settings icon
share icon
Vraag

Hoe moet Christen-ouers die dood van ‘n kind hanteer?

Antwoord


As ouers, kan daar nie ‘n groter traumatiese gebeurtenis wees as om ‘n kind te verloor nie. Alle ouers verwag natuurlik dat hul kinders hulle sal oorleef. So ‘n verlies is ‘n buitengewone gebeurtenis en bring daarmee saam ‘n oorweldigende gevoel van pyn en aanhoudende seer. Dit is ‘n lewensveranderende ondervinding wat unieke uitdagings aan ouers bring, soos hulle soek om hul lewens te herbou sonder hul kind.

Dit sou verwaand wees van enigeen om vir die ouers te vertel hoe om die dood van hul kind te moet hanteer. Tog weet ons dat hulle wat hul lewens aan God oorgee, herstel vinniger van so ‘n verlies, met ‘n groter sin vir normaliteit, as hulle wat sonder ‘n opregte en positiewe geloof in ons Skepper lewe. Hoe hanteer Christen-ouers dan die dood van ‘n kind? Spreek die Bybel hierdie onderwerp aan en op watter manier?

Eerstens moet ons daarop let dat elke persoon anders rou. Emosies varieer groot in intensiteit. Hierdie emosies is normaal en natuurlik. Tweedens is dit so dat geen ouer ooit ten volle herstel van so iets nie. Dit is nie soos ‘n siekte waarvan ons herstel nie. Die meeste beraders vergelyk dit met ‘n lewensveranderende fisiese besering. Dit is egter so, dat ons moet besef, al sou ons altyd die verlies voel, verminder die intensiteit daarvan met verloop van tyd.

Dit is die geloof in ‘n liefdevolle en altyd getroue God wat ons in staat stel om te kan verduur en te herstel van die verlies van ‘n kind, soms op wyses wat ander merkwaardig vind. So was dit die geval met Dawid, wie se kind sewe dae na geboorte gesterf het (2 Sam 12:18-19). Daar is verskeie waardevolle lesse wat ons uit hierdie gedeelte van die Skrif kan leer en wat ouers in rou kan help om die toekoms hoopvol in die gesig te kan staar.

Een daarvan is dat Dawid ernstig vir sy kind se lewe gebid het (2 Sam 12:16). Hierdie moet waar wees vir alle ouers te alle tye en nie net in moeilike tye nie. Ons as ouers moet altyd vir ons kinders bid en God vra om hulle te beskerm en na hulle te kyk. Op dieselfde wyse moet ouers bid dat God goddelike wysheid en leiding moet voorsien, sodat ons kinders kan groei in die versorging en teregwysing van die Here (Rigters 13:12; Spreuke 22:6; Ef 6:4).

‘n Ander les wat ons van Dawid leer, was sy reaksie toe sy kind gesterf het. By die kennisname dat die baba gesterf het, was daar ‘n aanvaarding wat deur sy aksies waarneembaar geword het: “Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom ‘n ete voorgesit en hy het geëet” (2 Sam 12:20). Wat verrassend van dié gedeelte is, is dat Dawid na die huis van die Here gegaan het om te aanbid. Met ander woorde, Dawid het nie slegs sy kind se dood aanvaar nie, maar hy het die saak aan God in aanbidding oorgegee. Die vermoë om God te aanbid en te prys in ‘n tyd van beproewing of ‘n krisis, is ‘n kragtige bewys van ons geestelike vertroue op God. Deur dit te doen, word ons bemagtig om die realiteit van ons verlies te aanvaar. En dit is hoe God ons vrymaak om met ons lewe te kan aangaan.

Die volgende les is die grootste openbaring. Dit is sekerheid ten opsigte van die kennis dat kinders wat sterf voordat hulle die ouderdom van rekenpligtigheid bereik het, hemel toe gaan. Dawid se respons ten opsigte van hulle wat sy reaksie oor van die dood van sy kind bevraagteken het, was nog altyd ‘n groot bron van troos vir gelowige ouers wat babas en jong kinders verloor het: “Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie” (2 Sam 12:23). Dawid was vol vertroue dat hy sy seun in die hemel sou ontmoet. Hierdie gedeelte is ‘n kragtige aanduiding dat jong kinders wat sterf, hemel toe sal gaan.

Om te treur oor die verlies van ‘n kind is ‘n hartverskeurende reis. Daar is geen reëls om ons te leer om hierdie rouproses te hanteer nie. Daar is egter beraders en hulle wat deur hierdie verlies gegaan het, wat advies kan voorsien om te help:

Erken dat jy nie alleen is nie. Jy het vir God. Jy het jou broers en susters in Christus. Jy het goeie vriende en familie. Maak staat op hulle. Hulle is daar om jou te help.

Moenie tydslyne op jou herstel plaas nie. Moenie verwag dat daar ‘n dag sal verbygaan wat jy nie aan jou kind sal dink nie.

Praat oor jou kind. Dit is belangrik om dit te deel met ander

Kyk na jouself en jou ander kinders. Hulle ly ook. Hulle rou oor die verlies van ‘n broer/suster en het die bykomende ongemaklikheid om hul ouers so hartseer te sien

Probeer om nie enige groot besluite vir ten minste tydens die eerste jaar te maak nie.

Verwag om deur die baie “eerstes” te gaan wat gaan volg op die dood van ‘n kind – eerste verjaardag, eerste Kersfees, ens. – dit sal pynlik wees.

Laastens, Christene wat ‘n kind verloor het, het die wonderlike en getroue belofte in God se Woord: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Openbaring 21:4).



English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe moet Christen-ouers die dood van ‘n kind hanteer?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries