Wat is die betekenis van Christelike aanbidding?


Vraag: "Wat is die betekenis van Christelike aanbidding?"

Antwoord:
Die Nuwe Testamentiese Griekse woord, meestal vertaal as "worship" (proskuneo), beteken "om neer te val voor" of "om neer te buig voor." Aanbidding is 'n optrede van die gees. Aangesien dit 'n innerlike individuele handeling is, aanbid Christene gedurig, sewe dae 'n week. Wanneer Christene formeel vergader in gesamentlike aanbidding, moet die klem steeds geplaas word op individuele aanbidding van die Here. Selfs as deel van 'n gemeente, behoort elke deelnemer bewus te wees van die feit dat hy/sy besig is om God te aanbid op 'n individuele wyse.

Die aard van Christelike aanbidding is van die binnekant na buite en het twee belangrike kwaliteite wat gelykstaan aan mekaar. Ons moet aanbid "deur die Gees en in waarheid" (Joh 4:23-24). Om deur die Gees te aanbid, het niks te doen met ons fisiese houding nie. Dit het te doen met ons diepste wese en vereis verskeie dinge. Eerstens moet ons wedergebore wees. Sonder dat die Heilige Gees in ons woon, kan ons nie in aanbidding met God kommunikeer nie, omdat ons Hom nie ken nie. "So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God" (1 Kor 2:11b). Die Heilige Gees binne-in ons is die Een wat aanbidding lewendig maak, want Hy is in wese in verering tot Homself en alle ware aanbidding is tot eer van God.

Tweedens vra aanbidding deur die Gees 'n verstand/denke wat rondom God gesentreer is en deur waarheid vernuwe is. Paulus vermaan ons "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe" (Rom 12:1b,2b). Slegs wanneer ons denke verander is deur nie op wêreldse dinge te fokus nie, maar op God, dan aanbid ons deur die Gees. Verwarrings van baie soorte kan ons denke oorspoel, terwyl ons besig is om God te loof en prys, en ons verhinder van ware aanbidding.

Derdens, kan ons slegs deur die Gees aanbid, deur 'n rein hart te hê – oop en berouvol. Toe koning Dawid se hart met skuldgevoel gevul was oor sy sonde met Batseba (2 Sam 11), was dit vir hom onmoontlik om te aanbid. Hy het gevoel dat God ver van hom was en hy het "heeldag om hulp geroep", terwyl hy God se swaar hand op hom gevoel het (Ps 32:3,4). Toe hy egter sy sonde bely het, was sy verhouding met God herstel en aanbidding en lofprysing het uit hom voortgevloei. Hy het verstaan dat die offer wat God wil hê, "verootmoediging" en "'n hart vol ootmoed en berou" is (Ps 51:17). Lofprysing en aanbidding teenoor God kan nie kom van harte wat met onbelyde sonde gevul is nie.

Die tweede kenmerk van ware aanbidding is dat dit "in waarheid" gedoen is. Alle aanbidding is 'n antwoord op waarheid en wat kan 'n beter standaard vir die waarheid wees as die Woord van God? Jesus het vir Sy Vader gesê, "U woord is die waarheid" (Joh 17:17b). Ps 119 sê, "U wet staan altyd vas" (vers 142b) en "Op U woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat" (vers 160a). Om God werklik te aanbid, moet ons verstaan wie Hy is en wat Hy gedoen het en die enigste plek waar Hy Homself volledig openbaar het, is in die Bybel. Aanbidding is 'n uitdrukking van lofprysing vanuit die dieptes van ons harte teenoor God, wat deur Sy Woord verstaan word.Indien ons nie die waarheid van die Bybel het nie, ken ons God nie en kan ons Hom nie waarlik aanbid nie.

Aangesien uitwendige aksies sekondêr in Christelike aanbidding is, is daar geen reël ten opsigte van sit, staan, neerval, stilwees of lofliedere hardop sing tydens gesamentlike aanbidding nie. Hierdie dinge moet besluit word, gebaseer op die aard van die gemeente. Die belangrikste ding is dat ons God deur die Gees (in ons harte) en in waarheid (in ons verstand) aanbid.

English


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die betekenis van Christelike aanbidding?