settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Groot Verdrukking?

Antwoord


Die Verdrukking is 'n toekomstige tydslyn wanneer die Here ten minste twee aspekte van Sy plan wil bereik: Hy wil Sy dissiplinering van die Israelse volk voltooi (Dan 9:24) en Hy wil die ongelowige, goddelose inwoners van die aarde oordeel (Openbaring 6-18). Die tydsduur vn die Verdrukking is sewe jaar. Dit is bepaal deur die 70 weke van Daniël (Dan 9:24-27; lees ook die artikel oor die Verdrukking).Die Groot Verdrukking is die laaste helfte van die verdrukkingsperiode, omdat die Ondier of Antichris geopenbaar sal word en die wraak van God sal gedurende hierdie tyd vererger. Dit is belangrik om op hierdie tydstip te beklemtoon dat die Verdrukking en die Groot Verdrukking nie sinonieme terme is nie. Binne die eskatologie (studie van die toekomstige dinge) verwys die Verdrukking na die volle sewejaar -periode, terwyl die "Groot Verdrukking" na die tweede helfte van die Verdrukking verwys.

Dit is Christus self wat die frase "Groot Verdrukking" gebruik het, met verwysing na die laaste helfte van die Verdrukking. In Matt 24:21 sê Jesus, "want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie." In hierdie vers verwys Jesus na die gebeure in Matt 24:15, waar die openbaring van die "ding wat 'n gruwel is vir God" beskryf word: die mens, ook bekend as die Antichris. Jesus sê ook in Matt 24:29-30, "Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit." In hierdie gedeelte definieer Jesus die Groot Verdrukking (v 21) as die begin van die openbaring van die "ding wat 'n gruwel is vir God" (v 15) en eindig met Christus se Wederkoms (v 30).

Ander gedeeltes wat na die Groot Verdrukking verwys, is Dan 12:1b, wat sê, "Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie." Dit wil voorkom asof Jesus hierdie vers aangehaal het, toe Hy die woorde van Matt 24:21 gespreek het. Jer 30:7 verwys ook na die Groot Verdrukking, "Daar wag ellende! Dit is 'n vreeslike dag, sonder gelyke. Dit is 'n tyd van swaarkry vir Jakob, maar hy sal daaruit gered word." Die frase "swaarkry vir Jakob" verwys na die volk Israel, wat vervolging en natuurrampe soos nooit tevore sal beleef nie.

Met inagneming van die inligting wat Christus in Matt 24:15-30 gee, is dit maklik om tot die slotsom te kom dat die aanvang van die Groot Verdrukking baie te doen het met die "ding wat 'n gruwel is vir God", 'n aksie van die Antichris. In Dan 9:26-27 vind ons dat hierdie mens 'n "verbond" ('n vredesverdrag) met die wêreld vir sewe jaar lank sluit (een "week"; lees die artikel oor die Verdrukking). Halfpad deur die sewejaar-periode — "in die middel van die week" – word aan ons vertel dat hierdie mens die verbond wat hy gemaak het, sal verbreek, deur sonde- en graanoffers te stop, wat spesifiek verwys na sy aksies in die herbouing van die tempel in die toekoms. Openbaring 13:1-10 gee selfs meer detail aangaande die Ondier se handelinge en net so belangrik, dit verifieer die tydsduur wat hy in beheer sal wees. Openbaring 13:5 sê dat hy vir 42 maande sal heers, dit is drie en 'n half jaar, die duur van die Groot Verdrukking.

Openbaring bied ons die meeste inligting aangaande die Groot Verdrukking. Vanaf Openbaring 13, wanneer die Ondier geopenbaar word tot Christus se Wederkoms in Openbaring 19, kry ons 'n beeld van God se wraak op die aarde as gevolg van ongeloof en rebellie (Openbaring 16-18). Dit is ook 'n beeld van hoe God dissiplineer en terselfdertyd Sy volk Israel beskerm (Openbaring 14:1-5), totdat Hy Sy belofte aan Israel waar maak, deur 'n aardse koninkryk tot stand te bring (Openbaring 20:4-6).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Groot Verdrukking?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries