settings icon
share icon
Vraag

Wat is die belangrikhede van die Evangelieboodskap?

Antwoord


Die woord "Evangelie" beteken "Goeie Nuus" en dit word die beste gedefinieer as die boodskap van vergifnis vir sonde deur die versoeningswerk van Jesus Christus. Dit is wesenlik God se reddingsplan vir diegene wat in Sy goddelike Seun sal glo, om sodoende versoen te word met 'n regverdige en heilige God. Die belangrikste inhoud van Sy verlossingsboodskap is duidelik uigelê in die Bybel vir ons.

In die Apostel Paulus se eerste brief aan die Korintiërs, lê hy die inhoud van die Evangelieboodskap uit. "Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte. Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte" (1 Kor 15:1-4).

In hierdie gedeelte sien ons drie belangrike elemente van die Evangelieboodskap. Eerstens is dit baie belanrik dat Hy vir ons sondes gesterf het. Soos Rom 3:23 vertel, "Almal het gesondig en is ver van God af." Die werklikheid van sonde moet deur almal wat die troon van God nader vir verlossing, erken word. 'n Sondaar moet die hopeloosheid van sy skuld voor God erken, om sodoende vergifnis te verkry en hy moet verstaan dat die "loon van die sonde" (Rom 6:23) die dood is. Sonder hierdie fundamentele waarheid, is geen Evangelie-aanbieding volledig nie.

Tweedens is die persoon en werk van Christus onafskeidbare komponente van die Evangelie. Jesus is beide God (Kol 2:9) en mens (Joh 1:14). Jesus het die sondelose lewe gelei, wat ons nooit sal kan lewe nie (1 Pet 2:22) en Hy is die enigste een wat 'n plaasvervangersdood vir die sondaar kon sterf. Sonde teen 'n ewige God vereis 'n ewige offerande. Dus, óf die mens, wat sterflik is, moet die prys betaal vir 'n ewigheid in die hel of die ewige Christus moet dit vir eens en altyd betaal. Jesus het kruis toe gegaan om ons skuld vir ons sonde, wat ons aan God verskuldig is, te betaal en hulle wat deur Sy offerande gedek is, sal die Koninkryk van God beërwe, as seuns van die Koning (Joh 1:12).

Derdens is die opstanding van Christus 'n essensiële element van die Evangelie. Die opstanding is die bewys van die almag van God. Slegs Hy wat lewe geskep het, kan dit opwek ná die dood. Slegs Hy kan die afskuwelikheid van die dood omkeer en net Hy kan die angel van die dood en die oorwinning van die graf (1 Kor 15:54-55) behaal. Verder, anders as al die ander godsdienste, besit die Christendom 'n Stigter wat dood oorwin en wat belowe dat Sy volgelinge dieselfde sal doen. Al die ander godsdienste wat deur mense en profete opgerig is, se einde was die graf.

Ten laaste, Christus bied Sy verlossing aan as 'n gratis geskenk (Rom 5:15; 6:23), wat slegs deur geloof ontvang kan word, sonder enige werke of meriete van ons kant af (Ef 2:8-9). Soos die apostel Paulus vir ons vertel, is die Evangelie "'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood (Rom 1:16). Dieselfde geïnspireerde skrywer sê ook, "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word" (Rom 10:9).

Hierdie is dan die belangrikste elemente van die Evangelie: die sonde van alle mense, die dood van Christus aan die kruis om te betaal vir daardie sondes, die opstanding van Christus om ewige lewe te voorsien vir diegene wat Hom volg en die aanbieding van die gratis geskenk van verlossing vir ons almal.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die belangrikhede van die Evangelieboodskap?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries