settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Charismatiese Beweging?

Antwoord


Die Charismatiese Beweging is 'n interdenominale Christelike hernuwingsbeweging en is een van die populêrste en vinnigste-groeiende magte in die hedendaagse Christelike wêreld. Die beweging se spore gaan terug na sy wortels in 1906, by die Azusa Street-bediening in Los Angeles, Kalifornië, 'n Metodis-ondersteunde herlewing. Dit was daar waar mense beweer het dat hulle deur die Heilige Gees gedoop is, op dieselfde wyse as gedurende die Pinksterviering in Handelinge 2. Mense wat in tale gepraat het en genesingswonders gedoen het, het ander tot 'n geestelike waansin gedryf. Diegene wat daardie byeenkomste bygewoon het, het hul entoesiasme regdeur die Verenigde State versprei en het die Pinkster/Charismatiese Beweging begin.

In die vroeë 1970's het die beweging na Europa versprei en gedurende die 1980's het dit uitgebrei met 'n hoeveelheid nuwe denominasies wat daaruit voortgevloei het. Dit is nie ongewoon om die invloed daarvan in baie ander denominasies soos die Baptiste, Anglikane en Lutherane, sowel as nie-denominale kerke te sien nie.

Die beweging kry sy naam vanaf die Griekse woorde "charis", wat die Engelse betekenis is van die Griekse woord vir "genade" en "mata" is die Griekse woord met die betekenis "gawes." Charismata beteken dan "genadegawes." Dit plaas die klem op die manifestasies van die gawes van die Heilige Gees as 'n teken van die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Hierdie gawes staan ook bekend sd die Bybelse "charisms" of geestelike gawes, wat veronderstel is om 'n individuele invloed of outoriteit aan groot hoeveelhede mense te gee. Die hoofgawes onder hierdie "charisms" is om in tale te spreek en te profeteer. Charismate is van mening dat die manifestasies van die Heilige Gees wat aan diegene van die eerste-eeuse kerk gegee is, steeds vandag nog beleef en beoefen word.

Die Charismatiese Beweging is veral bekend vir die aanvaarding van spreek in tale (ook bekend as "glossolalia"), goddelike genesing en profesieë as getuienis van die Heilige Gees. Die meeste byeenkomste is om te bid en geestelike sang, dans en uitroepe "in die Gees" te beoefen, asook die omhoog lig van hande en arms in gebed. Die siekes word ook dikwels met olie gesalf as deel van die aanbiddingsdiens. Hierdie is die hoofredes vir die beweging se groei en populariteit. Alhoewel groei en populariteit sekerlik begeer word, kan dit nie gebruik word as 'n toets vir die waarheid nie.

Die vraag bly nog steeds: "Is die Charismatiese beweging Skriftuurlik?" Die beste antwoord is: Ons weet dat sedert die skepping van die mens die Satan se slu en meesterlike plan doodgewoon was om 'n skeiding tussen God se kinders en God se onfeilbare Woord te bewerkstellig. Dit het in die Tuin van Eden begin, toe die slang vir Eva gevra het, "Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?" (Gen 3:1). Dit het twyfel laat ontstaan ten opsigte van die outoriteit en betroubaarheid van wat God gesê het. Van daardie dag af aan gaan hy voort om die onfeilbaarheid en toereikendheid van die Bybel aan te val. Ons weet sonder twyfel dat Satan die botoon voer met sy strategie (1 Pet 5:8).

Deesdae neem ons 'n groeiende bedreiging van demoniese aktiwiteit waar in die sfeer van die bonatuurlike. Waar Satan nie daarin slaag om die Bybel van ons weg te neem nie, werk hy hard om ons van die Bybel weg te skeur. Hy doen dit doodeenvoudig deur Christene sover te kry om hul fokus te plaas op mans en vroue, wat aanspraak maak op sommige bonatuurlike gebeurtenisse. Dit is egter so dat hulle wat andere se belewenisse najaag, nie tyd of belangstelling het om die Skrif te ondersoek vir God se waarhede nie.

Daar is geen ontkenning dat God wonderwerke doen nie. Sommige van wat in die Charismatiese Beweging plaasvind, kan net sowel 'n ware werk van die Heilige Gees wees. Die dieper waarheid is egter dit: die Liggaam van Christus het nie nuwe apostels nodig nie, ook nie nuwe geloofsgenesers of self-ontwerpte wonderwerkers nie. Wat die Kerk nodig het, is om terug te keer na die Woord van God en aanspraak te maak op die hele raadsplan van God in die krag en liefde van die Heilige Gees.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Charismatiese Beweging?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries