settings icon
share icon
Vraag

Hoekom word die Bybel die Heilige Bybel genoem?

Antwoord


Die frase "biblia sacra" (heilige boeke) het vir die eerste maal gedurende die Middeleeue verskyn. Een van die vroegste – indien nie dié vroegste nie – gebruike van "The Holy Bible" in Engels het in 1611 verskyn op die buiteblad van die "Authorized Version", bekend in die Verenigde State as die "King James Version." Die woord "holy" het verskeie betekenisse en soos ons sal sien, beskryf almal die Woord van God.

Een betekenis van "heilig" is: gewyd, reinheid, godgewyd. Toe God met Moses by die brandende bos gepraat het, het Hy hom beveel om sy sandale uit te trek, omdat hy op "heilige grond" gestaan het: grond wat deur God se teenwoordigheid geheilig is. Aangesien God heilig is, is die woorde van Sy mond ook heilig. So was ook die woorde wat God aan Moses op Sinai gegee het, ook geheilig en dus is alle woorde van God in die Bybel aan die mensdom, heilig. Aangesien God volmaak is, is Sy woorde volmaak: Ps 19:8, "Die Woord van die Here is volmaak: dit gee lewe". God is regverdig en rein en so ook Sy Woord.

Die Bybel is ook heilig, omdat dit deur mense geskryf is onder die leiding en invloed van die Heilige Gees. "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk" (2 Tim 3:16). Die Griekse woord "geïnspireerd" is "Theopneustos" afgelei van "theos", wat God beteken en "pneo" beteken "om asem te haal of asem in iets te blaas." Ons kry die Engelse word "pneumonia" vanaf hierdie Griekse oorsprong. Dus, ons Heilige God, in die persoon van die Heilige Gees, het letterlik die heilige woorde van die Skrif in die skrywers van elke Bybelboek ingeasem. Die goddelike Skrywer is heilig; dus, wat Hy skrywe, is heilig.

'n Ander betekenis van "heilig" is om "af te sonder." God het die volk van Israel afgesonder van hul tydgenote om "'n koninkryk wat My as priesters dien en 'n gewyde nasie" te wees (Eks 19:6). Op dieselfde wyse is Christene afgesonder van ongelowiges wat in duisternis lewe, soos Petrus dit beskryf in 1 Pet 2:9, "Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare lig." Hierdie "afsonderings"-aspek van heiligheid is waar van die Bybel, omdat dit 'n Boek is wat afgesonder is van alle ander boeke. Dit is die enigste Boek deur God Self geskryf, die enigste Boek wat die krag het om mense vry te maak (Joh 8:32), om hul lewens te verander en hulle wysheid te gee (Ps 19:8), om hulle gewyd en heilig te maak (Joh 17:17). Dit is die enigste Boek wat lewe, troos en hoop gee (Ps 119:50) en dit is die enigste Boek wat tot in ewigheid voortduur (Matt 5:18).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom word die Bybel die Heilige Bybel genoem?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries