settings icon
share icon
Vraag

Wat gebeur tydens die laaste oordeel?

Antwoord


Die eerste ding om te verstaan aangaande die laaste oordeel, is dat dit nie vermy kan word nie. Ongeag hoe ons mag kies om die eindtydprofesie te interpreteer, daar word gesê dat "'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel" (Heb 9:27). Ons het 'n goddelike afspraak met ons Skepper. Die apostel Johannes gee 'n paar details aangaande die laaste oordeel:

"Toe het ek 'n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee en daar was nie meer plek vir hulle nie. Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die Boek van die Lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi" (Openbaring 20:11-15).

Hierdie merkwaardige gedeelte stel ons bekend aan die finale oordeel – die einde van die menslike geskiedenis en die begin van die ewige bestemming. Ons kan seker wees hiervan: geen foute sal in ons verhoor gemaak word nie, want ons sal deur 'n volmaakte God geoordeel word (Matt 5:48; 1 Joh 1:5). Dit sal manifesteer in baie onbetwisbare bewyse. Eerstens is God volmaak regverdig en eerlik (Hand 10:34; Gal 3:28). Tweedens kan God nie mislei word nie (Gal 6:7). Derdens kan God nie geswaai word deur enige vooroordeel, verskonings of leuens nie (Luk 14:16-24).

God die Seun, Jesus Christus sal die regter wees (Joh 5:22). Alle ongelowiges sal deur Christus by die "groot wit troon" geoordeel word en hulle sal gestraf word volgens die werke wat hulle gedoen het. Die Bybel is baie duidelik dat ongelowiges besig is om die straf op te gaar teen hulself (Rom 2:5) en dat God "elkeen vergeld volgens sy dade" (Rom 2:6). (Gelowiges sal ook geoordeel word by 'n ander oordeel, "voor die regterstoel van God" (Rom 14:10), maar aangesien Christus se regverdigheid op ons uitgestort is en ons name in die Boek van die Lewe geskryf is, sal ons beloon word en nie volgens ons dade gestraf word nie.) By die finale oordeel sal die noodlot van die ongelowiges in die hande van die Alwetende God wees, wat elkeen sal oordeel volgens die toestand van sy siel.

Vir nou is ons noodlot in ons eie hande. Die einde van ons sielereis sal óf in 'n ewige hemel wees óf in 'n ewige hel (Matt 25:46). Ons moet kies waar ons wil wees, deur die offerande van Christus in ons plek te aanvaar of te verwerp en ons moet daardie besluit maak voordat ons fisiese lewens op aarde op 'n einde kom. Na die dood is daar nie meer 'n keuse nie en ons noodlot is om voor die troon van God te staan, waar alles oop en bloot voor Hom sal wees (Heb 4:13). Rom 2:6 verklaar dat God "elkeen vergeld volgens sy dade."

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat gebeur tydens die laaste oordeel?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries