settings icon
share icon
Vraag

Wat is die hemelse krone wat gelowiges in die hemel kan ontvang?

Antwoord


Daar is 5 hemelse krone wat in die Nuwe Testament genoem word, wat aan gelowiges toegeken sal word. Hulle is die onverganklike kroon, die kroon van blydskap, die kroon van geregtigheid, die kroon van heerlikheid en die kroon van die lewe. Die Griekse woord vir “kroon” is “stephanos” (die oorsprong vir die naam Stefanus, die martelaar) en dit beteken “’n wapen van koninklikheid, ‘n prys in die publieke spele of ‘n simbool van eerbetoon in die algemeen.” Gedurende die antieke Griekse spele is krone gebruik; ‘n krans of girlande van blare was op die kop van die oorwinnaar geplaas as ‘n beloning vir die wen van ‘n atletiekwedloop. Hierdie atletiek-eerbewys word figuurlik in die Nuwe Testament gebruik vir die belonings in die hemel wat God belowe aan die regverdiges. 1 Kor 9:24-25 definieer die beste hoe hierdie krone toegeken word.

Die Onverganklike Kroon – (1 Kor 9:24-25) “Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike.” Alle dinge op hierdie aarde is onderwerp aan verganklikheid en sal vergaan. Jesus moedig ons aan om nie ons skatte op aarde te vergaar nie “waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie” (Matt 6:19). Dit is soortgelyk aan wat Paulus gesê het oor die atleet se blarekrans wat verwelk en uitmekaar val. Die hemelse kroon is nie so nie; getroue volharding wen ‘n hemelse beloning, wat as volg is:“die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet 1:3-5).

Die Kroon van Blydskap – (1 Tess 2:20) “Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met Sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? Júlle is immers ons eer en ons blydskap!” Paulus vertel ons in Fil 4:4 om altyd bly te wees in die Here, vir die oorvloedige seën van genade wat God oor ons uitgestort het. As Christene het ons baie meer as enigiemand anders om oor bly te wees in hierdie lewe. Lukas sê daar is blydskap in die hemel (Luk 15:7). Die kroon van blydskap sal ons beloning wees, waar God “al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Openbaring 21:4).

Die Kroon van Regverdigheid – (2 Tim 4:8) “Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na Sy koms.” Ons erf hierdie kroon deur die regverdigheid van Christus; sonder Christus se regverdigheid, kan hierdie kroon nie verkry word nie. Omdat dit deur regverdigheid verkry word en nie deur mag en misleiding bewerkstellig word nie, soos aardse krone soms, is dit ‘n ewige kroon, aan almal belowe wat die Here liefhet en uitsien na Sy koms. Deur ons voortdurende ontmoediging, vervolging, lyding of selfs die dood, weet ons met sekerheid dat ons beloning saam met Christus in die ewigheid wag (Fil 3:20). Hierdie kroon is nie vir hulle wat afhanklik is van hul eie regverdigheid nie. So ‘n gesindheid kweek net arrogansie en trots, nie ‘n verlange om saam met die Here te wees nie.

Die Kroon van Heerlikheid– (1 Pet 5:4) “En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.” Hierdie woord “heerlikheid” is ‘n interessante woord, wat verwys na die egte natuur van God en Sy aksies. Dit bevat Sy groot glans en helderheid. Dink aan Stefanus, wat terwyl hy gestenig word tot die dood, was hy in staat om op te kyk na die hemel en die heerlikheid van God te sien (Hand 7:55-56). Hierdie woord beteken ook dat die lofprysing en eer wat ons aan God gee, Hom waardig is, omdat Hy is Wie Hy is (Jes 42:8; 48:11; Gal 1:5). Gelowiges is ongelooflik geseënd om in die koninkryk in te gaan en die kroon van heerlikheid te ontvang, die beeld van Christus Self te ontvang. Soos Paulus gesê het, “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom 8:18).

Die Kroon van die Lewe – (Openbaring 2:10) “Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe en Ek sal julle die lewe as kroon gee.” Hierdie kroon is vir alle gelowiges, maar spesiaal vir hulle wat lyding verduur het, wat vervolging vir Jesus moes deurmaak, selfs tot die dood toe. In die Skrif word die woord “lewe” dikwels gebruik om ‘n ware verhouding met God uit te beeld. Jesus het gesê, “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Netsoos lug, kos en water noodsaaklik is vir fisiese lewe, is Jesus noodsaaklik vir geestelike lewe. Hy is die Een wat die “lewende water” voorsien. Hy is die “brood van die lewe” (Joh 4:10; 6:35). Ons aardse lewens sal eindig, maar ons het die wonderlike belofte aan almal wat deur Jesus na God gekom het: “En dit is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh 2:25).

Jakobus sê dat hierdie kroon van die lewe vir almal is wat God liefhet (Jak 1:12). Die vraag is dan, hoe demonstreer ons ons liefde vir God? Die apostel Johannes antwoord dit: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie” (1 Joh 5:3). As Sy kinders moet ons Sy gebooie nakom, deur Hom getrou te gehoorsaam. Dus, soos ons die onvermydelike beproewinge, pyn, hartseer en verdrukkings verduur – so lank as wat ons lewe – mag ons altyd vorentoe beweeg, altyd “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb 12:2) en die kroon van die lewe ontvang, wat op ons wag.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die hemelse krone wat gelowiges in die hemel kan ontvang?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries