settings icon
share icon
Vraag

Wat is die hart?

Antwoord


Eerstens wil ons net sê dat hierdie artikel nie handel oor die hart as lewende orgaan nie, 'n spier wat bloed regdeur die liggaam pomp nie. Dit is ook nie 'n artikel oor romantiese, filosofiese of literêre definisies nie.

In plaas daarvan fokus ons op wat die Bybel sê oor die hart. Die Bybel noem ongeveer 1000 keer die hart en dit is wat dit hoofsaaklik sê: die hart is daardie geestelike deel van ons waar ons emosies en begeertes is.

Voordat ons na die menslike hart kyk, wil ons net noem, dat aangesien God emosies en begeertes het, kan van Hom ook gesê word dat Hy 'n "hart" het. Ons het 'n hart, omdat God een het. Dawid was 'n man na God se hart (Hand 13:22). God seën Sy mense met leiers wat Hom ken en "na Sy hart" is (1 Sam 2:35; Jer 3:15).

Die menslike hart, in sy natuurlike toestand, is boos, vals en misleidend. Jer 17:9 sê, "Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?" Met ander woorde, die val in die tuin van Eden het ons ten diepste beïnvloed; ons verstand, emosies en begeertes is deur sonde aangetas – en ons is blind om te oordeel hoe deurdringend die probleem is.

Ons verstaan dalk nie ons eie harte nie, maar God wel. "Hy ken immers die geheime van die hart" (Ps 44:21; 1 Kor 14:25). Jesus "het nie vertroue in hulle gestel nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is" (Joh 2:24-25). Gegrond op Sy kennis van die hart, kan God regverdig oordeel: "Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen" (Jer 17:10).

In Mark 17:21-23 het Jesus die gevalle toestand van ons harte uitgewys, "Van binne, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein." Ons grootste probleem is nie van buite nie, maar van binne; almal van ons het 'n hartsprobleem.

Vir 'n mens om gered te wees, moet die hart verander. Dit gebeur slegs deur die krag van God in antwoord op geloof. Rom 10:10, "Met die hart glo ons en ons word vrygespreek." Deur Sy genade kan God 'n nuwe hart in ons skep (Ps 51:10; Eseg 36:26). Hy belowe "nuwe krag aan die verdruktes" (Jes 57:15).

God se werking om 'n nuwe hart in ons te skep, sluit ook in om ons harte te toets (Ps 17:3; Deut 8:2) en om ons harte te vul met nuwe idees, nuwe wysheid en nuwe begeertes (Neh 7:5; 1 Kon 10:24; 2 Kor 8:16).

Die hart is die kern van ons wese en die Bybel stel hoë prioriteit om ons harte rein te hou: "Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe" (Spreuke 4:23).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die hart?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries