settings icon
share icon
Vraag

Wat is Bybelse numerologie?

Antwoord


Bybelse numerologie is die studie van getalle in die Bybel. Twee van die getalle wat die meeste in die Bybel herhaal word, is 7 en 40. Die getal 7 dui op voltooiing of volmaaktheid (Gen 7:2-4; Openbaring 1:20). Dit word dikwels "God se getal" genoem, aangesien Hy die enigste Een is wat volmaak is (Openbaring 4:5; 5:1, 5-6). Die getal 3 word ook gesien as die getal vir goddelike volmaaktheid: die Drieëenheid bestaan uit die Vader, Seun en Heilige Gees.

Die getal 40 word dikwels verstaan as die getal vir: "op die proef stel of toets."Byvoorbeeld, die Israeliete het vir 40 jaar deur die woestyn getrek (Deut 8:2-5); Moses was vir 40 dae op die berg Sinai (Eks 24:18); Jona het Nineve gewaarsku dat oordeel na 40 dae sou plaasvind (Jona 3:4); Jesus was vir 40 dae versoek (Matt 4:2); daar was 40 dae tussen Jesus se opstanding en hemelvaart (Hand 1:3). 'n Ander getal wat in die Bybel herhaal word, is 4 en dit is die getal vir skepping: noord, suid, oos, wes; 4 seisoene. Die getal 6 word gesien as die getal vir die mens: die mens was op die sesde dag geskep; die mens werk net 6 dae. 'n Ander voorbeeld waar 'n getal gebruik word om iets van betekenis uit te lig, is in Openbaring 13, waar gesê word dat die getal vir die Antichris 666 is.

Of die getalle regtig betekenis het of nie, is steeds debatteerbaar. Dit lyk asof die Bybel definitief getalle in patrone gebruik of om geestelike waarheid te leer. Tog lees baie mense té veel in "Bybelse numerologie," om te probeer om 'n spesifieke betekenis agter elke Bybelse getal te vind. Dikwels is 'n getal in die Bybel net bloot 'n getal. God roep ons nie om vir geheime betekenisse, versteekte boodskappe of kodes in die Bybel te soek nie. Daar is meer as genoeg waarheid in die Skrif om al ons behoeftes te bevredig en om ons "in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk" (2 Tim 3:16-17).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is Bybelse numerologie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries