Vraag
Wat is die fynafstemmings-argument?
Antwoord
Die fynafstemmings-argument is 'n spesifieke toepassing van die teleologiese argument vir die bestaan van God. 'n Teleologiese argument poog om aan te toon dat die voorkoms van doel of ontwerp in homself bewys toon van 'n ontwerper. Die weerlegging van so 'n bewering suggereer dat wat "voorkom" as ontwerp, bloot 'n toevallige ooreenkoms is. Die teenwerking van daardie weerlegging, as't ware, neem kennis van die uiterste onwaarskynlikheid dat sekere dinge toevallig sou wees. Fynafstemmings-argumente fokus gewoonlik op die spesifieke aard van die heelal en hoe dit lyk of dit sorgvuldig beplan is om intelligente lewe moontlik te maak.
Moderne fisika erken 'n stel universele konstantes. Hierdie fundamentele kwantiteite is heeltemal onafhanklik: hulle word nie uit enigiets anders afgelei nie. Eienskappe soos die sterkte van staal of die tempo van hitte-oordrag deur glas is afhanklik: dit is effekte wat deur 'n kombinasie van ander faktore veroorsaak word. Onafhanklike konstantes soos die elementêre lading van 'n proton, die Planck-konstante, of die spoed van lig in 'n vakuum, is nie die gevolg van ander kragte of effekte nie. Hulle is "hard-gekodeer" op die mees fundamentele vlakke van die werklikheid. Moderne wetenskap erken tans meer as twintig van hierdie konstantes.
Fynafstemmings-argumente let op hierdie en ander faktore wat die aard van die heelal beïnvloed. Volgens die fynafstemmings-argument moet die presiese hoeveelheid van elke fisiese konstante en die onderskeie verhoudings almal presies wees soos hulle is, sodat lewe kan bestaan. In die meeste gevalle sou die kleinste verandering aan een van hierdie konstantes nie net lewe soos ons dit ken, verbied nie, maar dit sou ook die meeste vorme van materie onmoontlik maak. Ons heelal is nie net afgestem om "'n soort" lewe moontlik te maak nie, maar dit lyk of dit op die enigste wyse beplan is, wat "enige lewe" moontlik maak.
Die waarskynlikhede wat met die fynafstemmings-telling van die heelal gepaardgaan, is nie vergelykbaar met die wen van die lotery of om deur weerlig getref te word nie. Loterysyfers word uitgedruk met agt of nege syfers, bv. 1:10^9. Om lukraak 'n pak van 52 speelkaarte in perfekte volgorde te deel, bied 'n kans van 1:10^68. Fisici druk die kans om die universele fisiese konstantes lukraak in die huidige rangskikking te plaas uit, deur met getalle meer soos 1:10^120 te werk.
In daardie sin is 'n heelal wat intelligente lewe kan onden, soos 'n skat wat in 'n kluis verborge lê, met 'n kombinasieslot wat miljoene syfers het en waarvan die korrekte kombinasie miljoene syfers lank is. 'n Enkele verkeerde syfer, waar ook al, en daar is geen resultaat nie. Dit kan nie gedeeltelik oopgemaak word nie, of meestal nie oopgemaak word nie – die deur is heeltemal gesluit tensy die kombinasie perfek is.
As iemand daardie miljoen-syfer-slot oopgemaak het, sou dit uiters waarskynlik wees dat hulle dit doelbewus gedoen het. Om die prestasie onmiddellik as 'n toevallige kans af te maak, sou sinloos wees. Aangesien daar geen bewyse is dat die persoon lukraak syfers herhaal het, totdat die kluis oopgegaan het nie — net soos ons glad geen bewyse het vir 'n sikliese heelal of parallelle werklikhede nie — is die mees sinvolle gevolgtrekking "fynafstemming."
Fynafstemming dui op spesifieke eienskappe van die heelal en beweer dat 'n hoër mag hul rangskikking doelbewus gekies het. Dit is gegrond op 'n redelike aanname, gebaseer op die beskikbare bewyse. Natuurlik, soos met die kosmologiese argument, gee die fynafstemmings-argument min inligting oor die aard van die "Fynafstemmer." Daardie onderwerp moet deur ander middele ondersoek word.
English
Wat is die fynafstemmings-argument?