settings icon
share icon
Vraag

Is die geskrifte van Paulus geïnspireerd (Sien 1 Kor 7:12)?

Antwoord


Die meerderheid van die konserwatiewe evangeliese Christendom glo in wat genoem word: die verbale inspirasie van die Skrif – dit beteken dat elke enkele woord in die Bybel deur God "geïnspireer" is (2 Tim 3:16). Indien Bybelse kritisisme beweer dat 1 Kor 7:12 nie geïnspireer is nie, maar eerder Paulus se eie opinie is, watter ander gedeeltes volgens hulle kan dan die opinie van menslike skrywers wees en nie die opdrag van die goddelike Outeur nie? Hierdie saak raak die hart van Bybelse outoriteit.

Paulus het hierdie brief aan 'n groep Christene in Korinte geskryf – 'n baie korrupte stad. 'n Gedeelte van daardie korrupsie was toe te skryf aan die teenwoordigheid van die tenpel van Afrodite (Aphrodite), die woonplek van meer as 1000 tempelprostitute. Dit was hier waar Paulus die kerk van Korinte gestig het. Dit is 'n feit dat baie van die kerkmense uit die immorele Korintiese leefstyl gekom het. Die kerk van Korinte was saamgestel uit voormalige hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, homoseksueles, diewe en dronkaards (1 Kor 6:9-11).

Toe Paulus in hoofstuk 7 van sy brief gekom het, beantwoord hy 'n vraag wat die kerk gehad het, betreffende seksuele verhoudings tussen mans en vrouens. Gegewe die sosiale klimaat in Korinte, het die Korintiërs gedink dit sou 'n goeie ding wees vir elkeen om selibaat te bly. Paulus stem saam en hy stel dit duidelik dat hy wens dat meer mense selibaat sou wou bly, soos hyself was. Paulus is nie besig om die huwelik oneer aan te doen nie, maar al wat hy sê, is dat daar voordele vir 'n enkellopende in die bediening is. Tog noem Paulus dat enkellopendheid 'n gawe van God is en dat nie almal hierdie gawe het nie (vers 7). Vir diegene wat reeds getroud is, sê Paulus, om so te bly en in vers 10 sê hy, "nee, nie ek nie, maar die Here." Dit beteken dat Paulus aan die Korintiërs 'n direkte opdrag van Jesus deurgee. Hierdie opdrag kom vanuit Jesus se lering in die Evangelies en spesifiek uit Matt 5:32.

Laastens in vers 12 spreek Paulus die gemengde huwelike aan – daardie tussen 'n Christen en nie-Christen. Gegewe die heersende omgewing, kon Christene in die versoeking kom om van hul ongelowige huweliksmaat te skei. Deur so te doen, het hulle gedink sou hulle hulself reinig. Paulus sê aan die gelowige om trou te bly aan die ongelowige, met die opmerking dat die opdrag van hom af kom, nie van Jesus af nie. Paulus is egter nie besig om sy eie opinie hier te gee nie. Wat hy egter sê is dat Jesus nooit hierdie saak direk aangespreek het gedurende Sy bediening op aarde nie. Die Evangelies bevat geen direkte lering van Jesus, waar Hy die situasie tussen 'n gelowige en ongelowige huweliksmaat aanspreek nie. Jesus het net een wettige rede vir egskeiding in Matt 5:32; 19:19 gegee en om met 'n ongelowige getroud te wees, was nie dit nie.

Dus is die beste antwoord dat Paulus nuwe openbaring voorsien het in 'n area wat Jesus nie spesifiek aangespreek het nie. Dit is waarom Paulus sê, "nee, nie ek nie, maar die Here", met ander woorde, ek, nie Jesus nie, gee julle hierdie opdrag, alhoewel dit gebaseer is op die beginsels wat Jesus geleer het. So uitgebreid soos Jesus se bediening was, het Hy nie alles aangaande die Christelike lewe aangespreek nie. Dit is waarom Hy die dissipels opdrag gegee het om voort te gaan met Sy bediening ná Sy hemelvaart en dit is waarom ons 'n God-geïnspireerde Bybel het: "sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." (2 Tim 3:16) Paulus was verantwoordelik vir baie nuwe openbarings, alhoewel daardie openbarings hoofsaaklik van die Heilige Gees af gekom het. In baie van sy sendbriewe openbaar Paulus "geheimenisse." Die woord "geheimenis" is 'n tegniese term wat sommige van die vroeëre ongeopenbaarde waarhede ,wat nou geopenbaar is, uitlig: soos die kerk wat beide Jode en Heidene insluit (Rom 11:25) of die wegraping (1 Kor 15:51-52). Paulus gee ons eenvoudig bykomende openbaring aangaande die huwelik, waarop Jesus nie uitgebreid ingegaan het nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is die geskrifte van Paulus geïnspireerd (Sien 1 Kor 7:12)?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries