settings icon
share icon
Vraag

Is regverdiging deur geloof alleen of deur geloof sowel as dade?

Antwoord


Hierdie is mees waarskynlik die belangrikste vraag in die Christelike teologie. Hierdie vraag is die oorsaak van die Reformasie – die skeiding tussen die Protestantse kerk en die Katolieke kerk. Hierdie vraag is die basiese verskil tussen die Bybelse Christendom en die meeste van die “Christelike” kultusse. Is regverdiging deur geloof alleen of deur geloof plus dade? Is ek gered deur slegs in Jesus te glo of moet ek in Jesus glo en terselfdertyd ook sekere dinge doen?

Die vraagstuk van geloof alleen of geloof sowel as dade, word bemoeilik deur sommige Bybel gedeeltes wat nie maklik versoenbaar is nie. Vergelyk Romeine 3:28, 5:1 en Galasiërs 3:24 met Jakobus 2:24. Party mense sien ’n verskil tussen Paulus (regverdiging is deur geloof alleen) en Jakobus (regverdiging is deur geloof sowel as dade). In werklikheid het Paulus en Jakobus nie verskil nie. Die enigste verskil wat deur sommige mense gesien word, is die verwantskap tussen geloof en dade. Paulus het dogmaties gesê dat regverdiging deur geloof alleen is (Efesiërs 2:8-9) terwyl dit voorkom asof Jakobus verklaar dat regverdiging deur geloof sowel as dade is. Hierdie skynbare probleem kan opgelos word deur dit waaroor Jakobus praat, te ondersoek. Jakobus weerlê die siening dat iemand geloof kan hê sonder om goeie dade te doen (Jakobus 2:17-18). Jakobus beklemtoon die stelling dat ware geloof in Christus tot ’n veranderde lewe sal lei en goeie dade tot gevolg sal hê (Jakobus 2:20-26). Jakobus sê nie dat regverdiging deur geloof sowel as dade is nie, maar dat ’n persoon wat waarlik geregverdig is deur geloof, goeie dade in sy lewe sal doen. As iemand beweer hy is ’n gelowige, maar geen goeie dade in sy lewe doen nie, het hy waarskynlik nie ware geloof in Christus nie (Jakobus 2:14, 17, 20, 26).

Paulus sê dieselfde in sy geskrifte. Die goeie vrugte wat gelowiges in hulle lewe moet hê, word gelys in Galasiërs 5:22-23. Net nadat hy vir ons vertel dat ons gered word deur geloof en nie dade nie (Efesiërs 2:8-9), sê Paulus dat ons geskape is om goeie dade te doen (Efesiërs 2:10). Paulus verwag ’n veranderde lewe, net soveel soos Jakobus, “Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier!” (2 Korinthiërs 5:17). Jakobus en Paulus verskil nie in hulle leringe van regverdiging nie. Hulle benader dieselfde onderwerp vanuit verskillende oogpunte. Paulus beklemtoon eenvoudig dat regverdiging deur geloof alleen is terwyl Jakobus klem plaas op die feit dat geloof in Christus, goeie dade tot gevolg het.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is regverdiging deur geloof alleen of deur geloof sowel as dade?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries