settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek ‘n hegter verhouding met God hê?

Antwoord


Om ‘n hegter verhouding met God te ontwikkel, is ‘n aantreklike doelwit en weerspieël ‘n hart wat werklik wedergebore is, want alleenlik hulle wat in Christus is, begeer ‘n hegter verhouding met God. Ons moet ook verstaan dat in hierdie lewe sal ons nooit só naby God wees, as wat ons behoort te wees of begeer om te wees nie. Die rede hiervoor is dralende sondes in ons lewens. Dit is nie ‘n leemte aan God se kant nie, maar aan ons s’n; ons sondes bly ‘n struikelblok tot ‘n volle en volmaakte verhouding met God, wat eers waarheid sal word as ons eendag in Sy heerlikheid sal wees.

Selfs die apostel Paulus, wat so ‘n hegte verhouding met God gehad het, as enigsins moontlik in hierdie lewe, het steeds verlang na ‘n nóg hegter verhouding: “ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik, sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee, omdat ‘n mens in Hom glo” (Fil 3:8-9). Dit maak nie saak waar ons met Christus staan nie, ons kan altyd nader aan Hom wees en selfs al is ons in die hemel verheerlik, sal ons tot in ewigheid groei in ons verhouding met die Here.

Daar is 5 basiese dinge wat ons kan doen om ‘n hegter verhouding met God te hê.

Die eerste is om dit ‘n daaglikse gewoonte te maak om ons sonde teenoor Hom te bely. Indien sonde die versperring in ons verhouding met God is, dan verwyder belydenis daardie versperring. As ons ons sondes voor God bely, belowe hy om ons te vergewe (1 Joh 1:9), en vergifnis is wat ‘n gebroke verhouding herstel. Ons moet in gedagte hou dat belydenis meer behels as om eenvoudig te sê, “Ek is jammer oor my sonde,God.” Dit is die opregte berou van hulle wat erken dat hul sonde ‘n belediging teenoor ‘n heilige God is. Dit is die belydenis van iemand wat besef dat as gevolg van sy sonde, Jesus Christus aan die kruis vasgenael is. Dit is die uitroep van die tollenaar in Luk 18 wat gesê het, “O, God, wees my, sondaar, genadig.” Soos koning Dawid geskryf het, “’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging” (Ps 51:18-19).

Die tweede ding wat ons kan doen, is om te luister wanneer God praat. Baie mense soek hedendaags na ‘n bonatuurlike ondervinding om God se stem te hoor, maar die apstel Petrus sê, “En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte” (2 Pet 1:19). Daardie “boodskap van die profete” is die Bybel, God se stem vir ons. Dit is deur die “geïnspireerde” Skrif wat ons volkome voorberei en toerus vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16-17). As ons dus nader aan God wil groei,moet ons Sy Woord meer gereeld lees. Sodoende hoor ons dat God met ons praat deur Sy Gees, wat lig op die Woord plaas, sodat ons beter verstaan.

Die derde ding is om met God te praat deur middel van gebed. As ons die Bybel lees om God se stem te hoor, is gebed die instrument vir ons om met God te praat. Die Evangelies vertel dikwels hoe Jesus Homself in die geheim afgesonder het, om met Sy Vader in gebed te praat. Gebed is baie meer as net ‘n eenvoudige manier om vir God te vra wat ons nodig het of vir dinge wat ons wil hê. Kyk na die “Onse Vader” gebed wat Jesus vir Sy dissipels in Matt 6:9-13 gegee het. Die eerste 3 versoeke word direk aan God gerig (laat Sy Naam geheilig word, laat Sy koninkryk kom, laat Sy wil geskied). Die laaste 3 is versoeke wat ons aan God rig, nadat ons aandag aan die eerste 3 gegee het: gee ons ons daaglikse brood, vergewe ons ons skulde, lei ons nie in versoeking nie). Nog iets wat ons kan gebruik om ons gebedslewe aan te wakker, is om die Psalms te lees. Baie daarvan is opregte uitroepe na God aangaande verskeie dinge. In die Psalms sien ons bewondering, belydenis, dankbetuiging en smeking op ‘n goddelike, geïnspireerde wyse.

Vierdens kan ons ‘n liggaam van gelowiges vind om gereeld saam te aanbid. Dit is ‘n uiters belanrike komponent van geestelike groei. Té dikwels benader ons die kerk met ‘n “wat kan ek daaruit kry?” mentaliteit. Ons gebruik selde of ooit die tyd om ons harte en gedagtes voor te berei vir aanbidding. Weer wys die Psalms vir ons baie plekke waar God Sy mense oproep om in Sy teenwoordigheid te kom en die Here te aanbid (bv. Ps 95:1-2). God nooi ons, beveel ons om in Sy teenwoordigheid te kom vir aanbidding. Hoe kan ons, Sy kinders, nalaat om dit te doen? Gereelde kerkbywoning gee vir ons dié geleentheid, maar dit gee ons ook geleentheid om saam met die Here se kinders te aanbid. Wanneer ons so in die huis van die Here bymekaar kom, kan ons nie anders as om nader aan die Here te groei nie.

Laastens, word ‘n hegte verhouding met God gebou op grond van ‘n lewe van gehoorsaamheid. Jesus het vir Sy dissipels in die bovertrek gesê, “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem” (Joh 14:23). Jakobus sê vir ons dat indien ons onsself deur gehoorsaamheid aan God onderwerp, die duiwel weerstaan en nader aan God leef, sal Hy nader na ons toe kom (Jak 4:7-8). Paulus vertel in Romeine dat ons gehoorsaamheid ‘n “lewende offer” van danksegging teenoor God is (Rom 12:1). Ons moet in gedagte hou dat alle Bybelse vermanings in verband met gehoorsaamheid verteenwoordigend is van ons antwoord op die genade van God wat ons in verlossing ontvang. Ons verdien nie redding deur ons gehoorsaamheid nie; dit is eerder die manier waarop óns liefde en dankbaarheid teenoor God bewys.

Dus, deur belydenis, Bybelstudie, gebed, gereelde kerkgang en gehoorsaamheid, kan ons ‘n hegter verhouding met God ontwikkel. Dit lyk eintlik eenvoudig of simplisties, maar neem in ag hoe ons ‘n beter vriendskap met ander mense ontwikkel? Ons spandeer tyd met hulle deur te gesels, ons harte teenoor hulle oop te maak en na hulle te luister terselfdertyd. Ons erken wanneer ons verkeerd was en soek vergifnis. Ons probeer om hulle goed te behandel en offer onsself op om in hul behoeftes te voorsien. Dit is tog nie regtig anders met ons verhouding teenoor ons Hemelse Vader nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek ‘n hegter verhouding met God hê?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries