Kan die mens sonder God lewe?



Vraag: "Kan die mens sonder God lewe?"

Antwoord:
In teenstelling met die bewerings van ateïste en agnostici deur die eeue, kan die mens nie sonder God lewe nie. Die mens kan ‘n sterflike bestaan voer sonder om God te erken, maar nie sonder die feit dat God bestaan nie.

As die Skepper, het God die menslike lewe geskep. Om te sê dat die mens sonder God kan bestaan, is soos ’n horlosie wat sonder die horlosiemaker bestaan of ‘n storie sonder die storieverteller. Ons het ons bestaan aan God te danke, na Wie se beeld ons geskape is (Gen 1:27). Ons bestaan is van God afhanklik, of ons Sy bestaan erken of nie.

As die Onderhouer, sien God gedurig na ons lewens om (Ps 104:10-32). Hy is lewe (Joh 14:6) en die hele skepping word deur die krag van Christus bymekaar gehou (Kol 1:17). Selfs diegene wat God verwerp, ontvang hul onderhoud van Hom: “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt 5:45). Om te dink dat so ‘n mens sonder God kan lewe, is om te veronderstel dat ‘n sonneblom kan aanhou lewe sonder lig of ‘n roos sonder water.

As die Verlosser, gee God die ewige lewe aan diegene wat glo. In Christus is die lewe, wat die lig vir die mense is (Joh 1:4). Jesus het gekom, sodat ons lewe kan hê “en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Almal wat hul vertroue in Hom plaas, sal die ewigheid saam met Hom as belofte ontvang (Joh 3:15-16). Vir die mens om waarlik te lewe, moet hy vir Christus ken (Joh 17:3).

Sonder God het die mens net fisiese lewe. God het Adam en Eva gewaarsku dat op die dag as hul Hom verwerp, hulle sekerlik sou sterf (Gen 2:17). Soos ons weet, was hulle ongehoorsaam, maar hul het nie fisies daardie dag gesterf nie, maar geestelik. Iets binne-in hulle het gesterf – die geestelike lewe wat hul geken het, die omgang met God, die vryheid om Hom te geniet, die onskuld en reinheid van hul siel – dit was alles weg.

Adam wat geskape is om saam met God in vriendskap met Hom te leef, is vervloek met ‘n totale vleeslike bestaan. Wat God bedoel het om te groei van stof tot glorie, was nou verdoem van stof tot stof. Netsoos Adam, funksioneer die mens vandag soms ook sonder God in ‘n totale aardse bestaan. So ‘n persoon mag gelukkig lyk, want daar is tog vreugde en plesier vir hierdie lewe uitgesit, maar selfs dit kan nie ten volle ontvang word, sonder ‘n verhouding met God nie.

Sommige wat God verwerp, leef lewens van ontspanning en plesier. Hul vleeslike navolging lyk na ‘n kommervrye en bevredigende bestaan. Volgens die Bybel is daar ‘n sekere plesier in sonde (Hebr 11:25). Die probleem is dat dit tydelik van aard is; die lewe in hierdie wêreld is kort (Ps 90:3-12). Een of ander tyd ondervind die hedonis (plesiersoeker), soos die verlore seun, dat wêreldse plesier nie standhoudend is nie (Luk 15:13-15).

Nie almal wat God verwerp is ‘n leë plesiersoeker nie. Daar is baie ongeredde mense wat gedissiplineerd en sober lewens lei – gelukkig en vervuld. Die Bybel gee sekere morele beginsels wat almal sal baat – eerlikheid, getrouheid, selfbeheersing, ens. Tog is dit so dat die mens sonder God maar nét hierdie wêreld het. Om gemaklik deur hierdie lewe te gaan beteken nie dat ons vir die lewe na die dood gereed is nie. Kyk na die gelykenis van die ryk boer in Luk 12:16-21 en na die ryk (maar baie morele) jongman in Matt 19:16-23.

Sonder God is die mens onvervuld, selfs in sy morele lewe. Die mens het nie vrede met sy medemens nie, omdat hy nie met homself vrede gemaak het nie. Die mens is rusteloos in homself, omdat hy nie vrede met God het nie. Die najaag van plesier, net om plesier te hê, is ‘n teken van innerlike onrus. Plesiersoekers regdeur die geskiedenis het oor en oor gevind dat die tydelike vermaak in die lewe net tot groter teleurstelling lei. Die aanhoudende gevoel van “iets is verkeerd” is moeilik om af te skud. Koning Salomo het alles wat die wêreld bied, nagejaag en hy het sy bevindinge in die boek Prediker opgeteken.

Salomo het ontdek dat kennis self en die soeke daarna, vrugteloos is (Pred 1:12-18). Hy het gevind dat plesier en rykdom vrugteloos is (2:1-11). Materialisme is dwaasheid (2:12-23) en rykdom is vinnig verby (Pred 6).

Salomo kom tot die gevolgtrekking dat lewe ‘n geskenk van God is (3:12-13) en die enigste wyse manier om te lewe is om God te dien: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam Sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad” (12:13-14).

Daar is dus meer aan die lewe as net die fisiese bestaan. Jesus het dit benadruk toe Hy gesê het, “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matt 4:4). Nie brood (die fisiese) nie, maar God se Woord (die geestelike) hou ons lewend. Om binne onsself te soek vir ‘n genesing vir ons ellendes, is nutteloos. Slegs wanneer die mens God erken, kan hy lewe en vervulling vind.

Sonder God, is die mens se bestemming die hel. Die mens sonder God is geestelik dood; wanneer sy fisiese lewe verby is, staar hy ewige skeiding van God in die gesig. In Luk 16:19-31 leef die ryk man ‘n lekker, gemaklike lewe sonder om aan God te dink, terwyl Lasarus ‘n swaar lewe lei, maar hy ken God. Dit is ná beide se dood, dat hulle die erns van hul lewenskeuses begryp. Die ryk man het te laat besef dat daar meer in die lewe is, as om rykdom na te jaag. Intussen is Lasarus rustig in die Paradys. Vir beide het die korte duur van hul aardse bestaan kleurloos vertoon, in vergelyking met die permanente toestand van hul siele na die dood.

Die mens is ‘n unieke skepsel. God het ‘n gevoel van ewigheid in ons harte geplaas (Pred 3:11) en hierdie gevoel van vervulling na ‘n tydlose bestemming, kan ons net in God self vind.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Kan die mens sonder God lewe?