Vraag
Wat sê die Bybel aangaande die engel Gabriël?
Antwoord
Die engel Gabriël is ‘n boodskapper aan wie dit toevertrou was om verskeie belangrike boodskappe namens God af te lewer. Gabriël verskyn aan ten minste drie mense in die Bybel: eerstens aan die profeet Daniël (Dan 8:16); volgende aan die priester Sagaria om die wonderbaarlike geboorte van Johannes die Doper te voorspel en aan te kondig (Luk 1:19); en uiteindelik aan die maagd Maria om vir haar te sê dat sy swanger sou word en ‘n seun in die wêreld sou bring (Luk 1:26-38). Gabriël se naam beteken “God is groot,” en as die engel van die aankondiging, is hy die een wat geopenbaar het dat die Verlosser “Jesus” genoem sou word (Luk 1:31).
Toe ons die eerste keer vir Gabriël sien, verskyn hy aan Daniël, nadat die profeet ‘n visioen gehad het. Gabriël se rol is om aan Daniël die visioen te verduidelik (Dan 8:16). Gabriël se verskyning was soos dié van ‘n man (Dan 8:15; 9:21). Toe Gabriël vir Daniël ‘n tweede keer besoek het, het hy na hom aangevlieg gekom terwyl hy gebid het (Dan 9:21). Gabriël se “vlug” veronderstel vlerke, maar dit word nie gemeld nie. Dit is ook duidelik dat Gabriël se verskyning egter skrikaanjaend was, aangesien Daniël op sy gesig geval het (Dan 8:17) en vir daelank siek was na sy ondervinding met die engel en die visioen (Dan 8:27).
In Daniël 10 sien ons ‘n ander interaksie tussen die profeet en “iemand wat soos ‘n mens gelyk het” (vers 16); daar word egter geen naam aan hierdie boodskapper gegee nie. Die engel sê hy het gekom om Daniël te help om die visioen te verstaan, dus is dit baie moontlik dat hierdie gedeelte ook verwys na die engel Gabriël. Afgelei van die beskrywing in die gedeelte, is dit ook moontlik dat daar eintlik twee engele by Daniël was – een wat met hom gepraat het en die ander om hom te versterk, sodat hy kan antwoord (Dan 10:16, 18). Die engel verwys ook na ‘n geveg wat plaasvind in die geestelike ryk. Hierdie engel van wie ons redelik seker kan wees dat dit Gabriël is en die engel Migael, was skynbaar in ‘n geveg betrokke met ‘n reeks demoniese konings en prinse, insluitende hulle wat die prins of konings van Persië genoem was (vers 13) en die prins van Griekeland (vers 20).
Gabriël sê dat hy vanuit die hemel gestuur was as spesifieke antwoord op Daniël se gebed. Gabriël het gekom om die antwoord te bring, so gou as wat Daniël begin bid het (Dan 10:12). Maar Gabriël het op sy pad in die moeilikheid gekom: “Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou” (Dan 10:13) en hom eintlik verhoed om so gou as kan by Daniël uit te kom, soos hy andersins sou. Hier kry ons ‘n kykie in die geesteswêreld en die gevegte wat agter die skerms plaasvind. Die heilige engele soos Gabriël doen God se wil, maar hulle word teëgestaan deur ander geestelike wesens, wat slegs goddeloosheid in die wêreld wil bring.
Gabriël se boodskap aan die priester Sagaria, die vader van Johannes die Doper, was gebring in die tempel toe Sagaria besig was om voor die Here priesterdiens te verrig. Gabriël het aan die regterkant van die wierookaltaar verskyn (Luk 1:11), ‘n simbool van gebed, en aan Sagaria gesê dat sy gebede verhoor is (vers 13). Sagaria se onvrugbare vrou, Elisabet, sou swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, met die naam Johannes en hy sou die profesie vervul van die koms van Elia (vers 17; Mal 4:5). Gabriël se boodskap was ontvang met ongeloof, dus het Gabriël die twyfelende priester met stomheid geslaan tot op die dag van die kind se besnyding (Luk 1:20, 59-64).
Gabriël se verskyning aan Maria was om die aankondiging te doen van die maagdelike geboorte van die Here Jesus Christus. Die moeder van die Messias was verseker van haar guns by God (Luk 1:30) en aan haar was gesê dat die Dawidsverbond deur haar Seun vervul sou word: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (vers 32). “Die Here God sal Hom die troon van Sy voorvader Dawid gee en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie” (verse 32-33). In antwoord op Maria se vraag oor hoe dit sou plaasvind, aangesien sy ‘n maagd was, het die engel Gabriël gesê dat die bevrugting deur die Heilige Gees se werking in haar sou gebeur en dus,”sal die Een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God” (vers 35).
In al drie verskynings, was Gabriël met vrees ontvang en hy het sy gesprekke met woorde van vertroosting en blydskap teenoor Daniël, Sagaria en Maria gevoer. Dit is moontlik dat Gabriël ook die engel was wat aan Josef in Matt 1:20 verskyn het, maar dis nie seker nie, aangesien die engel in die Skrif naamloos was. Wat ons wel weet, is dat Gabriël een van God se goeie en heilige engele is. Hy het ‘n gunstige posisie as ‘n engel “wat in diens van God staan” (Luk 1:19), en hy was gekies om belangrike boodskappe van God af te lewer aan spesifieke geliefde en begunstigde individue, wat gekies was as deel van God se plan.
English
Wat sê die Bybel aangaande die engel Gabriël?