Wat is die geskiedenis van die Christendom?



Vraag: "Wat is die geskiedenis van die Christendom?"

Antwoord:
Die geskiedenis van die Christendom is eintlik die geskiedenis van die Westerse beskawing. Die Christendom het ‘n algehele deurdringende invloed op die samelewing as geheel gehad – kuns, taal, politiek, wet, familie, lewe, kalenderdatums, musiek en die algemene manier van hoe ons dink, word alles deur Christelike invloede geraak, vir ongeveer twee millenniums al. Die storie van die kerk is dus belangrik om te ken.

Die Ontstaan van die Kerk

Die kerk het 50 dae na Jesus se opstanding begin (35 nC). Jesus het belowe om Sy kerk te bou (Matt 16:18) en met die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag (Hand 2:1-4) het die kerk – “ekklesia” (die “opgeroepe vergadering”) – amptelik begin. Drieduisend mense het op Petrus de preek daardie dag geantwoord en gekies om Christus te volg.

Die belangrikste bekeerlinge tot die Christendom was Jode of bekeerlinge tot Judaïsme en die kerk was gesetel in Jerusalem. As gevolg hiervan was die Christendom aanvanklik as ‘n Joodse sekte gesien, verwant aan die Fariseërs, die Sadduseërs of die Esseërs. Wat die apostels gepredik het, het radikaal verskil van wat ander Joodse groepe onderrig het. Jesus was die Joodse Messias (die gesalfde Koning) wat gekom het om die Wet te vervul (Matt 5:17) en ‘n nuwe verbond, gebaseer op Sy dood, in te stel (Markus 14:24). Hierdie boodskap, met sy skuldlas dat hulle hul eie Messias doodgemaak het, het baie Joodse leiers bevrees gemaak en sommige, soos Saulus van Tarsis, het aksie geneem “om die volgelinge van die Here met die dood te dreig” (Hand 9:1-2).

Dit is heeltemal reg om te sê dat die Christendom sy oorsprong in Judaïsme het. Die Ou Testament het die grondslag vir die Nuwe gelê en dit is onmoontlik om die Christendom volledig te verstaan, sonder kennis van die Ou Testament (sien die boeke van Matteus en Hebreërs). Die Ou Testament verduidelik die noodsaaklikheid van ‘n Messias, dit bevat die geskiedenis van die Messiaanse mense en voorspel die Messias se koms. Die Nuwe Testament is dus alles oor die koms van die Messias en Sy werk om ons van sonde te red. In Jesus se lewe het Hy meer as 300 spesifieke profesieë vervul, om te bewys dat Hy die Een was wat die Ou Testament vooruitgeloop het.

Die Groei van die Vroeë Kerk

Nie lank na Pinkster nie, is die deure van die kerk vir nie-Jode geopen. Die Evangelis, Filippus het vir die Samaritane gepreek (Hand 8:5) en baie van hulle het in Christus geglo. Die apostel Petrus het vir die heidense huisgesin van Kornelius gepreek (Hand 10) en hulle het ook die Heilige Gees ontvang. Die apostel Paulus (die voormalige vervolger van die kerk) het die Evangelie regoor die Grieks-Romeinse wêreld versprei. Dit het so ver as Rome self gegaan (Hand 28:16) en moontlik so ver as Spanje.

Teen 70 nC, in die jaar toe Jerusalem verwoes is, was die meeste Nuwe Testamentiese boeke voltooi en onder die kerke versprei. Vir die volgende 240 jaar is Christene deur Rome vervolg – soms na willekeur, soms op regeringsbevel.

In die tweede en derde eeue het die kerkleierskap al meer en meer hiërargies geword, soos die getalle gegroei het. Verskeie dwaalleringe is ontbloot en weerlê gedurende hierdie tyd en daar is op die Nuwe Testamentiese kanon ooreengekom. Vervolging het voortgegaan en vererger.

Die Opgang van die Roomse Kerk

In 312 nC het die Roomse Keiser, Konstantyn, aanspraak gemaak op ‘n bekerings-gebeurtenis. Ongeveer 70 jaar later, gedurende die regering van Theodosius, het die Christendom die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword. Biskoppe het ereplekke in die regering gekry en teen 400 nC was die terme “Rooms” en “Christen” feitlik sinoniem.

Na Konstantyn is Christene nie meer vervolg nie. Dit was nou die heidene wat vervolg was, indien hulle nie na die Christendom bekeer het nie. Sulke gedwonge bekerings het daartoe aanleiding gegee dat baie mense kerk toe gegaan het, sonder ‘n ware hartsverandering. Die heidene het hul afgode en praktyke waaraan hul gewoond was, saamgebring en die kerk het verander; beelde van ikone, opgesmukte argitektuur, pelgrimstogte en die verering van heiliges is by die eenvoud van die vroeë kerklike verering gevoeg. Ongeveer op dieselfde tyd het party Christene hul uit Rome onttrek en gekies om as monnike in afsondering te leef. Die babadoop is ingestel om oorerflike sonde weg te was.

Gedurende die volgende eeue is verskeie kerkvergaderings gehou om te poog om die kerk se amptelike leerstelling te bepaal, om geestelike mishandeling onder sensuur te plaas en om vrede te maak tussen strydlustige faksies. Soos die Romeinse Keiserryk swakker geword het, het die kerk magtiger geword en baie verskille het tussen die Weste en die Ooste ontstaan. Die Westelike kerk (Latyns) in Rome het apostoliese heerskappy oor al die ander kerke gevoer. Die Roomse biskop het himself die “Pous” (die Vader) begin noem. Dit het nie goed teenoor die Oostelike kerk (Grieks) in Konstantinopel oorgekom nie. Teologies, polities, werksprosedures en taalverskille het alles bygedra tot die Groot Skeuring in 1054, waarin die Rooms Katolieke (“Universele”) Kerk en die Oosterse Ortodokse Kerk die een die ander geban het en alle bande verbreek het.

Die Middeleeue

Gedurende die Middeleeue in Europa, het die Rooms Katolieke Kerk mag behou, met die pouse wat op alle vlakke van die lewe beheer gehad het en soos konings geleef het. Korrupsie en gierigheid in die kerkleierskap was algemeen. Vanaf 1095 tot 1204 het die pouse ‘n reeks bloedige en duur pelgrimstogte laat plaasvind, in ‘n poging om Moslem-optogte te verhoed en Jerusalem te bevry.

Die Hervorming

Deur die loop van die jare het verskeie individue probeer om aandag op die teologiese, politieke en menseregte mishandeling van die Roomse Kerk te vestig. Op een of ander wyse is alles net stilgemaak, maar in 1517 het ‘n Duitse monniik, Martin Luther, standpunt teen die kerk ingeneem en almal het gehoor. Saam met Luther het die Protestantse Hervorming ontstaan en die Middeleeue het tot einde gekom.

Die Hervormers, insluitende Luther, Calvyn en Zwingli het in baie fynere opsigte verskil in die teologie, maar hulle was konsekwent in hul beklemtoning van die Bybel se totale gesag oor kerktradisie en die feit dat sondaars uit genade deur geloof alleen gered word en nie deur werke nie (Ef 2:8-9).

Alhoewel Katolisisme weer in Europa posgevat het en ‘n reeks oorloë tussen Protestante en Katolieke veroorsaak het, het die Hervorming die mag van die Rooms Katolieke Kerk suksesvol afgetakel en gehelp om die deur na die modern eeu oop te maak.

Die Eeu van Sendelinge

Van 1790 tot 1900 het die kerk ‘n ongekende belangstelling in sendingwerk getoon. Kolonialisasie het oë geopen vir die nood ten opsigte van sendelinge en industrialisasie het mense voorsien met finansiële vermoëns om die sendelinge te befonds. Sendelinge het oral deur die wêreld die Evangelie gepreek en oral het kerke ontstaan.

Die Moderne Kerk

Die Roomse Kerk en die Oosterse Ortodokse Kerk het nou stappe geneem om hul gebroke verhouding te herstel as Katolieke en Lutherane. Die Evangeliese kerk is sterk onafhanklik en vas gewortel in die Hervormde teologie. Die kerk het ook die opkoms van Pinksterkerke, die charismatiese beweging, ekumenisme en verskeie kultusse sien ontstaan.

Wat ons van ons Geskiedenis leer

Al sou ons niks van ons kerkgeskiedenis leer nie, behoort ons ten minste die belangrikheid van “Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly” (Kol 3:16), erken. Elkeen van ons is verantwoordelik om te weet wat die Skrif sê en sodanig te leef. Wanneer die kerk vergeet wat die Bybel leer en ignoreer wat Jesus onderrig het, heers chaos.

Daar bestaan baie kerke vandag, maar net een Evangelie. Dit is “die verlossing waaraan ons almal deel het” (Judas:3). Mag ons versigtig wees om daardie geloof te behou en dit oor te dra, sonder om dit te verander en die Here sal voortgaan om Sy belofte om Sy kerk te bou, gestand te doen.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die geskiedenis van die Christendom?