settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor Christelike bevestiging?

Antwoord


Bevestiging of aanneming is 'n sakrament of 'n plegtigheid wat in sommige denominasies voltrek word as 'n teken van iemand se geestelike volwassenheid. In sommige tradisies, gewoonlik Katoliek en Anglikaans, is die sakrament van bevestiging die ritueel, waar 'n jong persoon amptelik 'n gemeentelid word. Dit sluit soms die toebedeling van 'n "bevestigingsnaam" in van 'n heilige, wat dikwels as 'n tweede middelnaam gebruik word. Diegene wat aanneming in die kerk gebruik, glo dit beteken die inisiasie van die gedoopte persoon tot volle lidmaatskap en 'n persoonlike, volgroeide aanvaarding van die geloof. Katolieke en Anglikane erken dit as een van sewe sakramente.

Die Bybel praat egter nie oor sodanige ritueel nie. Die gedagte dat 'n persoon" bevestig" kan word na iets anders as wat hy/sy in die geloof is, word in die Skrif ontken. Elke individu moet vasstel wat die stand van sy/haar eie siel is, gebaseer op verskeie kriteria. Eerstens is ons verlossing deur die Heilige Gees bevestig, wat in ons harte woon. "Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is" (Rom 8:16). Wanneer ons Christus as Here en Verlosser aanneem, dan maak die Heilige Gees woning in ons harte en gee aan ons die versekering dat Hy teenwoordig is en dat ons aan Hom behoort. Hy leer en verduidelik ook geestelike dinge aan ons (1 Kor 2:13-14) en daarby bevestig Hy dat ons nuwe skepsels in Christus is (2 Kor 5:17).

Ons word ook in die geloof bevestig deur die getuienis van ons redding. 1 Joh 1:5-10 sê dat die getuienis van ons verlossing in ons lewens manifesteer: ons wandel in die Lig, ons praat die waarheid, ons bely ons sonde. Jakobus 2 maak dit duidelik dat die getuienis van geloof die werke is wat ons doen. Ons word nie deur ons werke gered nie, maar ons werke is die getuienis dat die reddende geloof in ons is. Jesus het gesê, "So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken"(Matt 7:20). Die geestelike vrugte wat in ons deur die Heilige Gees geproduseer word (Gal 5:22) is die bevestiging dat Hy binne-in ons woon.

Daar is aan ons gesê, "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie" (2 Kor 13:5). Petrus sê ook, "Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus" (2 Pet 10-11).

Die finale "bevestiging" van ons verlossing is natuurlik in die toekoms. Hulle wat waarlik Christene is, sal volhard tot die einde toe, "Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vasstaan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie" (1 Kor 1:7-8). Ons is geseël deur die belofte van die Heilige Gees, "Deur Christus het julle ook deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons Sy grootheid prys" (Ef 1:13-14). Dit is dan die werklike betekenis van bevestiging of aanneming — verlossing is gekoop deur die bloed van Christus in Wie ons glo, dit word deur ons wandel met Hom as getuienis uitgedra en is bevestig aan ons deur die Heilige Gees in ons.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor Christelike bevestiging?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries