settings icon
share icon
Vraag

Is dit so dat 1 Pet 3:21 ons leer dat die doop vir verlossing nodig is?

Antwoord


Soos met enige enkele vers of gedeelte, onderskei ons wat dit sê, deur eerstens na te gaan wat die res van die Bybel aangaande die onderwerp leer. In die geval van die doop en verlossing, is die Bybel duidelik daaroor, dat verlossing deur genade verkry word, deur te glo in Jesus Christus. Nie deur werke van enige aard nie, die doop hierby ingesluit (Ef 2:8-9). Dus, enige interpretasie wat tot die slotsom kom dat die doop of enige ander handeling nodig is vir verlossing, is 'n verkeerde interpretasie. Vir meer inligting hieroor, lees asb. op ons webblad aangaande die volgende: "Word verlossing deur geloof alleenlik verkry of deur geloof plus werke?"

Diegene wat glo dat die doop vir redding benodig word, gebruik gou-gou 1 Pet 3:21 as bewys daarvan, omdat dit die volgende sê: "Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word." Het Petrus werklik gesê dat die doophandeling ons red? Indien hy sou, sou hy baie ander gedeeltes van die Skrif weerspreek, wat duidelik aantoon dat mense wat gered is (volgens getuienis dat hulle die Heilige Gees ontvang het) voorafgaande gedoop is of sonder om gedoop te wees. 'n Goeie voorbeeld van iemand wat gered is voordat hy gedoop is, is Kornelius en sy gesin in Hand 10. Ons weet dat hulle gered is voordat hulle gedoop was, omdat hulle die Heilige Gees as getuienis van redding ontvang het (Rom 8:9; Ef 1:13; 1 Joh 3:24). Die getuienis van hul redding was die rede waarom Petrus hulle toegelaat het om gedoop te word. Talryke Skrifgedeeltes leer ons duidelik dat redding verkry word as 'n mens in die Evangelie glo, wanneer hy/sy dan deur Christus "deel geword" het "van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël" (Ef1:13).

Gelukkig hoef ons nie te raai wat Petrus in hierdie vers bedoel nie, aangesien hy dit aan ons verduidelik deur middel van die frase, "Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus" (1 Pet 3:21). Alhoewel Petrus die doop met verlossing verbind, is dit nie die doophandeling waarna hy verwys nie (nie die afwassing van die vuilheid van die liggaam nie). Om in water gedompel te word, doen niks anders as om vuilheid weg te was nie. Waarna Petrus verwys, is wat die doop verteenwoordig en dit is wat ons verlos (om voor God te staan "om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus). Met ander woorde, Petrus verbind doodeenvoudig die doop met geloof. Dit is nie die natwordgedeelte wat red nie; wat ons red, is die bede om voor God te staan "om 'n skoon gewete", wat betekenis kry deur die doop. Die "bede" tot God kom altyd eerste. Eerste kom geloof en belydenis (berou), dan die doop om in die publiek met Christus te identifiseer.

'n Uitstekende verduideliking van hierdie gedeelte is deur dr Kenneth Wuest gegee, skrywer van "Word Studies in the Greek New Testament." Die doping met water is duidelik in die apostel se gedagte, nie die doping met die Heilige Gees nie, aangesien hy van die vloedwaters as redding van die inwoners van die ark praat en in hierdie vers praat hy van die doop wat gelowiges red. Hy sê egter dat dit hulle slegs red as 'n versinnebeelding. Dit beteken dat die waterdoop die duplisering van die wonderlike werklikheid, verlossing, is. Dit kan slegs red as 'n sinnebeeld, nie werklik nie. Die Ou Testamentiese offerandes was duplikaat van die ware Here Jesus. Dit het nie werklik die gelowige gered nie, net as sinnebeeld gedien. Dit word nie hier geargumenteer dat hierdie offerandes gelykstaande is met die Christelike waterdoop nie. Die skrywer gebruik dit maar net as 'n illustrasie van die gebruik van die woord "counterpart/duplikaat".

Dus red die doop slegs die gelowige as versinnebeelding. Die Ou Testamentiese Jood was gered voordat hy die offer gebring het. Die offer was net sy uiterlike getuienis dat hy sy geloof in die Lam van God geplaas het, van wie hierdie offerande 'n sinnebeeld was... Die waterdoop is die uiterlike getuienis van die gelowige se innerlike geloof. Die persoon word gered die óómblik as hy/sy hul geloof in die Here Jesus plaas. Doping met die water is die sigbare getuienis van sy geloof en die verlossing wat hy gekry het in antwoord op daardie geloof. Petrus is versigtig om sy lesers in te lig dat hy nie onderrig aangaande doopwedergeboorte nie, naamlik dat 'n persoon wat homself onderwerp aan die doop, daarvolgens wedergebore is nie. Hy sê egter "nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie." Petrus verduidelik dat die doop nie die vuilheid van die vlees afwas nie, nie in 'n letterlike sin soos om die liggaam te bad nie, maar ook nie in 'n metaforiese (vergelykende) sin soos om die siel te reinig nie. Geen seremonies het enige uitwerking op die gewete nie. Hy definieer egter wat hy bedoel met verlossing: "'n bede tot God om 'n skoon gewete" en hy verduidelik hoe dit bereik word, naamlik, "op grond van die opstanding van Jesus Christus." Dus, sodanig moet die gelowige sondaar met Jesus identifiseer in daardie opstanding: "en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus."

'n Deel van die verwarring aangaande hierdie gedeelte kom van die feit dat, op baie maniere, die doel van die doop as publieke verklaring van jou geloof in Christus en identifikasie met Hom, vervang is deur "neem 'n besluit vir Christus" of "bid die sondaarsgebed". Die doop word verplaas na iets wat later gedoen word. Tog vir Petrus of enige eerste-eeuse Christene, was die gedagte dat 'n persoon Christus as sy Verlosser sou bely en nie so gou as moontlik gedoop word nie, iets wat ongehoord was. Dit is dus nie 'n verrassing dat Petrus die doop so in noue verband met verlossing gesien het nie. Petrus maak dit egter duidelik in hierdie vers dat die ritueel self nie kan red nie, maar die feit dat ons met Christus verenig is in Sy opstanding deur geloof, "'n bede tot God om 'n skoon gewete en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus' (1 Pet 3:21).

Dus, die doop wat volgens Petrus ons verlos, is die een wat voorafgegaan word deur geloof in die soenoffer van Christus, wat die onregverdige sondaar vryspreek (Rom 3:25-26; 4:5). Die doop is die uiterlike teken van wat God gedoen het "nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee" (Titus 3:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is dit so dat 1 Pet 3:21 ons leer dat die doop vir verlossing nodig is?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries