settings icon
share icon
Vraag

Kan 'n persoon gered word deur algemene openbaring?

Antwoord


Algemene openbaring kan gedefinieer word as "God se openbaring aan alle mense dat Hy bestaan, intelligent, almagtig en transendentaal is, op alle tye en op alle plekke." Skrifgedeeltes soos Ps 19:1-4 en Rom 1:20 sê duidelik dat sekere dinge aangaande God deur Sy skepping rondom ons verstaan kan word. Daar is slegs verlossing in Jesus se Naam (Hand 4:12); dus kan iemand nie gered word deur algemene openbaring nie. Gewoonlik word die vraag "kan iemand gered word deur algemene openbaring?" gevra, met betrekking tot 'n ander vraag, "Wat gebeur met diegene wat nooit die Evangelie gehoor het nie?"

Ongelukkig is daar steeds wêrelddele wat absoluut geen toegang tot die Bybel het nie – tot die Evangelie van Jesus Christus – of tot enige toegang tot lering aangaande die Christelike waarheid nie. Dan ontstaan die vraag: "Wat gebeur met hierdie mense as hulle sterf?" Is dit regverdig dat God iemand veroordeel wat nog nooit die Evangelie van Jesus Christus gehoor het nie? Sommige mense is ten gunste van die gedagte dat God sulke mense oordeel op grond van hoe hulle reageer, ten opsigte van algemene openbaring. Die veronderstelling is dat, indien iemand waarlik glo wat oor God deur algemene openbaring bekend gemaak word, sal God daardie persoon oordeel op grond van daardie geloof en so iemand toegang tot die hemel gee.

Die probleem is egter dat die Skrif verklaar dat, indien 'n mens nie in Christus is nie, hy of sy "is reeds veroordeel" (Joh 3:18). Rom 3:10-12 haal Ps 14:2-3 aan, wat bekendmaak dat die ou sondige natuur universeel sondig is: "Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra. Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie." Volgens die Skrif is God se kennis beskikbaar (deur algemene openbaring), maar die mensdom verdraai dit soos dit hom pas. Rom 1:21-23 stel dit so, "omdat, al weet hulle van God, hulle hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God, stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange." Die staat waarin diegene sonder God is, is een van rebellie, duisternis en afgodery.

Die mens rebelleer ten spyte van openbaring. 'n Sondige mens verwerp dit wat deur die natuur van God geleer word en soek na maniere om die waarheid te vermy (sien Joh 3:19). Aangesien die mens nie vir God van nature soek nie, moet God hóm soek – en dit is presies wat Hy doen, in die Persoon van Jesus Christus. Jesus het gekom "om te soek en te red wat verlore is" (Luk 19:10).

'n Goeie voorbeeld van ons behoefte aan die Evangelie, word in Hand 10 gevind. Kornelius het van God geweet en was "godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid" (Hand 10:2). Het God Kornelius gered as gevolg van sy toegewydheid tot God, gebaseer op die beperkte kennis wat hy gehad het? Nee. Kornelius moes van Jesus hoor. God het hom beveel om die apostel Petrus te kontak en hom na Kornelius se huis te nooi. Laasgenoemde was gehoorsaam en Petrus het gekom en die Evangelie aan Kornelius en sy familie oorgebring. Hulle het almal in Jesus geglo en is dus almal gered (Hand 10:44-48). Niemand, nie eens 'n "goeie" man soos Kornelius, is gered deur te glo dat God bestaan of deur God op sekere maniere te eer nie. Die enigste manier om verlos te word, is die Evangelie van Jesus Christus (Joh 14:6; Hand 4:12).

Algemene openbaring kan gesien word as 'n universele oproep tot mense om God se bestaan te erken. Algemene openbaring op sigself is nié genoeg om iemand tot verlossing in Christus te lei nie. Dit is waarom dit so belangrik is vir ons om die Evangelie regdeur die hele wêreld te verkondig (Matt 28:19-20; Hand 1:8). Rom 10:14 verklaar, "Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?" Geloof in die goeie nuus van die redding deur Jesus Christus, is die enigste weg na verlossing (Joh 3:16).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Kan 'n persoon gered word deur algemene openbaring?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries