settings icon
share icon
Vraag

Hoe lyk engele?

Antwoord


Engele is geestelike wesens (Heb 1:14) en het dus geen essensiële fisiese vorm nie, maar engele het die vermoë om in menslike vorm te verskyn. Toe engele in die Bybel aan mense verskyn het, het hulle gelyk soos normale mans. In Gen 18:1-19 het God en twee engele verskyn as mans en 'n maaltyd saam met Abraham geëet. Engele verskyn baie keer as mans regdeur die Bybel (Jos 5:13-14; Mark 16:5) en hulle verskyn nooit in die voorkoms van vroue nie.

Ander kere verskyn engele nie as mense nie, maar as iets uit 'n ander wêreld en hul voorkoms was vreesaanjaend vir dié wat hulle ontmoet het. Dikwels was die eerste woorde van hierdie engele "moenie bang wees nie," omdat uiterste vrees 'n baie algemene reaksie was. Die wagte by Jesus se graf het soos dooie mans geword, toe hulle die engel van die Here gesien het (Matt 28:4). Die herders in die veld in Luk 2 was verskrik toe die engel van die Here verskyn het en die glans van heerlikheid rondom hulle geskyn het.

Engele se fisiese kenmerke word soms beskryf as gevleueldes. Die afbeeldinge van die gerubs op die Verbondsark het vlerke gehad wat die deksel bedek het (Eks 25:20). Jesaja het gevleuelde serafs in sy visioen van die hemelse troon gesien, elkeen het ses vlerke gehad (Jes 6:2). Esegiël het ook visioene van engele met vlerke gesien. Jes 6:1-2 praat van engele met menslike eienskappe –stemme, gesigte en voete. Engelestemme word gehoor wat sing en God prys in verskeie gedeeltes. Een van die volmaakste beskrywings van 'n engel is in Dan 10:5-6, "Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning." Die engel by Jesus se graf word baie dieselfde beskryf, "Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu" (Matt 28:3).

Watter voorkoms engele ookal het, is daar rede voor om te glo dat hulle ongelooflik mooi is. Esegiël vertel ons dat Lucifer uit die hemel gewerp is as gevolg van trots oor sy skoonheid.Van sulke wesens soos engele, wat altyd in God se teenwoordigheid is, kan mens verwag dat hulle buitengewoon mooi sal wees, want God se glorieryke glans word oor almal gereflekteer wat rondom Hom is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe lyk engele?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries