settings icon
share icon
Vraag

Hoekom moet ons die Ou Testament bestudeer?

Antwoord


Daar is baie redes waarom die Ou Testament bestudeer moet word. Een rede is dat die Ou Testament die grondslag vir leringe en gebeure in die Nuwe Testament lê. Die Bybel is ‘n progressiewe openbaring. As jy die eerste helfte van enige goeie boek oorslaan en dan probeer om dit te voltooi, sal jy sukkel om die karakters te verstaan, die knoop en die einde. So ook is die Nuwe Testament slegs volkome verstaanbaar, as ons die oorsprong van die gebeure sien, karakters, wette, offerande-stelsel, verbonde en beloftes van die Ou Testament.

As ons net die Nuwe Testament gehad het en ons lees die Evangelies, sou dit vir ons onduidelik gewees het waarom die Jode ‘n Messias (‘n Verlosser Koning) gewag het. Ons sou nie verstaan het waarom hierdie Messias moes kom nie (Jes 53) en dit sou ook nie moontlik wees om Jesus van Nasaret as die Messias te identifiseer, deur die baie profesieë wat oor Hom gegee is nie (bv Sy geboorteplek (Miga 5:1), Sy manier van sterwe Ps 22, veral verse 2,7,8,14,18; 69:21-22), Sy opstanding (Ps 16:10, en baie meer inligting oor Sy bediening (Jes 9:2; 52:3).

‘n Studie van die Ou Testament is ook belangrik om die Joodse gewoontes, wat deurgaans in die Nuwe Testament genoem word, te verstaan. Ons sou nie die manier waarop die Fariseërs God se Wet verdraai het, deur hul eie tradisies by te voeg, verstaan het of waarom Jesus so ontsteld was toe Hy die tempel se binneplaas opgeruim het of waar Jesus die woorde gekry het wat Hy in Sy baie antwoorde aan teenstanders, gebruik het nie.

Die Ou Testament bevat talryke uitgebreide profesieë wat alleen kon waar word as die Bybel God se Woord is en nie mense s’n nie (bv Daniël 7 en die daaropvolgende hoofstukke). Daniël se profesieë gaan spesifiek oor die val en opstaan van nasies. Hierdie profesieë is so akkuraat, dat skeptici glo dat hul na afloop van daardie gebeure geskryf is.

Ons moet die Ou Testament bestudeer, aangesien dit ontelbare lesse vir ons bevat. Deur die lewens van Ou Testamentiese karakters te bekyk, vind ons leiding vir ons eie lewens. Ons word uitgedaag om God te vertrou, maak nie saak wat gebeur nie (Dan 3). Ons leer om vas te staan in ons beskuldigings (Dan 1) en om die loon van getrouheid af te wag (Dan 6). Ons leer dat dit die beste is om sonde vroegtydig te bely en erns daarvan te maak, in plaas van die skuld op iemand anders te laai (1 Sam 15). Ons leer om nie met sonde te speel nie, aangesien dit tog na vore sal kom (Rigters 13:16). Ons leer dat ons sonde gevolge dra, nie net vir onsself nie, maar vir ons geliefdes (Gen 3) en omgekeerd, dat ons goeie gedrag beloning vir ons en diegene rondom ons inhou (Eks 20:5,6).

Die Ou Testament help ons ook om profesie te verstaan. Dit bevat baie beloftes wat God tans vir die Joodse volk vervul. Dit openbaar dinge soos die duur van die Verdrukking, hoe Christus se 1000 jaar van bewind Sy beloftes aan die Jode vervul en hoe die slot van die Bybel al die los drade wat ontstaan het, sedert die begin van die tyd, weer bymekaar bring.

Om op te som, die Ou Testament gee ons ruimte om te leer hoe om God lief te hê en te dien. Dit openbaar meer oor God se karakter. Dit wys deur middel van profesieë wat herhaaldelik vervul is, waarom die Bybel uniek van ander heilige boeke is. Dit alleen het die vermoë om te bewys, wat dit beweer om te wees: die geïnspireerde Woord van God. As jy dus nog nie ‘n reis deur die Ou Testament se blaaie onderneem het nie, dan mis jy baie van wat God tot jou beskikking stel.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom moet ons die Ou Testament bestudeer?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries