settings icon
share icon
Vraag

Wat is die sleutel tot effektiewe gebed?

Antwoord


Almal wil hê dat hul gebede “effektief” moet wees, in so ‘n mate dat as ons baie op die “resultate” van ons gebede fokus, ons vergeet van die ongelooflike voorreg wat ons het, om te kan bid. Dat gewone mense soos ons met die Skepper van die heelal kan praat, is op sigself ‘n wonderlike ding. Selfs meer verbasend is die feit dat Hy ons hoor en namens ons optree! Die eerste ding wat nodig is om te verstaan betreffende effektiewe gebed, is dat ons Here en Verlosser, Jesus Christus gely en gesterwe het aan die kruis, om dit selfs moontlik te maak vir ons om die Troon van genade te kan nader om te aanbid en te bid (Heb 10:19-25).

Alhoewel die Bybel ‘n groot deel leiding bied oor hoe ons ons kommunikasie met die Skepper kan verdiep, het effektiewe gebed meer te doen met die een wat bid, as met “hoe” ons bid. Die Skrif sê dan ook, “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak 5:16) en dat “Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen” (1 Pet 3:12; Ps 34:15) en weer, “Hy aanvaar die gebede van opregtes” (Spreuke 15:8). Gebed het die regverdige Daniël gespaar van die leeus (Daniël 6:11) en in die woestyn het God se uitverkore volk gebaat deur Moses se opregte verhouding met God (Eks 16-17). Die onvrugbare Hanna se standvastige en nederige gebede het uitgespeel in die profeet Samuel (1 Sam 1:20) en die apostel Paulus se gebede het selfs veroorsaak dat die aarde gebewe het (Hand 16:25-26). Dit is duidelik dat die passievolle gebede van God se regverdige kinders baie kan vermag (Numeri 11:2).

Ons moet seker maak dat ons gebede in lyn is met God se wil. “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Joh 5:14-15): “En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.” Om volgens God se wil te bid, is om hoofsaaklik te bid in lyn met wat Hy sou wou hê en ons kan God se geopenbaarde wil regdeur die Skrif sien. En as ons nie weet waarvoor om te bid nie, herinner Paulus ons dat as kinders van God, sal die Heilige Gees vir ons intree: “En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit volgens die wil van God, vir die gelowiges” (Rom 8:27). Aangesien die Gees van God die hart van God ken, is die Gees se gebed altyd volgens die wil van die Vader.

Gebed is iets wat gelowiges “aanhoudend” moet doen (1 Tess 5:17). In Luk 18:1, bv. word ons gemaan om volhardend te bid en nie “moedeloos” te word nie. Ook as ons ons versoeke tot God rig, moet ons gelowig bid (Jak 1:5; Mark 11:22-24), met danksegging (Fil 4:6), met ‘n gees van vergewensgesindheid teenoor ander (Mark 11:25), in Christus se naam (Joh 14:13-14), en soos hierbo genoem, met ‘n hart wat reg is voor God (Jak 5:16). Dit is die sterkte van ons geloof, nie die lengte van ons gebede wat Hom tot Wie ons bid, verbly nie, dus hoef ons nie vir God te beïndruk met ons welsprekendheid of intelligensie nie. God weet wat ons behoeftes is, nog voordat ons vra (Matt 6:8).

Ons moet ook seker maak dat ons geen onbelyde sonde in ons harte het as ons bid nie, want dit sal sekerlik ‘n hindernis wees ten opsigte van effektiewe gebed. “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie” (Jes 59:2; Ps 66:18). Gelukkig, “as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh 1:9).

‘n Ander struikelblok wat effektiewe kommunikasie met God in die wiele ry, is om te bid met selfsugtige en verkeerde motiewe. “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jak 4:3). Om God se wil te verwerp of Sy advies te ignoreer (Spreuke 1:24-28), om afgode te aanbid (Jer 11:11-14) of ‘n dowe oor na die armes te draai (Spreuke 21:13), dien as bykomende struikelblokke ten opsigte van ‘n effektiewe gebedslewe.

Om effektief te bid, is ‘n manier om ons verhouding met ons Vader in die hemel te versterk. As ons Sy Woord bestudeer en gehoorsaam lewe en soek om Hom gelukkig te maak, dieselfde God wat die son tot stilstand gebring het toe Josua gebid het (Josua 10:12-13), nooi ons om in dapperheid die Troon van genade te nader en met oortuiging te bid dat Hy Sy barmhartigheid en genade sal vergroot om ons in tye van nood by te staan (Heb 4:16).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die sleutel tot effektiewe gebed?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries