sal gebeur nie of deur die slagoffer met geskenke te bederf. Dan kom daar ‘n tyd van kalmte, voordat die spanning weer begin opbou. Die stadiums van hierdie kringloop kan slegs minute of oor jare ontwikkel. Sonder ingryping kan die periodes van “opmaak” en “kalmeer” dikwels verdwyn.

Huishoudelike geweld is in sterk opposisie teenoor God se plan vir families. Gen 1 en 2 beeld die huwelik uit as ‘n “een vlees”, om mekaar te help, verhouding. Ef 5:21 praat oor wederkerige onderwerping. Ef 5:22-24 verduidelik ‘n vrou se onderdanigheid aan haar man, terwyl 25-33 praat oor ‘n man se selfopofferende liefde vir sy vrou. 1 Pet 3:1-7 gee soortgelyke instruksies. 1 Kor 7:4 sê, “Die vrou beskik nie oor oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.” Die twee behoort aan mekaar en word gemaan om mekaar lief te hê, soos Christus ons liefgehad het. Die huwelik is ‘n beeld van Christus en die Kerk. Huishoudelike geweld is ‘n vérweg roep van die karakter van Jesus af.

Huishoudelike geweld, insluitende kinders, word ook deur God veroordeel. Ps 127:3 sê, “Kinders is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.” God vertrou kinders aan ouers toe en daardie ouers moet in liefde vir hulle versorg en opvoed. Ef 6:4 sê, “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil” (kyk ook na Kol 3:21). Kinders moet hulle ouers gehoorsaam (Ef 6:1-3) en dissipline is belangrik. Maar dissipline is duidelik verskillend van geweld en mishandeling.

Om God te volg, sluit in om ander te dien, nie te manipuleer en hulle te beheer nie. Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Matt 20:26-28). Sy opdrag aan ons is om “mekaar lief te hê” (Joh 13:34). Ef 5:1-2 sê, “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons liefgehad het en om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” Christene is geroep om mekaar lief te hê en vir mekaar op te offer, veral hulle in hul eie families.

Hulle wat tans in ‘n soortgelyke situasie is, moet alles moontlik doen om veilig daaruit te kom. Dikwels is dit die gevaarlikste tyd vir ‘n slagoffer, wanneer sy of hy uitkom. Om die polisie te kontak, kan in orde wees of daar kan ander plaaslike bronne beskikbaar wees om te help. In die Verenigde State van Amerika kan die National Domestic Violence Hotline help met inligting en bronne. Hul no is 1-800-799-7233. Hulle kan ook gevind word by http://www.thehotline.org/ (Let wel: rekenaargebruik kan gemonitor word, dus is dit nie veilig as die misbruiker toegang daartoe het nie). Waar huisgeweld plaasvind, is veiligheid die eerste stap. In Suid-Afrika is hulp by Domestic Violence Helpline: 0800 150 150.

Selfs nadat slagoffers fisies veilig is en liggaamlike wonde genees het, bly emosionele en sielkundige littekens lank nog bestaan. Huishoudelike geweld kan erge geestelike implikasies ook hê. Slagoffers kan God ook wantrou. Hoekom sal Hy so iets toelaat om te gebeur? Is Hy betroubaar? Het Hy my regtig lief? Waar was Hy toe ek mishandel is? Om deur die genesingstyd te gaan, vra tyd. Die emosionele reaksie teenoor die situasie moet kom. Dit is gepas om kwaad te word. As ons nie die erns van die situasie erken nie – die woede, die verwarring, die seer, die skaamte, ens. – kan ons nie daarvan heel word nie. Té dikwels is slagoffers te gou om te vergewe. Dit is egter so, dat vergifnis die ding is wat ‘n slagoffer vrymaak. Ware vergifnis kan egter nie uitgerek word, indien die littekens van die slagoffer nie eerstens erken en verwerk word nie. Hierdie slagoffers het waarskynlik die ondersteuning van ‘n goed opgeleide Christelike berader nodig, om die helingsproses saam met hulle te deurloop.

Ons moenie aanneem dat misbruikers geen ander behoeftes het, as om mishandeling te staak nie. Daar is waarskynlik ander kwessies wat daartoe aanleiding gee. Indien so iemand gewillig is om sy/haar misdadigheid en begeertes te erken en hulp te soek, is daar hoop. Weereens is Christelike berading van groot waarde.

Elke huishoudelike mishandeling is ‘n ander storie. Die situasies en mense verskil so baie, dat nie een artikel die kwessie behoorlik kan hanteer nie. Dit is tog so, dat in die algemeen, huweliksberading nie die voldoende oplossing is nie – ten minste nie, totdat al die mishandeling gestop het nie, beide partye individuele berading ondergaan het en beide partye versoening verkies nie. Dieselfde is waar vir familieterapie. Kinders moet nooit in ‘n situasie van mishandeling geplaas word of van verwag word om in so iets te bly, terwyl ‘n misbruiker terapie ontvang vir godvresende ouerskap nie.

Huishoudelike geweld maak God se hart baie seer. Hy staan nie ongevoelig teenoor sy slagoffers nie, Hy het hulle ook nie verstoot nie. Sy plan vir menslike verhoudings – spesifiek tussen families – is ‘n kosbare beeld van Wie Hy is. Familie is veronderstel om God se liefde te reflekteer. Dit maak Hom hartseer as ‘n huis in ‘n plek van pyn omskep word. God se hart vir diegene betrokke by huishoudelike geweld – beide slagoffers, asook misbruikers – is genesing en om weer heel te word.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die bybelse perspektief oor huishoudelike geweld?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries