Hoe moet 'n Christen se beskouing oor politiek wees?


Vraag: "Hoe moet 'n Christen se beskouing oor politiek wees?"

Antwoord:
As daar enigiets is wat 'n spontane debat sal ontketen, indien nie 'n openlike argument nie, dan is dit 'n diskussie rakende politiek – selfs tussen gelowiges. As volgelinge van Christus, wat sal ons optrede en ons betrokkenheid teenoor politiek wees? Daar word gesê dat "godsdiens en politiek nie meng nie," maar is dit regtig waar? Kan ons politieke sienings hê buitekant die inagneming van ons Christelike geloof? Die antwoord is nee, ons kan nie. Die Bybel gee vir ons twee waarhede ten opsigte van ons houding, rakende politiek en regering.

Die eerste waarheid is dat die wil van God elke aspek van lewe deurdring. Dit is God se wil wat voorrang neem oor alles en almal (Matt 6:33). God se planne en doelwitte is vasgestel en Sy wil is onaantasbaar. Wat Hy beplan het, voer Hy uit en geen regering kan Sy wil dwarsboom nie (Dan 4:34-35). Om die waarheid te sê, dit is God "wat konings afsit en konings aanstel" (Dan 2:21), omdat "die Allerhoogste mag het het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil" (Dan 4:17). 'n Duidelike verstaan van hierdie waarheid sal ons help om te sien dat politiek sonder meer 'n metode is wat God gebruik om Sy wil tot stand te bring. Selfs al misbruik bose mense hul politieke mag in die sin van boosheid, bedoel God dit vir goed, omdat "God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is" (Rom 8:28).

Tweedens moet ons die feit besef dat ons regering ons nie kan red nie! Net God kan. Ons lees nêrens in die Nuwe Testament van Jesus of enige van die apostels wat tyd of energie spandeer om gelowiges in te lig hoe om die heidense wêreld te hervorm van afgodery, immoraliteit en korrupte praktyke via die regering nie. Die dissipels het nooit die gelowiges opgeroep om burgerlike ongehoorsaamheid te demonstreer deur te protesteer teen die Romeinse Keiserryk se onregverdige wette of brutale programme nie. In plek daarvan het die apostels die eerste eeuse Christene opdrag gegee, soos nog vandag ook, om die evangelie te verkondig en lewens te leef, wat duidelike getuienis gee oor die evangelie se transformerende krag.

Daar is geen twyfel dat ons verantwoordelikheid ten opsigte van die regering is, om die wette te gehoorsaam en goeie burgers te wees nie (Rom 13:1-2). God het alle outoriteit opgerig en Hy doen dit tot ons beswil, "maar dié wat goed doen" moet geprys word (1 Pet 2:13-15). Paulus vertel in Rom 13:1-8 dat dit die regering se verantwoordelikheid is om in outoriteit oor ons te regeer – hopelik vir ons ten goede – om belasting in te samel en die vrede te handhaaf. Waar ons 'n stem het en ons leiers kan verkies, moet ons dit doen deur reg te stem vir hulle wie se sienings met ons s'n ooreenstem.

Een van Satan se beste verleidinge is dat ons ons hoop kan plaas op kulturele moraliteit en goddelike leefwyse in politici en regerings-amptenare. 'n Volk se hoop op verandering is nie te vind in enige land se regerende leiers nie. Die kerk het 'n fout gemaak as hy dink dat dit die politici se werk is om te verdedig, om te vorder en om bybelse waarhede en Christelike waardes te beskerm.

Die kerk se unieke, Godgegewe doel lê nie in politieke aktivisme nie. Nêrens in die Skrif het ons die riglyn om ons energie, ons tyd of ons geld in regerings-aangeleenthede te spandeer nie. Ons missie lê nie daarin om die volk te verander deur politieke hervorming nie, maar om harte te verander deur God se Woord. As gelowiges dink dat die groei en invloed van Christus met regeringsbeleid verenig kan word, op een of ander wyse, skend hulle die missie van die kerk. Ons Christelike mandaat is om die evangelie van Christus te versprei en om te preek teen die sondes van die huidige tyd. Slegs as die harte van individue in 'n kultuur deur Christus verander word, sal die kultuur begin om daardie verandering te reflekteer.

Gelowiges regdeur die eeue het gelewe en selfs gebloei onder antagonistiese, onderdrukkende, heidense regerings. Dit was veral waar van die eerste eeuse gelowiges wat onder genadelose politieke staatsbestelle hul geloof behou het, onder geweldige kulturele druk. Hulle het verstaan dat dit hulle was, nie hul regerings nie, wat die lig en sout vir die wêreld was. Hulle het gestaan by Paulus se lering om hul regerende outoriteite te gehoorsaam, selfs te eer, te respekteer en vir hulle te bid (Rom 13:1-8). Meer belangrik, hulle het verstaan, as gelowiges, hul moet hul hoop bly vestig op die beskerming wat God alleenlik voorsien het. Dieselfe waarheid geld vir ons. As ons die lering van die Skrif volg, word ons die lig van die wêreld, soos God dit vir ons bedoel het (Matt 5:16).

Politieke entiteite is nie die redder van die wêreld nie. Die verlossing van die mensdom is in Jesus Christus gemanifesteer. God het geweet dat ons wêreld redding nodig gehad het, lank voordat enige nasionale regering ontstaan het. Hy het vir die wêreld gedemonstreer dat redding nie deur die krag van die mens, sy ekonomiese sterkte, sy militêre mag of sy politiek verwerf kan word nie. Vrede in die hart, vergenoegdheid, hoop en blydskap – en die verlossing van die mensdom – word slegs verkry deur Sy werk van geloof, liefde en genade.

English


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe moet 'n Christen se beskouing oor politiek wees?

Vind uit hoe om ...

Spandeer die ewigheid met God



Ontvang vergifnis van God