settings icon
share icon
Vraag

Moet Christenvroue kopbedekkings dra?

Antwoord


1 Kor 11:3-16 spreek die kwessie aan oor vroue en hoofbedekkings. Die konteks van die gedeelte is onderwerping aan die Godgegewe orde en "ordeketting". 'n Bedekking op 'n vrou se kop is gebruik as 'n illustrasie van orde, hoofskap en die outoriteit van God. Die sleutelvers van hierdie gedeelte is 1 Kor 11:3, "Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man en 'n man die hoof van sy vrou en God die hoof van Christus." Die res van die gedeelte handel oor die implikasies van hierdie waarheid. Die orde van outoriteit is God die Vader, God die Seun, die man of eggenoot en die vrou of eggenote. Die bedekking of sluier op die kop van 'n gelowige Korintiese vrou het getoon dat sy onder die outoriteit van haar man was en dus onderdanig aan God.

Vers 10 is interessant: "Daarom behoort die vrou 'n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele." Hoekom is dit belangrik vir die engele? Ons weet dat God se verhouding met die mensdom iets is wat engele na kyk en vanuit leer (1 Pet 1:12). Dus is 'n vrou se onderdanigheid aan God se gedelegeerde outoriteit 'n voorbeeld vir engele. Die heilige engele wat volkome onderdanig aan God is, verwag dat ons as Christus se volgelinge, dieselfde sal wees.

Die bedekking in vers 13 kon 'n doek gewees het, maar dit kan ook na 'n vrou se haarlengte verwys, gebaseer op die volgende twee verse: "Die algemene opvatting is tog dat dit vir 'n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie, maar dat dit vir 'n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as bedekking" (1 Kor 11:14-15). In die konteks van hierdie gedeelte is dit duidelik dat 'n vrou wat haar hare langer dra, haarself onderskei as 'n vrou en nie 'n man nie. Die apostel Paulus sê dat in die Korintiese kultuur was dit so, dat as 'n vrou se hare langer was as haar man s'n, het dit haar onderdanigheid aan sy hoofskap gewys. Die rolle van die man en die vrou is deur God ontwerp om sodoende 'n diepgaande geestelike les uit te beeld: dit is onderdanigheid aan die wil en die orde van God.

Maar waarom was hare 'n kwessie in Korinte? Die antwoord lê in die kultuur van daardie tyd. Die stad Korinte het 'n tempel gehad wat aan Afrodite gewy was, die godin van liefde en die plek was ongewild as gevolg van die praktyk van prostitusie. Die vrouens wat in die tempel gedien het, se koppe was geskeer. In die Korintiese kultuur was 'n vrou met geskeerde hare as 'n tempelprostituut beskou. Paulus het aan die kerk gesê dat 'n vrou wie se hare afgeskeer is, bedek moes wees (1 Kor 11:6), want 'n vrou met afgeskeerde hare het haar "eer" verloor en sy was nie onder die beskerming van 'n man nie. Dit het dan 'n boodskap uitgestuur: "Ek weier om aan God se orde onderdanig te wees." Dus leer Paulus die Korintiërs dat haarlengte of die dra van 'n "bedekking" deur die vrou, 'n uitwendige aanduiding was van onderdanigheid aan God en aan Sy daargestelde outoriteit. Dit was een manier hoe die Korintiese kerk geskei was van die korrupte heidense kultuur rondom hulle (2 Kor 6:17).

Hierdie gedeelte leer nie dat die vrou minderwaardig teenoor die man is of dat sy onderdanig aan elke man moet wees nie. Dit is eenvoudig om God se orde te leer en geestelike hoofskap in die huweliksverhouding te verduidelik. In die Korintiese kultuur het 'n vrou wat haar kop gedurende aanbidding bedek het of wanneer sy in die openbaar verskyn het, getoon dat sy aan outoriteit onderdanig was.

In die hedendaagse kultuur kyk ons nie meer na 'n vrou se bedekte hoof as 'n teken van onderdanigheid nie. In die meeste moderne gemeenskappe, is serpe en hoede modebykomstighede en niks meer nie. Vandag se vrou het die keuse om 'n hoofbedekking te dra, indien sy dit beskou as 'n teken van haar onderdanigheid aan haar man se outoriteit. Dit is egter 'n persoonlike keuse en nie 'n teken van geestelikheid nie. Die werklike kwessie is die hart se gesindheid van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan die outoriteit "soos julle aan die Here onderdanig is" (Ef 5:22). God is by verre meer besorg oor die gesindheid in die hart as die bedekking op die kop.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Moet Christenvroue kopbedekkings dra?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries