Vraag
Wat is die godslastering-uitdaging?
Antwoord
Die "godslastering-uitdaging" is 'n internet gebaseerde projek wat in Desember 2006 begin is en jongmense uitnooi om videos op YouTube of ander internetvideo-bedieners in te stuur, waarin hulle hulself opneem, terwyl hulle laster pleeg of die bestaan van die Heilige Gees ontken. Die eerste 1001 gebruikers wat die godslastering-uitdaging aangeneem het, het 'n DVD van Flemming se film "The God Who Wasn't There" ontvang. Bekende ateïste soos Christopher Hitchens, Daniel Dennett en Penn Jillette het aan die projek deelgeneem. Agter die projek staan die "Rational Response Squad," 'n groep ateïste wat deur Brian Sapient en Rook Hawkins tot stand gebring is.
Sleutel tot die motief agter die uitdaging is die "Rational Response Squad" se siening oor die sogenaamde onvergeeflike sonde, spesifiek godslastering teen die Heilige Gees (sien Markus 3:28–29 en Matteus 12:30–32). Gebruikers wat die uitdaging aangeneem het, het hulleself dus gesien asof hulle 'n punt van geen terugkeer oorskry het nie, en sou "die gevolge aanvaar" as die Christelike God inderdaad bestaan.
Alhoewel godslastering teen die Heilige Gees 'n sonde is, versuim die "godslastering-uitdaging" om te verstaan wat presies DIE godslastering teen die Heilige Gees/die onvergeeflike sonde is. Om die bestaan van die Heilige Gees te ontken is nie die onvergeeflike sonde nie. Om sekere woorde te sê wat die Heilige Gees beledig, is nie DIE godslastering teen die Heilige Gees nie. Bybels gesproke was die lastering teen die Heilige Gees om te sien hoe Jesus 'n wonder verrig en daardie krag aan Satan toe te skryf, in plaas van aan die Heilige Gees. Hierdie spesifieke lastering teen die Heilige Gees, die onvergeeflike sonde, kan vandag nie gepleeg word nie. Die enigste onvergeeflike sonde vandag is om te sterf in hardnekkige verwerping van die saligheid, wat deur Jesus Christus beskikbaar is. God kan en sal enige sonde vergewe, maar Sy aanbod van vergifnis is slegs in hierdie lewe beskikbaar.
Om dit op te som, is die godslastering-uitdaging in wese 'n stelling dat 'n persoon so oortuig is dat God nie bestaan nie, dat hy of sy bereid is om "alles te waag" deur 'n sonde te pleeg wat die Bybel sê, God nie sal vergewe nie. Die probleem is dat die "Rational Response Squad" nie verstaan wat die godslastering van die Heilige Gees was nie, en die omvang van God se liefde, barmhartigheid, genade en vergifnis onderskat. Hoe belaglik, gevaarlik en onwys die godslastering-uitdaging ook al is, pleeg deelnemers nie 'n onvergeeflike sonde nie. God kan en sal die godslastering-uitdaging vergewe, net soos Hy enige ander sonde sal vergewe. Het jy Vergifnis?
Romeine 1:21-22 beskryf die "Rational Response Squad" nogal akkuraat: "Want alhoewel hulle God geken het, het hulle Hom nie as God verheerlik of dank betoon nie, maar hulle denke het ydel geword en hulle dwase harte is verduister. Alhoewel hulle beweer het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword..."
English
Wat is die godslastering-uitdaging?