settings icon
share icon
Vraag

Leer Markus 16:16 dat die doop nodig is vir verlossing?

Antwoord


Soos met enige enkelvers of gedeelte onderskei ons wat dit leer, deur eerstens deur die Bybel te werk en uit te vind wat dit leer aangaande 'n spesifieke onderwerp. In die geval van doping en verlossing is die Bybel duidelik dat verlossing uit genade deur geloof in Jesus Christus verkry word, nie deur werke van enige aard nie, insluitende die doop (Ef 2:8-9). Dus, enige interpretasie wat die gevolgtrekking maak dat die doop of enige ander handeling nodig is vir redding, is 'n valse interpretasie. Vir meer inligting, lees asb. ons webblad oor "Is verlossing deur geloof alleenlik of deur geloof plus werke?"

Deur Mark 16:16 in ag te neem, is dit belangrik om te onthou dat daar 'n paar tekstuele probleme met Markus 16:9-20 is. Daar bestaan vrae of hierdie verse oorspronklik deel van die Evangelie van Markus was en of dit later bygevoeg is. Dit is die beste om nie 'n sleutellering te baseer op iets uit Markus 16:9-20 nie, indien dit ook deur ander Skrifgedeeltes ondersteun word nie.

Indien aanvaar word dat vers 16 oorspronklik is, leer dit dat die doop vir verlossing nodig is? Die kort antwoord daarop is, nee dit is nie. Wat hierdie vers leer, is dat geloof nodig is vir verlossing, wat ooreenstem is met die talle verse waar slegs geloof genoem word (Joh 3:18; Joh 5:24; Joh 12:44; Joh 20;31; 1 Joh 5:13).

"Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word" (Markus 16:16). Hierdie vers bestaan uit twee basiese stellings: Hy wat glo en gedoop is, sal gered word en hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Terwyl hierdie vers ons iets vertel aangaande gelowiges wat gedoop is (hulle is gered), sê dit niks oor gelowiges wat nie gedoop is nie. Vir hierdie vers om te leer dat die doop nodig is vir verlossing, sou 'n derde stelling nodig wees: Hy wat glo en nie gedoop is nie, sal veroordeel word of hy wat nie gedoop is nie, sal veroordeel word.Natuurlik word nie een van hierdie stellings in die vers gevind nie.

Diegene wat probeer om Markus 16:16 te gebruik as lering dat die doop nodig is vir redding, maak 'n algemene, maar ernstige fout, wat soms die "Negative Inference Fallacy" genoem word. Dit kan as volg verduidelik word: "Indien 'n stelling waar is, kan ons nie aanvaar dat alle ontkennings (of teenoorgesteldes) van daardie stelling ook waar is nie, bv. die stelling "'n hond met bruin kolle is 'n dier" is waar; tog die negatief "indien 'n hond nie bruin kolle het nie, is dit nie 'n dier nie" is vals. Op dieselfde wyse, "hy wat glo en gedoop is, sal gered word" is waar; tog die stelling "hy wat glo maar nie gedoop is, sal nie gered word nie" is 'n ongeregverdigde gevolgtrekking. Tog is dit presies die gevolgtrekking wat gemaak word deur diegene wat nuutmaking deur doping ondersteun.

Neem die volgende voorbeeld in ag: "Wie ookal in Kansas woon en glo, sal gered word, maar diegene wat nie glo, sal veroordeel word." Hierdie stelling is presies waar; inwoners van Kansas wat in Jesus glo, sal gered word. Om egter te sê dat "slegs" daardie gelowiges wat in Kansas woon, gered is, is onlogies en 'n valse aanname. Die stelling sê nie dat 'n gelowige in Kansas "moet" bly om sodoende hemel toe te gaan nie. Markus 16:16 is soortgelyk daaraan en sê nie 'n gelowige "moet" gedoop wees nie. Die vers staaf 'n feit aangaande gedoopte gelowiges (hulle sal gered word), maar dit sê niks oor gelowiges wat nie gedoop is nie. Daar kan gelowiges wees wat nie in Kansas woon nie, maar tog is hulle steeds gered; en daar kan gelowiges wees wat nie gedoop is nie, en tog is hulle ook steeds gered.

Die een spesifieke voorwaarde wat vir verlossing vereis word, kom voor in die tweede deel van Mark 16:16: "wie nie glo nie, sal veroordeel word." In hoofsaak het Jesus beide die positiewe voorwaarde van geloof gegee (wie tot geloof gekom het, sal gered word) en die negatiewe voorwaarde van ongeloof (wie nie glo nie, sal veroordeel word). Dus kan ons met absolute sekerheid sê dat geloof die vereiste is vir redding. Wat nog belangriker is, ons sien hierdie voorwaarde herhaaldelik positief en negatief aangehaal regdeur die Skrif (Joh 3:16; Joh 3:18; Joh 3:36; Joh 5:24; Joh 6:53-54; Joh 8:24; Hand 16:31).

Jesus noem 'n voorwaarde gekoppel aan redding (die doop) in Markus 16:16. 'n Gekoppelde voorwaarde moet egter nie verwar word met 'n vereiste nie: om koors te hê, is gekoppel aan siekwees, maar koors is nie 'n vereiste vir 'n siekte se aanwesigheid nie. Nêrens in die Bybel vind ons 'n stelling soos "wie nie gedoop is nie, sal veroordeel word" nie. Dus, kan ons nie sê dat die doop nodig is vir verlossing , gebaseer op Mark 16:16 of enige ander vers nie.

Leer Markus 16:16 dat die doop nodig is of nie, vir redding? Nee, dit bevestig dat geloof nodig is vir redding, maar dit keur nie die gedagte van die doop af of keur dit goed as 'n vereiste nie. Hoe kan ons dan weet of ons gedoop moet wees om gered te word? Ons moet na die volledige weergawe van God se Woord kyk. Hier volg 'n samevatting van die getuienis:

Die Bybel is duidelik dat ons deur geloof alleen gered word. Abraham is deur geloof gered en ons is deur geloof gered (Rom 4:1-25; Gal 3:6-22).

Regdeur die Bybel, in elke dispensasie, is mense gered sonder om gedoop te word. Elke gelowige in die Ou Testament (Abraham, Jakob, Dawid, Salomo) is gered, maar nie gedoop. Die dief aan die kruis is gered, maar nie gedoop. Kornelius is gered voordat hy gedoop is (Hand 10:44-46).

Die doop is 'n getuienis van ons geloof en 'n publieke verklaring dat ons in Jesus Christus glo. Die Skrif sê dat ons die ewige lewe ontvang, die oomblik as ons tot geloof kom (Joh 5:24) en geloof kom altyd voor die doop. Die doop red ons nie meer as wat ons 'n bekeringsgebed sê om gered te word nie – ons word gered as ons glo.

Die Bybel sê nooit dat iemand wat nie gedoop is nie, nie gered is nie.

Indien die doop 'n vereiste is vir redding, dan kan niemand gered word sonder dat 'n ander party teenwoordig is nie. Iemand moet daar wees om 'n persoon te doop, voordat hy gered kan word. Dit plaas 'n beperking op wie gered kan word en wanneer. Die gevolge van hierdie lering, as tot 'n logiese gevolgtrekking gekom word, is vreesaanjaend: 'n soldaat wat op die gevegsfront glo, maar gedood word voordat hy gedoop kan word, sal dan hel toe gaan.

Regdeur die Bybel sien ons dat waar 'n gelowige kom tot op die punt van geloof, hy al die beloftes en seën van verlossing besit (Joh 1:12; 3:16; 5:24; 6:47; 20:31; Hand 10:43; 13:39; 16:31). Indien iemand glo, het hy die ewige lewe, word nie meer gestraf nie en het oorgegaan van die dood na die lewe (Joh 5:24) – dit alles voordat hy of sy gedoop is.

Indien jy glo in nuutmaking deur die doop, moet jy baie goed in gebed oorweeg in wie en wat jy regtig jou geloof stel. Is jou geloof in 'n "fisiese handeling" (om gedoop te word) of in die voltooide werk van Christus aan die kruis? Op wie of wat plaas jy jou vertroue vir verlossing? Is dit die skaduwee (die doop) of die werklikheid (Jesus Christus)? Ons geloof moet op Christus alleen rus. "Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het" (Ef 1:7-8)

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Leer Markus 16:16 dat die doop nodig is vir verlossing?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries